Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Appèl of nie appèl nie?

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Dr Michiel Botha (emeritus-leraar) skryf:

Ek het Reglement 19 weer baie goed gaan bekyk en op grond van wat in die sinode se eie reëlings staan, meen ek dat daar nie deur enige iemand (nie ’n lidmaat nie en ook nie ’n kerkvergadering nie) ’n appèl na ’n besluit van die Algemene Sinode kan wees nie.

In 1.1.2 van Reglement 19 staan duidelik wat ’n appèl of beswaar beteken, naamlik: ’n beroep op ’n meerdere vergadering wanneer ’n lidmaat en/of kerkvergadering verontreg voel oor ’n mindere kerkvergadering se besluit.

Die Algemene Sinode as meerdere vergadering is dus die eindpunt vir ’n appèl. (Terwyl die Algemene Sinode nog in sitting was, sou daar vir ’n beswaarde lid van die vergadering ruimte gewees het vir revisie wat langs voorgeskrewe weg hanteer kon word. Maar nou is die besluit geneem en die vergadering is reeds afgeloop. Nou is daar geen ruimte vir revisie nie, en daar is geen “hoër” liggaam wat kan dien as liggaam vir appèl nie.)

Binne die kerk is daar dus net een verdere pad vir enige beswaarde, wie se beswaar teen ’n besluit van die Algemene Sinode is, en dit is die weg van ’n gravamen, soos in 1.1.3 aangedui word, en ook in punt 7 van die reglement. 

Dit sou tog absurd wees om besluite van die Algemene Sinode so tot halt te laat roep deur ’n appèl. As dit wel so sou deurgaan, sal dit ’n presedent skep wat in die toekoms tot gevolg sal hê dat meer besluite so onuitvoerbaar gemaak sal word.

Ten minste behoort die besluit om die beswaar van beswaardes as appèl te hanteer, herroep te word, en die weg van ’n gravamen of beswaarskrif (wisselterme) na die volgende gewone vergadering van die Algemene Sinode vir hulle aangedui word as enigste kerklike opsie wat hulle sou hê. Die kerk se geloofwaardigheid durf nie langer op die spel ge-plaas te word nie.


Lesers kan briewe rig aan Die Redakteur, Kerkbode en dit na kerkbode@tydskrifte.co.za stuur. Korter briewe, verkieslik nie langer as 300 woorde nie, geniet voorkeur by plasing. Briewe sal redaksioneel versorg word en kan ook verkort word.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top