Die amptelike persverklaring wat hieronder ingesluit word, is nie 'n nuusberig deur Kerkbode nie. Die persverklaring word in sy geheel hier gepubliseer vir die rekord en ter wille van lidmate se vrye toegang tot amptelike inligting in die kerk.
Ds Jan Lubbe, voorsitter van die Moderamen van die NG Kerk Vrystaat, doen in die onderstaande brief ’n beroep op NG gemeentes in die streek om Sondag 7 Augustus “in eredienste ruimte te maak vir gebed vir ons landstreek en vir al haar mense in hierdie tyd.”
‘n Oproep tot gemeentes en bemoediging …
Geliefdes in Christus, ons Here:
Ons het ná die verskriklike gebeure op ‘n plaas by Kestell – maar ook in die lig van geweld en groeiende vrees elders in gemeenskappe regdeur die Vrystaat – as Interimkomitee met ons broers en susters in die familie van NG Kerke in die Vrystaat en die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK Vrystaat) geskakel. Ons het opnuut onder die indruk gekom van hoe weerloos baie van ons mense in hierdie landstreek geword het en in ‘n put van moedeloosheid wegsink.
Ons wil jul daarom bemoedig en herinner dat juis in sulke tye God naby ons almal bly, dié versekering in sy Woord dat Hy ons roepstem hoor –
“Hy wat trou bly tot in ewigheid, wat die reg van verdruktes handhaaf,
aan hongeres brood gee; die Here rig dié op wat terneergedruk is.
Die Here het die regverdiges lief; die Here beskerm vreemdelinge;
vaderloses en weduwees help Hy op, maar die pad van goddeloses maak Hy krom.
Die Here sal vir ewig regeer!
Prys die Here!” (Psalm 146:6-10)
Hieronder vind jul daarom ‘n verklaring van die SARK Vrystaat waaraan ons meegeskryf het. Dit word vandag wyd versprei na leiers in ons gemeenskappe, die media en hiermee ook na julle as gemeentes. Gee dit asseblief deur na lidmate en diegene wat ons kan help om ‘n verskil te maak daar in jul plaaslike gemeenskap.
Aan die einde van die brief, sal jul merk dat ons gemeentes versoek om eerskomende Sondag, 7 Augustus, in eredienste ruimte te maak vir gebed vir ons landstreek en vir al haar mense in hierdie tyd.
En dan derdens, ons is ook besig om saam met die SARK Vrystaat ‘n ontmoeting met die provinsiale regering en die SAPD te reël ten einde ons kommer oor te dra, na oplossings vir die situasie te soek en ons hulp aan te bied om daar waar die Here ons geroep het en laat leef – in elke buurt of dorp of plaaswyk – ‘n wending ten goede vir almal te bewerkstellig.
Mag die Here ons gebede hoor, ons kragte versterk en ons met vrede seen.
Ds. Jan Lubbe
Voorsitter: Moderamen van die NG Kerk Vrystaat
[aesop_document type=”pdf” src=”https://kerkbode.christians.co.za/wp-content/uploads/sites/2/2022/08/SACC-Free-State-Statement-on-violence-in-our-country.pdf” download=”off”]
