Kerknuus in die Facebook-era

Wanneer is dit beter vir ’n nuuswebwerf om minder aktief – tjoepstil selfs – op Facebook te wees?

Hoe moet die ratio van “Pyn” teenoor “Plesier” lyk voor dit ’n redelike besluit is om eenvoudig te sê Facebook doen jou handelsmerk meer skade as goed?

Kom ons probeer gou daai som doen aan die hand van ’n onlangse episode wat Kerkbode geraak het.

’n 400 woord-nuusberig oor ’n intergeloofsbyeenkoms word gepubliseer en ’n skakel daarna op Facebook geplaas waarvandaan sommige Facebookgebruikers deurkliek om die berig te gaan lees. Sowat 60 mense lewer direk op Facebook kommentaar. Die Facebookblad se moderator tree op ’n kol tussenbeide en plaas ’n herinnering van die gespreksreëls op die blad. Dit lees as volg:

Die moderator blok, per dié ooreenkoms, Facebookgebruikers wat vloek of ander se siele uittrek. Sowat 600 mense lees oor die loop van drie dae die berig waarin ’n NG Kerk dominee aangehaal word waar hy onder meer oor die onlangse terreuraanval in Nieu-Seeland sê: “In Christchurch is kinders van God met onbeskryflike geweld om die lewe gebring terwyl hulle besig was om te bid. Jesus treur hieroor en sy kerk behoort hierdie mense te omarm en saam te treur.”

Een van die lesers van die nuusberig werk by die Afrikaanse Protestantse Kerk (APK). Hy kan nie glo wat hy lees nie, tik hy op Facebook. ’n Ander leser – dié keer ’n NG dominee – maak beswaar wat hy later berou, maar ’n mens sou eers later, op ’n ander platform en in ’n ander medium van daardie berou lees.

’n Derde leser van die berig werk by ’n Sondagkoerant en hy het by die APK-man gaan hoor hoekom dié nie kan glo wat hy lees nie. En daar gebeur ’n tamaai Rapport-voorbladberig.

Tot hoe mate was die aard van Facebook-kommentaar die stert wat die hond geswaai het? Of dalk inderwaarheid die enigste nuuspunt in hierdie storie? Op Rapport se webblad volg meer as 330 kommentare onderaan hul berig wat gaan oor Facebookkommentare oor Kerkbode se berig. Daar’s g’n webskakel na die oorspronklike berig nie, want die fokus is kennelik nou volledig op Facebook asook ’n klag wat glo intussen deur die APK-leraar by die NGK-gemeente ingedien gaan word.

Let wel, hierdie redakteursbrief gaan nie oor Rapport se nuussin nie. Dit gaan oor die vraag: Hoe kan Kerkbode keer dat hy ’n hand het daarin dat die NG Kerk die “low hanging fruit” van kulturele konflik-beriggewing word? Want hierdie tipe “meningsverskil-op-meningsforum”-nuusberigte is ’n taamlik algemene vorm van verslaggewing wat seker ’n voorloper het in die dae voor die internet toe “die Londenkantoor” aan nuuskierige Suid-Afrikaanse lesers sou berig: “Dit gons hier in die poniekoerante oor” welke skandaal. En vir sommige lesers is kerke inderdaad dikwels net so eksoties en skandalig as ’n Britse prinses wat bostukloos sonbaai en die verlekkering daarin is telkens tabloid kolskote. So wat staan Kerkbode te doen?

  • Moenie oor omstrede stories berig nie?
  • Doen verslag maar moet dit nie op Facebook deel waar die gesprek kan uitrafel en tot ’n nuuspunt buite die ‘scope’ van die oorspronklike storie verhef word nie.
  • Sit dit op Facebook maar modereer dit strenger as wat enige redelike werksure tans toelaat. (Kerkbode se Facebookblad is ’n meedoënlose nagdier).  

Kom ons bekyk die laaste voorstel eerste. Ons vee reeds opmerkings uit en blok mense. Mense wat goed sê soos: “So bly dat ek iF*KK*LI vir die lot voel! Sien genoeg van hulle skelm in stoom kamers, Camp David en rond hang vir n skelm lekkerny! Mag die NG kerk val soos ESKOM!”

So, as jy dink die Facebookblad is soms skurf, moenie na die uitveemandjie kyk nie. Maar daarop reageer ’n ander leser weer as volg:

“@Kerkbode nee, verskonings oor tegniese aspekte is nie aanvaarbaar nie. Die walglike woorde van bespotting met Jesus het ek hier op kerkbode se blad gelees, of dit nou op iemand anders se muur was of nie. Verwyder dan die ou se se kommentaar met sy muur en al, of verwyder die artikel. As julle dit nie kan doen nie, het julle mos nie beheer oor wat op julle blad te lees is nie. Dit is ook nie ons as lesers wat julle blad moet polisieër nie, julle moet dit self doen…”

Let gou op die deeltjie: “Of verwyder die artikel…” – So, die leser se voorstel is basies dat ons die mag van publikasie oorgee aan die kommentaarafdeling. Dit help miskien om net eers terug te gaan na die joernalistieke doelwit voor ons dit verder oorweeg. Meeste joernaliste verwelkom soveel aandag as moontlik op hul handewerk.

Die nuusbestuurders bo hulle in die besluitenemingshiërargie deel dan ywerig webskakels na gepubliseerde stories en gebruik weer als in húl vermoë om die “voetspoor” van die storie te vergroot. Van rolpers tot Facebook tot die “tagging” van “influencers”…die storie moet úít. Die naald moet beweeg! Die aantal “unieke gebruikers” moet klim en die “bladlese”, in die taal van eietydse nuuskantore, moet nuwe hoogtes bereik. Daar is ook ’n dieper versugting ter sprake: Die lesers moet góns hieroor. Dit wil soms met die lees van nuusberigte voorkom dat dit die doelwit van die storie is en dat die “kontrak” met die gehoor dan basies sou lees: Laat waai! Soos ’n aanhitser op speelgrond wat skreeu “fight, fight!” nog voor enige vuishoue geval het.

En dan begin dinge dikwels rerig spoed optel. Dan begewe die storie homself in die domein van Die Kommentaarleweraar. En selfs vir ’n storie met ’n stewige feite-grondslag kan dit soos ’n eerste nag in die tronk wees. Jy kom nie sommer heelhuids deur die proses nie. Dis ’n landskap vol seerkry.

Natuurlik kan nuusbestuurders se standpunt ook wees: Die lesers moet gehoor word. Miskien aangemoedig deur kennismaking met Jay Rosen se skrywe oor die “mense voorheen bekend as die gehoor” wat meen joernalistieke “mag” het in die digtale era finaal na die voormalig passiewe media-ontvangers oorgekantel.

Maar wie presies is hierdie nuwe gehoor? Op plekke soos veral Facebook waar die drumpel van deelname heel dikwels so laag as een LIKE is pleks van intekenaarskappe – laat staan nog intekenaarsfooie. Of kommentaarafdelings waar anonimiteit dikwels effektief aanvaarbaar is of ten minste geduld word. Waar min of meer maniese deelname dalk beloon eerder as afgeraai word. Wie is hierdie voormalige leser met onuitputbare data en ure in die dag en nag wat via die Facebook app op sy slimfoon aan Kerkbode tik “So bly dat ek iF*KK*LI vir die lot voel!” En hoeveel gewig moet sy / haar stem in ons koppe dra?

Dis nie aldag dat ’n redakteur homself afvra watter lesers hy werklik nodig het nie. Watter clicks maar werklik kon gebly het nie. So paar jaar gelede het ek met belangstelling geluister na ’n voormalige redakteur van News24 wat verduideilk hoe sy span die besluit benader het om daardie webreus se kommentaarfunksie ingrypend te verander.

’n Mens moet onderskei tussen die gewone kommentaarblaaie waaroor nuuswerwe redelike beheer het en Facebook as die tipe Moeder van alle kommentaarblaaie, waar beheer ’n grys gebied is. En in 2019 is mens op dun digitale ys as jy nie by Facebook inval nie. Ook in die geval van ’n klein Gereformeerde nuusdiens soos ons. Sowat 50% van www.kerkbode.co.za se verkeer kom na ons via Facebook. Die res is direkte verkeer, kom via ons nuusbrief of is die gevolg van lukrake soektogte op soekenjins soos Google. So wat het ons om te verloor indien ons ’n tipe hibernasie sou oorweeg wat Facebook betref? As ons eerder ons beperkte hulpbronne toespits op verslaggewing en die plasing daarvan op ons primêre platforms – www.kerkbode.co.za en die papierproduk – as om te sit en kommentare uitvee en voorbladstories in die naweekpers lees oor wilde uitlatings op ons Facebookbladsy? Ons sal aanvanklik krimp in terme van webverkeer. Dalk permanent. Dalk nie. Is dit so erg? Waarheen haas al hierdie kommentare tog buitendien met ons? En hoe baat die kerk en lidmate daarby – in wie se diens Kerkbode weer op sy beurt probeer staan? Wat word ons wys in die proses? En hoe opreg is Facebook se pogings om die nuuslandskap so ingrypend te verander dat lesers ons naderhand aanraai om stories te ont-publiseer nie oor die inhoud daarvan nie, maar oor die reaksie daarop?

Kerknuus op Facebook?

Kyk na die uitslag

Daar is ook groot wysheid en selfs inspirasie te vind in kommentare op ons Facebookblad – ook weer met die jongste voorval wat soveel lamppale gehaal het. Mense wat goed uitwys wat ons nie raaksien nie. Mense wat op ’n manier reageer op ander se uitlatings wat jou weer iets van medemenslikheid leer. Trouens, kommentaarblaaie en Facebookblaaie bied meeste van die tyd die beste oes van insette en ’n nodige skeut perspektief. Dit bied ook ’n graad van onmiddellikheid en deelneme waarvan Kerkbode se eerste redakteur 170 jaar gelede uiteraard nie kon droom nie al was hy Philip K. Dick. So as dit gaan oor “Plesier” vs “Pyn” (die sogenaamde “felicific calculus”), is die oorweging watter een swaarder weeg.

Henry David Thoreau (ook een wat met weerstand teen verandering gesukkel het!) help my soms in tye van twyfel oor netelige “vooruitgang” wat aan ’n mens opgedis word. Hy het destyds skepties oor telegraaftegnologie gesê: “We are in great haste to construct a magnetic telegraph from Maine to Texas; but Maine and Texas, it may be, have nothing important to communicate…”

Thoreau was verkeerd. Beter kommunikasie het die wêreld verbeter. Maar sy vraag is steeds geldig. En ek dink die antwoord is Facebook en Kerkbode het wel iets belangrik om vir mekaar te sê. Dit blyk net jy kan nie kies wanneer jy jou ore toedruk nie. – Redakteur.