Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Uit my Kerkdagboek | Jan Lubbe: Omdat ín ons Agonie, dit Advent word!

Geborg

Hierdie is 'n rubriek. Die opinies van skrywer weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Agonie. Dit is ’n sterk vertaling vir die Engelse woord “anguish”. Maar dít is die diepte van die bestaanskrisis waarin miljoene Suid-Afrikaners wat geen ander heenkome het, hulle tans bevind, kórt voor die verkiesing en met Agoa en El Nino en wat nog alles óp ons, skryf Jan Lubbe.

 

Byna elke jaar met Paasnaweek, lees ek dié gedig van Sheila Cussons weer: “Die vlieë” (1978). Soms die Donderdagaand as die kerkgebou verdonker is en ons nog by die Nagmaalstafel sit, want só begin dit: “Die vlieë vryf hul handjies joods / kletserig in hul skik / tussen die pasga-reste / van my wyn en my brood.” Maar meestal eerder in daardie gestroopte oomblikke Vrydagoggend, wanneer die tekste klaar gelees is oor die geweld op Golgota, en die hamerslae verstil en asof verdwaas ons die naderende dood instaar: “O vlieë van Galilea / op die oë van blindes, melaatses / en op sy helende hande / en tussen die klewerige dorings. / As jy die jode se koning is / kom dan áf van die kruis! / maar iets gons in sy Agonie / hou moed, soet Jesus, hou moed.” Dáár is die hoofletterwoord waaroor ek wil skryf, weliswaar hier in “Oktober, die mooiste, mooiste maand” (Leipoldt).

LEES OOK: Uit my Kerkdagboek: Jan Lubbe: “Jesus, U is hier …”

Die huiwerige oorgang vanjaar van winter na lente na somer, het saamgeval met die Joodse Huttefees – die “Sukkot”, wanneer ou Israel volgens voorskrif in Levitikus 23, sewe dae lank elke gesin in die buitelug onder ’n takskerm moes woon, blootgestel en byna weerloos, ter herinnering aan die bevrydingstog uit Egipte en verby Sinaï toe God vir hulle gesorg het, met die net genoeg vir elke dag. In die “Sukkot” was daar wel ook elemente van ’n Oesfees; ’n dankbare viering van God se sorg op die landerye en veekrale later in die Beloofde Land. En, daar is óók in “Sukkot” verwys na die Tabernakelfees, ’n bevestiging dat God teenwoordig was, bý hulle, net dáár stapafstand buitekant die kamp, by die Tent van Ontmoeting. Daar waar Moses alleen ingegaan het om te gaan hoor, “die Here het met Moses gepraat soos ’n man met sy vriend” (Eksodus 33:11). Nog één betekenislaag: Daar is ’n Huttefeesdag verwag, eendag vorentoe, wanneer God self sou kom tentopslaan tússen sy mense, alles heilig en tot eindelike rus bring (Sagaria 14). Vleesgeword, in die Johannese Grieks gestel (Johannes 1:14). En net nog dít: 7 Oktober 2023 was die Sabbat ná die “Sukkot” geëindig het, die vorige dag. Agonie.

LEES OOK | Uit my Kerkdagboek: Jan Lubbe: Op die vooraand van PredikanteSAAMkoms, ’n Gebed vir Goudini

Tydens vanjaar se Huttefees was ek bevoorreg om ons land en mense te sien. Die landskap lyk ná die reën, mooi. Gemeentes het verjaar en sinodes het vergader; konferensies oor eenheid én oor skeuring. In die Parlementstent in Kaapstad het Christene met ’n charismatiese spiritualiteit saamgekom vir ’n Nasionale Dag van Gebed met die oog op die komende verkiesing; om te vra vir ’n morele herlewing. Ramshorings is geblaas, sonde bely, in tale gebid. Die NG Kerk is gevra om te kom vertel van Andrew Murray en die 1860-herlewing (die vreugdes, teleurstelling én latere vertolking: “Let all teachers of holiness, whether in the pulpit or on the platform, and all seekers after holiness, whether in the closet or the convention, take warning. There is no pride so dangerous, none so subtle and insidious, as the pride of holiness. Pride must die in you …” – AM, 1885).

Die week daarná, die Algemene Sinode van die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika in Maseru: ’n Dankbare, maar ook selfondersoekende herdenking van die Belydenis van Belhar se aanvaarding, veertig jaar gelede (1986). Hulle tema: “Be the salt and the light of the world.” Ja, die VGKSA lê inderdaad uitgestrek in gemeentes ván Lesotho tot Namibië, die Kaap tot diep Limpopo. Hulle kén onderlinge spanning, beslis, én die daaglikse lewenstryd. Maar in hulle nuwe moderatuur is daar ’n verskeidenheid vergestalt, die “eenheid en versoening” waarvan Belhar praat. En toe almal die Woensdagaand by die “Cultural Celebration” vrolik begin sing en dans het ek gewonder wat “ons Afrikaanses” sou bydra, totdat die Kaapse afgevaardigdes lostrek met “Daar kom die Alibama” en die vrolike ritme ons voete beetpak! Dít is hoe dit lyk wanneer gewone mense mekaar aanvaar, insluit, saam bly kan wees …

Want, die kontras, die volgende oggend – die Donderdag in Gauteng (ek moes ná ‘n kort nag vroeg voor sonop uit Maseru ry!) – toe die oudpresident ons dít vra, was skril en konfronterend. Die Thabo Mbeki-stigting het op kort kennisgewing so ’n twintigtal “faith leaders” byeengeroep om oor gegewe landsomstandighede te kom help besin. In dié lenteweke is daar nóg elf vroue vermoor, meer as dertig jongmense by kuierplekke koelbloedig doodgeskiet, een-en-twintig in ’n taxi-ongeluk dood, ’n plaasvrou by die hek aangeval en doodgeslaan, kinders wéér op die Vlakte in bendegeweld meegesleur. Orals, oral staan die kruise. Stukkendheid, verwaarlosing, vandalisme, ’n nuwe vlaag agitasie teen buitelanders. Het ons teen onsself gedraai? Sweer die wonde en woede deur generasies nou uit in sinnelose wraak, ’n nasionale “selfmoord”? Toe vra oudpresident Mbeki ons reguit: “Do the faith communities share in the anguish of our nation?”

Agonie. Dit is ’n sterk vertaling vir die Engelse woord “anguish”. Maar dít is die diepte van die bestaanskrisis waarin miljoene Suid-Afrikaners wat geen ander heenkome het, hulle tans bevind, kórt voor die verkiesing en met Agoa en El Nino en wat nog alles óp ons. Daar’s nie (meer) ’n staat in staat om ons hieruit te lei nie; óral sink die mensdom weg in verbrokkeling – jy’s òf vír òf teen. Die woord agonie gaan in Grieks terug na die innerlike gespannendheid voor of tydens ’n fisiese worsteling (soos in sport); soveel te meer die benoudheid van doodsangs. Die psalmdigter het “in my angs uitgeroep: Here!” (118:5); Paulus skryf dat hy die goeie stryd – “agoon” – gestry het, die einde is hier (2 Tim 4:7); in die Middeleeue, die donker sielestryd; Luther se “Anfechtung”. En iewers in dit alles, die Seun van die Mens se uiterste “agonia” in Getsémane – die “Agonia Christi” (Lukas 22:44). Só is ons terug by die vlieë van Cussons wat “hul handjies vryf” en bid omdat hulle in digterstaal wéét Wie hier ly …

Ja, ons sing by sinodes en saamtrekke, ons móét, maar die klaaglied wat vol agonie uit al die verwonde plekke van ons land opstyg, moet deur die Liggaam van Christus gehóór word. Ons is dalk nog die enigstes wat soos die vlieë sou kon uitroep: “Hou moed, soet Jesus, hou moed.” Is dít dan nie die heel laaste “Kerslied” in ons Liedboek: “Heer Jesus klein, slaap soet, die donker nag, die Vader hou wag …” (375)? Ons, wat hande kán uitsteek om te help, na mekaar en die ander. Omdat ons in Advent glo, ánderkant – néé – juis hier, ín hierdie agonie.


Ds Jan Lubbe is predikant van die NG Gemeente Berg-en-Dal en voorsitter van die Algemene Sinode Moderamen.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Gesels saam

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Scroll to Top