Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Van die ‘groen’ kantlyn: Die water- en kragrekening van jou ‘gratis’ ChatGPT-geselsie

Geborg

Hierdie is 'n rubriek. Die opinies van skrywer weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Het jy geweet elke ChatGPT-geselsie wat jy aanknoop, verbruik water en elektrisiteit? ’n Gesprek van so 10-50 vrae verbruik glo ongeveer 500 ml water. Dit klink miskien na min tot mens ook dink aan die miljoene mense wêreldwyd wat elke dag kunsmatige intelligensie-kletsbots soos ChatGPT gebruik.

Agter hierdie flink en ywerige helpers se hoëspoed energie sit reusedatasentrums, gevul met duisende rekenaars wat heeltyd koel gehou moet word met derduisende liter water. Hulle kragverbruik kan soveel wees as wat ’n groot voorstad of kleinerige dorp gebruik. Planne is goedgekeur vir twee hiperskaal-datasentrums (groot genoeg om KI-programme op dreef te hou) op ’n gewese gholfbaan so paar kilometer van Kaapstad se internasionale lughawe. Die geskatte kragverbruik daarvan word aangedui as 160MW het Daily Maverick op 21 Julie berig. Die joernalis skryf dit is genoeg krag om 15 000 huishoudings aan die gang te hou. Dink redelike grote dorp of voorstad.

Hierdie kraghonger en dorstige behoeftes wek by al meer mense kommer soos wat hierdie massiewe datasentrums wêreldwyd soos paddastoele opskiet. Die Verenigde Nasies het in ’n onlangse verslag gewaarsku die geskatte waterverbruik van al hierdie datasentrums in die wêreld kan teen 2030 soveel as 9.3 triljoen liter water per jaar wees. Hulle stel dit gelyk aan die hoeveelheid water wat so 1.3 miljard mense per jaar nodig het – amper genoeg vir almal in China.

Meeste van die KI-datasentrums is in die VSA. Die aanbou van nóg sentrums is een van die min kwessies wat mense in daardie gepolariseerde land saamsnoer, het Reuters op 18 Julie vanjaar berig. 

Op die webblad Brockovich AI Data Center Reporting van die bekende omgewingsaktivis, Erin Brockovich,  lees mens daar is blykbaar al 33 van hierdie datasentrums wat in hierdie land operasioneel is sowel as 66 wat nog onder konstruksie is. Dan is daar nog so 44 glo wat sy van weet wat beplan word (sien onder kaart met statistieke van datasentrums soos gesien op haar webblad op 24 Julie vanjaar).

Dit is op haar webblad wat ek die interessante feit oor die geskatte waterverbruik oor die waterverbruik van KI-kletsbotte raakgesien  het. 

Die naam Erin Brockovich mag vir sommige bekend klink. Dit is die einste Erin wat deur Julia Roberts meer as 25 jaar terug in eina minirompies en gewaagde toppies uitgebeeld is in die Oscar-bekroonde film met haar naam, Erin Brockovich. Die film is gegrond om die ware verhaal van hoe Erin, toe ’n jong enkelma sonder enigiets agter haar naam, saam met ’n klein regsfirma ’n groot maatskappy hof toe gevat het omdat hulle mense se drinkwater met afvalstowwe vergiftig het wat naby een van hulle fabrieke bly. Erin-hulle het gewen.

Erin is nou 65 en van wat mens van haar kan sien op Google lyk sy veel meer besadig as haar film-beeld. Maar sy is steeds netso vurig. Sedert sy haar webblad begin het, het sy al meer as 8 000 verslae van regoor die VSA oor KI-verwante datasentrums ontvang. Dit kom nie voor asof Erin teen die bou van datasentrums is nie, maar sy stel dit duidelik dat hierdie industrie, een van die rykste en snelgroeiendste in die wêreld, dringend moet kyk na die instel van volhoubare praktyke wat veilig en doeltreffend is.

Intussen het vele state en stede in die VSA moratoriums begin stel op die bou van nog datasentrums. 

Dit laat my wonder … as die tegnologiereuse nie in die VSA regkom nie, lyk ’n armer kontinent soos Afrika dan nie juis aanloklik nie. Dit kom juis uit die DM-berig voor asof die ontwikkelaars dit blykbaar reggekry het om hulle planne in die Kaap goedgekeur te kry sonder dat behoorlike omgewingstudies gedoen is.

Dit maak mens bekommerd. 

Kaapstad se Dag Zero-vrese van 2018 is nog varserig in die geheue. Ons moet ook wakker wees …

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Gesels saam

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Scroll to Top