Gesonde kategese gebeur nie toevallig nie — dit word gekweek. In sommige gevalle met groot moeite en passie. Gemeente leiers vorm die kultuur deur duidelike leiding en konsekwente praktyke wat getuig daarvan dat kategese belangrik is, skryf Francois Lamprecht in hierdie derde aflewering van hierdie reeks oor kategese.
Hier is ’n paar gedagtes wat jou gemeente kan help besin oor kategese:
1) Wat is effektiewe kategese?
Wat moet ons meet wanneer dit by kategese kom? Sukses is nie getalle nie, maar eerder groei en diepte. Om dit te meet kyk uit vir:
- Ritme: Is kategese deel van gemeente kinders en gesinne se lewens? Verstaan ouers dat dit ’n normale deel van ’n gelowige se lewe is eerder as iets ongeriefliks wat hulle nou en dan moet doen?
- Betrokkenheid: Is ouers bewus van kategese, wat daar gebeur en die mate waartoe hul kinders betrokke is?
- Deelname: Word daar in die groep gepraat, geluister, gebid en toegepas deur almal eerder as net een of twee sterk stemme?
- Begrip: Kan kinders die les se kern in eie woorde weergee by die huis?
- Groei: Groei kinders in hul verhouding met God deur die loop van ’n jaar? Kan jy sien dat hulle begrip van God, die manier waarop hulle bid en hul toewyding aan Hom verdiep?
- Oordrag: Is dit wat in kategese gebeur iets waarmee ’n kind met ’n maat sal praat in die week?
As jou gemeente hierdie 6 eienskappe meet het jy ’n redelike barometer van die gesondheid van jou kategese. Geen gemeente gaan volpunte vir almal kry nie, maar ons wil dit sien groei in die regte rigting.
2) Die dissipline van ouers.
Ouers is medeleiers van die proses. Gesonde kategese in onmoontlik sonder betrokke ouers. Maak seker hulle verstaan wat die gemeente van hulle verwag:
- Dat kinders opdaag by kategese. Onthou, as ’n ouer sê hulle kan nie hulle kind kry om kategese toe te gaan nie, dis nie die gemeente se verantwoordelikheid nie, dis deel van ouers se doop belofte dat hulle hul kind sal laat onderrig oor Jesus. Moet nooit van die gemeente se kant af verantwoordelikheid aanvaar om kategese “lekker” genoeg te maak sodat kinders uit eie keuse sal kom nie. Hulle moet kom omdat ouers hul rol inneem.
- Om te reageer op kommunikasie. Vestig van dag een af met ouers die verwagting dat hulle kommunikeer met die gemeente, leiers, mentor en dat hulle reageer op boodskappe oor kategese.
- Om te kommunikeer in die huis oor kategese. Die verwagting is nie dat ouers van elke kategese les ‘n Bybelstudie met hul kinders gaan maak nie. Maak net ’n punt daarvan om met die kinders ‘n gesprek te hê oor wat gebeur het in kategese vandag. (Iets wat lekker werk is om vir ouers op ‘n Sondag na kerk ’n kort boodskap te stuur oor die tema van die week se kategese sodat hulle met hul kinders kan gesels daaroor.)
Wat gebeur as ouers glad nie betrokke is nie? As vriendelike boodskappe op dowe ore val moet die gemeente werk maak daarvan deur ‘n predikant of ouderling wat uitreik na die ouers. ’n Positiewe gesprek oor die belangrikheid van kategese en ’n herinnering aan hul doop belofte doen wondere.
3) ’n Verwagting van bywoning.
Laat die gemeente ’n amptelike beleid vorm oor bywoning van kategese. Klink dit intens? Dit hoef nie negatief te wees nie, die doel is juis om die erns van kategese te bevestig. Onthou wat op die spel is- om kinders in ‘n standvastige verhouding met God te help groei. Dis ‘n integrale deel van elke gemeente se verantwoordelikheid, soos wat dit ook elke ouer se verantwoordelikheid is. Dink eenvoudig en duidelik soos:
- Ons gemeente verwag van elke kind om ten minste 80% van ‘n jaar se kategese byeenkomstes by te woon. (Onthou dis 80% van kategese Sondae, so dis maar iets in die lyn van 23 Sondae per jaar!)
- Indien daar ‘n geldige rede is (bv. siekte) kommunikeer ouers asseblief vroegtydig met die leier.
Die boodskap wat die gemeente stuur hiermee moet altyd bevestig dat ons jou kind wil help om hul lewe te bou op Jesus, daarom is dit belangrik vir ons. Die gemeente is die ouers se vennote in hul kinders se lewe. (Ons is nie kwaai nie, help ons net om jou kind te help!)
’n Gesonde kultuur skram nie weg van moeilike gesprekke nie. Onthou die doel is nie om populêr by elke ouer te wees nie, dis om die ware lewe te bedien aan elke kind.
Wanneer ’n gemeente werk aan so ’n kultuur is die effek op kinders se verhouding met God byna tasbaar! Jou kinders gaan baie meer sin kry uit kategese en jou leiers gaan met baie meer passie en vreugde bedien.

Dit help natuurlik om kategese materiaal te hê wat so ’n kultuur ondersteun. LigApp Kategese maak dit maklik deurdat leiers kan sien tot hoe ’n mate kinders ‘n les deurwerk, verslae direk aan ouers kan stuur en seker maak dat kinders betrokke is by kategese. Dit gee aan ’n gemeente al die gereedskap wat hul benodig om kinders en ouers te help om werklik te groei.
Vir meer inligting oor LigApp Kategese gaan na www.ligapp.co.za
Ds Lamprecht is leraar by Pellissier Gemeente in Bloemfontein
