Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Die reël bestaan nie

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Jacques Louw, prokureur van Kaapstad, skryf:

Ek voel dit is my plig om te reageer op dr Chris van Wyk (“Kerkbode mag nie“, 28 Julie 2017) aangesien dit ’n eeu-oue wanopvatting voortdra.

Uit die staanspoor moet ek verduidelik daar is nie in ons reg ’n sub judice-reël nie. Daar is wel, na die beste van my wete, so ’n reël in die parlement, maar dit is genoodsaak deur die parlementêre privilegie (waar ’n spreker beskerming het ten opsigte van laster wat hy bin­ne die parlement uiter).

Die wanopvatting van ’n verbod op buite-hoflike uit­sprake oor hangende hofsake het waarskynlik sy ont­staan gehad in twee hofuitsprake binne soveel weke deur regter Mason van die ou Transvaalse hof in 1913 (Kingwell v Robinson en Argus v Dunston).

Wat regter Mason daar gesê het (of wou sê) was dat jy nie die sogenaamde gekwalifiseerde privilegie het indien jy uit hofdokumente publiseer voordat die saak voor die hof gedien het nie. Ongelukkig het hy homself lomp uitgespreek en is die uitsprake later gebruik as ge­sag vir die “reël”, wat met sy latere parlementêre misbruik deur sommige verkeerdelik verhef is tot ’n regsreël.

In 1997 het die beginsel weer voor die Hof in Johan­nes­burg gedien waar regter Wunch die aangeleentheid reg­gestel het, maar ongelukkig in sy geskrewe uitspraak weer effens gestruikel het. Die gevolg van sy uit­spraak was egter korrek (Romero v Gauteng Newspapers).

Onlangs het appèlregter Nugent in die Appèlhof die bestaan van die sub judice-reël finaal die nekslag toe­ge­dien (Midi Television (Pty) Ltd t/a E-TV v Director of Public Prosecutions (Western Cape) 2007 (5) SA 540 (SCA)).

Om op te som: Daar is twee gronde van risiko wanneer media oor hofsake berig.

Die eerste, in ons siviele reg, loop die media die ge­vaar om vir laster gedagvaar te word indien hulle hofstukke aanhaal voordat dit in die hof geroep is. (Daarvoor blyk daar geen gevaar te wees in die gay­-kwessie-hofsaak nie). Die tweede is dat buite-hoflike uitsprake in uitsonderlike gevalle dalk op minag­ting van die hof kan neerkom. Daar is ook weinig ge­vaar daarvan in die gay-kwessie-saak.

Ek skryf hierdie brief in my persoonlike hoedanigheid.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top