Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Tog so maklik om Skriftuurlik te wees

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Zachie le Roux van Elsburg skryf:

Liewe oom Tienie, dis die eerste maal wat ons weer kontak het sedert 1994! Ek het oor die jare elke nou en dan opgemerk jy publiseer boeke. Was daar nie ook ’n boek oor die Heilige Gees wat uit jou pen verskyn het nie? Die Gees van God is veral ook ’n Gees van onderskeiding, glo ek.

Na aanleiding van jou brief, “Twee getuienisse” wat onlangs in Kerkbode verskyn het, die volgende.

Die blote feit dat jy die vermoë van die twee gay “gevalle” wat toe getrou en die “pa van drie kinders geword” en “vier pragtige dogters” verwek het, interpreteer as aanduiding dat hulle toe van hul gay-wees “genees” is, toon myns insiens ’n gebrek aan insig in die kwessie. Ek sou wou voorstel – jy beskik tog verseker oor ’n pastorale hart – jy lees die verhale van gay ouers en hul kinders soos oorvertel aan ene Marietjie van Loggerenberg. En neem ook regtig kennis van die wetenskaplike navorsing in dié verband. Daar is ook ander tekste naas die Bybel waarvan ons moet kennis neem.

Ek glo ook “Jesus sou jou kon help” om die teks wat jy noem na aanleiding van Matteus 11 (“Kom na My almal wat vermoeid en belas is”) in ’n nuwe lig te begin sien. So ook die hele gay-“kwessie”. Immers, watter laste lê jy nie nog steeds op die gays nie. Jy sê: “Vir God is alle dinge moontlik, as ’n mens net gewillig is om Hom daarvoor te vertrou.” Inderdaad!

Dis opvallend hoedat mense in die kerk op grond van ’n handvol tekste ’n feitlik Lutherse houding ten opsigte van die gays inneem van: Hier staan ek, ek kan nie anders nie. En toe Apartheid die norm was, en julle in die fleur van jul bedienings, toe was die ywer vir die Skrif totaal afwesig. Hoeveel Skrifbewyse was daar nie wat julle nie toe teen Apartheid kon aangehaal het nie? Daar was selfs mense in die kerk wat ander vervolg het wat standpunt teen seker een van die grootste kerklike dwalings van die vorige eeu ingeneem het!

Daar is myns insiens ’n baie eenvoudige verklaring vir bogenoemde.

Om standpunt teen Apartheid in te geneem het, sou jou gekós het. Daarvoor sou die Broederbond in die suide van Johannesburg waar ons destyds saam in dieselfde ring was, gesorg het. Dit sou jou selfs jou werk gekos het. Daarom het jy geswyg. Nou haal jy graag die Bybel aan want dit kos jou niks. Ek wens jou en ander eendersdenkendes eintlik ’n hele na­geslag vol LGBTI’s toe. Sodat julle ’n slag regtig met die Skrif kan begin worstel.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top