Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Almal trek saam in een missionale koers

Die Taakspan vir Missionale Transformasie se oogmerk is om alle lidmate se geloof so te help vorm dat hulle as gestuurdes in die wêreld sal leef.

Dié gesamentlike taakspan van die Algemene Sinode bestaan uit die taakspanne vir Missionale Ekklesiologie, Lidmaatbemagtiging, Gemeentebediening, Erediens en Liturgie, Missionale Diakonaat en die Seisoen van Menswaardigheid.

Hulle het onlangs vir die eerste keer saam vergader vandat die Algemene Sinodale Moderamen einde verlede jaar besluit het dat missionale transformasie ’n prioriteit vir die NG Kerk moet wees.

Ds Freddie Schoeman, sameroeper van die Taakspan vir Missionale Transformasie sê die verskillende taakspanne binne die oorkoepelende taakspan werk nou almal saam. Hulle fokus almal op dieselfde doelwit en elkeen bevorder dit vanuit sy eie hoek.

So moet die Taakspan vir Missionale Ekklesiologie sorg vir ’n teologiese begronding van missionale kerkwees. Hulle taak is om leiding te gee oor hoe ’n kerk moet lyk wat ’n gestuurde kerk is.

Die Taakspan vir Lidmaatbemagtiging se rol is om aan te dui hoe die kerk lidmate moet toerus om as ge­stuurdes in die wêreld te leef.

Die Taakspan vir Gemeentebediening se fokus is op die leiers. Hulle moet kyk hoe leiers in ’n gemeente moet funksioneer sodat hulle die gemeente kan help om as gestuurdes in die wêreld te leef.

Die Taakspan vir Erediens en Liturgie moet die gemeentes help om die missionale karakter van ’n erediens na vore te laat kom. Dit gaan onder meer oor die werking van die Drie-eenheid, omdat dit is waar gestuurdheid gebore word.

Die Taakspan vir Missionale Diakonaat se fokus is maatskaplike en opheffingsprojekte waardeur die boodskap van God se liefde uitgedra word.

Dr Elize Morkel, voorsitter van die Taakspan vir die Seisoen van Menswaardigheid, sê hulle produkte soos die kruiskulturele Bybelstudies en plakkate is alles ondersteunende materiaal vir die kerk se missionale transformasie.

Sy wys daarop dat ds Nelis Janse van Rensburg, voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen, by die vergadering van die Taakspan vir Missionale Transformasie vier aspekte van missionaliteit beklemtoon het. Hierdie vier is roeping, spiritualiteit, geregtigheid en diens.

Dat geregtigheid ’n belangrike deel van missionaliteit is, onderstreep die rol wat die Seisoen van Menswaardigheid het om te speel.

Sy wys ook daarop dat die Wêreldraad van Kerke reeds in 2013 groot klem gelê het op die verband tussen geregtigheid en missionaliteit.

Omdat die Seisoen van Menswaardigheid ’n gesamentlike projek is van die vier kerke van die NG Kerkfamilie, is die seisoen ook reeds ’n manier waarop geregtigheid vergestalt word.

Die vier kerke is ’n voertuig vir die uitdrukking van die Missio Dei, sê sy.

▶ Lees ook Schoeman se bydrae tot Op die kerkstoep en Janse van Rensburg se rubriek Gedagtes oor kerkwees.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top