Hy was nie voorbereid op die emosie wat hom getref het nie. Hy het gehuil, vertel Willem Schoeman, leraar van die NG Kerk in Zambië, oor sy onlangse besoek aan die sendingstasie Alheit in Zimbabwe. Dit is een van twee sendingstasies waar sy oupa, wyle prof Willie van der Merwe, sendeling was in die tyd toe Zimbabwe nog Rhodesië genoem is. Die ander een is Morgenster, maar dit is op Alheit waar sy grootouers se oudste seuntjie op ses begrawe is. Hy skryf so hieroor:
Na die afgelope ringsitting van die Ring van Midde-Afrika op Harare het ek die geleentheid gebruik om twee sendingstasies te besoek waar my oupa, prof Willie van der Merwe, sendeling was.
’n Graffie op Alheit en ’n koor wat pryse wen
Alheit Mission lê omtrent 60 km oos van die dorpie Gutu op ’n pad waarvan die laaste stuk baie slegte sinkplaatpad is. My oupa was daar sendeling vanaf 1934 tot 1942. Gedurende die tyd het hy sy eersgebore seuntjie, ook Willie van der Merwe, aan malaria verloor. Ek wou graag die plek besoek juis om die graffie te sien.
Dit was ’n moeilike grondpad tot by Alheit, maar daar gekom het die nuwe leraarspaar, rev Sheila en Romeo Makanhaira, my hartlik ontvang. Sy is leraar by die plaaslike Reformed Church of Zimbabwe (RCZ) en hy is onderwyser by Alheit Mission Secondary School.

Lees ook: Die rol wat die kerk speel in die verhouding tussen die Christelike geloof en kultuur
Hulle het my geneem na ’n graffie agter die kerkgebou. Niks kon my voorberei op die vloed van emosie wat my sou tref die oomblik toe ek die woorde op die grafsteentjie lees nie. Die een oomblik was ek maar net by nog ’n kerkie op nog ’n plekkie êrens in Afrika … en die volgende oomblik besef ek die naam op die steen is my eie familie. Vlees van my vlees en bloed van my bloed. Vir ’n tyd lank het ek daar gestaan en huil saam met my oupa en ouma wat ’n jong seuntjie verloor het en my ma wat ’n boetie op ’n sandvlakte van Afrika moes agterlaat. Onder aan die grafsteen staan die teksvers Johannes 11 vers 25 in Shona. In Afrikaans lees dit soos volg:
Toe sê Jesus vir haar: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook.
Dit was in hierdie wêreld wat my oupa die bekende Sendinglied geskryf het.
Ek wil sing van Jesus liefde, van sy hart vol medely –
liefde vir verlore siele, van sy liefde ook vir my.
Jesus liefde laat my heengaan na ’n heidenland so groot,
om te ly, te stry, te sterwe, want dis sterker as die dood.
Die leraarspaar het my toe die skool gaan wys. Van ver af kon ek hoor hoe die skoolkoor oefen. Die koor het toe pas teruggekom van ’n kompetisie waarin kore vanuit die hele Zimbabwe deelgeneem het. Hulle het die eerste prys gewen! En dit was die tweede jaar na mekaar wat hulle eerste prys gekry het! Hulle het ook die algemene vasvrakompetisie gewen, wat wys dat hulle goeie algemene kennis het. Hulle het my ook aan die skoolhoof, Bernard Tagutanazvo, en sy vrou, Yanano, voorgestel.

Morgenster
Volgende op my toerprogram was om die bekende sendingstasie Morgenster te besoek waar my oupa later gedien het. My lewe lank het ek net ’n vae konsep van die plek gehad en skielik word dit werklik en konkreet. Dit is moeilik om die ervaring in woorde te beskryf.
Ek het gewonder of dit ’n soortgelyke ervaring sal wees as ons eendag die strate van die Nuwe Jerusalem betree. Morgenster was groter, mooier en meer romanties as wat ek verwag het. Dit is soos ’n hele dorp met ’n kerk, teologiese opleidingskool, onderwyserskollege, hospitaal, skool vir Dowes, kleuterskool, laerskool, hoërskool en nog vele ander wonings.
Ek het nooit besef dit is so groot nie! Maar die sigbare geboue is maar net die tippie van die ysberg van die geestelike stene wat hier gelê is. Hoeveel lewens is nie aangeraak nie – siele gered, bekeerlinge gedoop, predikante en onderwysers opgelei, siekes genees en Dowes ’n nuwe lewe gegee nie!
Die plek het ook ’n soete bekoring. Morgenster is op ’n koppie geleë en die paadjie daarheen kronkel tussen groot granietklippe en groen bome deur. Oral staan pragtige geboue. Voortdurend hoor ek hoe kore oefen in die kerkgebou of een van die ander sale. Die Shonas mag maar sing! Dit klink soos engelkore.

Daar is ook die bekende Vingerrots met die teksvers: Daar is geen Rots soos ons God nie!
Die volgende dag was dit skielik mistig en reënerig. Tipiese “gutu” weer soos die mense van Morgenster dit beskryf. Dr Rangarirai Rutoro, wat klas gee by die teologiese opleidingskool, het my vir ete genooi. Ons het ’n diep gesprek gehad oor die mooi herinneringe en die nuwe uitdagings wat die RCZ vandag die hoof moet bied. Hy het gesê ek is altyd welkom om weer te kom kuier. Teen die muur van die gastehuis waar ek gebly het, is ’n aansteekbord en teen die aansteekbord is die teksvers 2 Petrus 1 vers 19 in Engels.
In die 2020 Afrikaanse vertaling lees dit soos volg: “En daarom beskik ons oor die profetiese woord, wat nog vaster staan. Julle doen die regte ding as julle daarop fokus, soos ’n lamp wat op ’n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in julle harte.”
Dit is waar die naam Morgenster vandaan kom. Deur genade van bo het die Môrester hier in baie harte opgekom.

Dankie vir die aangrypende skrywe, Willem. Jou ouers sou dit ook baie treffend gevind het. Daar is soveel kindergrafte en sendelinggrafte in Afrika, maar die evangelie is gedeel met baie.