Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Lydenstyd

Dat Aswoensdag, die dag waarop Lydenstyd begin, vanjaar saamval met Valentynsdag, lyk met die eerste oog­op­slag taamlik ironies. Lyding en liefde klink eenvou­dig nie na goeie pasmaats nie.

Tog is die pad van Lyding wat Jesus Christus gestap het en waaraan ons terugdink met Lydenstyd juis ’n ui­ting van God se liefde vir mense. Dit is natuurlik nie die oppervlakkige romantiese liefde van Valentynsdag nie, maar ’n selfopofferende liefde wat veel dieper reik.

Deur Homself prys te gee, bring Jesus versoening tus­sen God en mens, en word dit vir gelowiges moontlik om ’n versoenende lewe te leef.

Want die Lydenspad van Christus is vir ons ook ’n model wat Hy vir ons voorgeleef het. Dis ’n pad wat Jesus as voorbeeld gestap het en waarop Hy gelowiges roep om Hom te volg.

Iets daarvan sien ons in die verhaal van Graaff-Reinet wat elders in Kerkbode vertel word.

Hoe sou hulle, ná byna ’n eeu van verskeurdheid, by versoening kon uitkom? Dit klink of die gesprek by die punt gekom het dat almal versoening wou hê, maar nie seker was hoe om daarby uit te kom nie. Watter model sou hulle volg?

Dis toe dat Nuwekerk besluit het om die model te volg wat Jesus voorgeleef het. Selfopoffering. Hulle sou op­hou bestaan en terugstig na die ander gemeente toe. Toe word versoening en eenheid ’n konkrete werklikheid.

Watter getuienis het dit nie uitgedra nie! Soveel so dat mense op die sypaadjies gestaan het en hande klap.

Dit is die liefdespad, die vreugdepad.

Lydenstyd is ’n tyd om na te dink oor ons eie pad van selfopoffering in navolging van Christus. Dis ’n tyd om na te dink oor hoe om die liefde wat Christus aan die wêreld betoon het, so uit te leef dat ander mense iets van God daarin kan ervaar en kan hande klap.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top