Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
Ek hoor gereeld hoe mense negatief praat oor die politieke situasie van ons land. Dikwels is dit ongelukkig met goeie rede. Ons kan enige dag net ’n koerant oopmaak en lees oor korrupsie, geweld, bendes en ander probleme wat hierdie koffietafelgesprekke aanmoedig.
Tog, toe ek my Facebook-blad oopmaak op 3 Augustus (Stemdag) sien ek hoe talle van hierdie mense baie trots aandui dat hulle hul kruisie getrek het.
Ek het begin wonder oor hierdie skynbare teenstrydigheid om negatief te voel teenoor die politieke atmosfeer in ons land en tog met groot vreugde deel te neem daaraan deur te stem. Ná my gewonder, waag ek ’n antwoord: hoop.
[aesop_character img=”https://kerkbode.christians.co.za/wp-content/uploads/sites/2/2016/08/Elzanne.jpeg” caption=”Elzanne van der Westhuizen is ‘n proponent en betrokke by die NG gemeente Stellenberg.” align=”right” width=”270px” force_circle=”off”]
Wanneer die alledaagse bestuur van die land oorgelaat word aan die politici en dinge soms skeefloop, voel ons magteloos. Die geleentheid om te kan deelneem daaraan, gee egter vir mense iets wat hulle laat dink dat dinge dalk kan verander: hoop. Al is dit net vir een dag …
Hoop is deel van die kern van die evangelie-boodskap wat ons as kerk van Christus verkondig, maar besef ons hóé ’n kragtige konsep dit regtig is in ’n mens se lewe?
Ek was aangenaam verras toe professor in politieke wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch, Amanda Gouws, in ’n aanbieding aan kerkleiers gesê het dat, volgens studies, die kerk die institusie in Suid-Afrika is waarin mense nog die meeste vertroue plaas.
Ek kan onthou dat ek gewonder het op daardie oomblik: “Hoekom?”
Maar ek het die afgelope skoolvakansie op ’n uitreik in Leeu-Gamka met die sing van ’n kinderliedjie besef wat dit is: “Kom gooi ’n bietjie hoop want die wêreld is so droog.”
In hierdie eenvoudige verklaring van wat ons glo aan kinders in omstandighede van armoede, het ek besef dat dít die rede is dat mense nog kyk na die kerk in omstandighede van korrupsie en misdaad. Die kerk verkondig hoop. Dit is ’n hoop wat groter is as enige omstandighede. ’n Hoop wat nie net vasgevang is in die institusie van die kerk nie, maar lééf deur die liggaam van Christus. ’n Hoop wat nie beperk is tot wat mense doen en in staat is om te doen nie, maar slegs beperk is tot wat die almagtige God kan doen.
Ek wil dít graag sien as die uitdaging vir elkeen van ons wat onsself sien as ’n lidmaat van die liggaam van Christus – as deel van die kerk: om hoop te verkondig en te lééf elke dag!