Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Dr Rudolph Scharneck van Rawsonville skryf: Ons gesin het in die Aprilvakansie die Tuinroete besoek en ’n klompie nagte in Wildernis gekamp. Ek het as predikant die behoefte gehad om vir ’n verandering ’n erediens by te woon as gewone lidmaat. Die naaste NG gemeente aan ons was Die Vleie-gemeente in Hoekwil. Op Palmsondag ry ons om 08:30 in die pragtige dorpie in en soek vir die kerk wat heel maklik is om te vind langs die kafee. Buite die kafee staan ’n bord wat jou lus maak om eerder daar in te gaan, want op die bord word jy verlei met die vraag: Hoeveel koekwil jy eet in Hoekwil? Ons hou eerder verby, bang ons mis die diens en ry in by die kerkterrein.
LEES OOK: Brief | Oor Trump en die pous: ‘Niemand kan God se oorlog met mensgemaakte wapens veg nie’
Met die instap word ons hartlik ontvang deur glimlaggende mense. Binne hoor ons die musiekspan oefen, gemaklik met baie lag. Geen duur toerusting of groot vermaak nie. Net ’n paar mense wat hulle talente saam inspan tot eer van die Here. Die kerkgebou met sy interessante kansel wat soos ’n visserskuit lyk raak gou vol. Om 09:00 begin musiek speel, ’n klompie kinders kom met wuiwende palmtakke in die gange af en vul die liturgiese ruimte. Die lofprysingspan sit ’n lied in en die gemeente sing uit volle bors saam. Ons hoor van ’n Paasuitvoering, stasies van die kruis wat die week in die portaal gaan wees, waarmee die gemeente alles besig is. Ds Dawie le Roux gesels uit die Woord. Na die tyd kom gesels nog mense.
Op Goeie Vrydag is ons weer daar. Ons sing heerlik saam, liedere oor genade. Ons luister na hoe ds Dawie praat oor die Here se genade waaroor ons altyd in verwondering moet bly, gebruik saam Nagmaal, dink aan Christus se offer vir ons. Dit voel byna klaar asof ons al lank in die gemeente is. Ek besef opnuut jy het nie die beste en duurste toerusting of die mees professionele musikante of honderde mense nodig om regtig kerk te wees nie. Al wat nodig is, is ’n klompie mense wat saamkom met die diep begeerte om die Here, mekaar en die wêreld te dien. Ek besef ook opnuut wat om te antwoord as iemand my weer vra hoe dit met die kerk gaan: Dit gaan goed, sommer baie goed.

Rudolph, dankie vir die mooi herinnering. Waardeer.