Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Ope brief aan die moderatuur

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Ds Johannes Mouton van die NG gemeente Table View skryf:

Ek was aanvanklik bloot hartseer oor die hofsaak, want ek kon nie glo dat dit op hierdie punt gekom het nie. Noudat ek meer ingelig is en julle reaksie (Moderatuur reageer op hofsaak, 28/08/2018) gelees het, voel ek mismoedig. Hier is my redes.

Dis betreurenswaardig dat julle die aansoekers kwalik neem dat hulle die saak na die hof geneem het, in plaas daarvan om die kerklike weë te volg. Is dit dan nie juis die “kerklike sake op kerklike maniere”- beginsel wat die groep oor jare in die steek gelaat het nie?

Julle maak melding van ’n beduidende groep gay gelowiges wat in gemeentes betrokke is. Dit is wel so, maar dit gebeur ten spyte van die Algemene Sinode/moderatuur en steeds met voorwaardes wat nie geld vir ander lidmate nie.

Dan verstaan ek steeds nie hoe slegs huwelike tussen ’n man en vrou as Godgegewe beskou kan word nie. Hoe kan ons dit van twee mense weerhou om voor die God van liefde vir mekaar lief te wees?

Dit bly vir my ’n vreemde gedagte dat julle sê dat ons leer om met die diversiteit van teenoorstaande standpunte in eie geledere saam te leef. Anders as die 2016-besluit het die 2015-besluit tog juis hierdie diversiteit in eie geledere erken en ruimte gemaak daarvoor.

Laastens kan ek nie help om te wonder wat gaan gebeur as die kerk die hofsaak sou verloor nie? Gaan julle appelleer? Ek hoop regtig nie so nie, want dit gaan net nog meer skade aanrig.

Ek stem saam met dr Johan van den Heever (Ope brief aan Nelis, 28/08/2018) dat ons nie onsself ’n missionale kerk kan noem, terwyl ons mense uitsluit nie. Op grond hiervan sal ons ook nooit ’n geloofwaardige rol kan speel as dit kom by ander gesprekke soos oor restitusie, ongeregtigheid en onreg in ons land nie.

So, asseblief, ek smeek julle, doen die regte ding en wees die missionale leiers wat ons nodig het. Nie net ter wille van gay-lidmate nie, maak ook ter wille van die geloofwaardigheid van ons kerk.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top