VIDEO: ‘As jy dié tipe motivering het …’

ʼn Pa se brandende behoefte om vir sy gestremde dogter ʼn bietjie vryheid te gee, het gelei tot die eerste bekostigbare looprame in Suid-Afrika.

Hy is nie ʼn ingenieur of industriële ontwerper nie. Wanneer hy begin gesels besef jy hy is net ʼn pa wat sy dogter die geleentheid om te stap gun.

“Wanneer jy dié tipe motivering het, léér jy om goed met jou hande te wees,” sê Derek Boshard terwyl hy na sy 7-jarige dogter, wat op ʼn helder blokkieskombers op die vloer lê, wys. 

Dis nie elke dag wat jy die nuus haal en dít boonop omdat jy iets positiefs gedoen het nie.

Dié nuusmaker het onlangs via ʼn video-insetsel op kykNET se e-Nuus ʼn draai gemaak as gevolg van ʼn unieke loopraam wat hy vir kinders met ʼn fisiese gestremdheid maak.

Nie net is die raam van PVC-pyp ʼn eerste van sy soort in Suid-Afrika nie. Dit is boonop bekostigbaar, vertel die 40-jarige Derek in sy sitkamer in Panorama, Kaapstad.

Om met sy hande te werk was glo nie voorheen op sy prioriteitslys nie.

Derek Boshard en sy 7-jarige dogter Erin. Erin is net na haar eerste verjaarsdag met ʼn rare genetiese afwyking gediagnoseer. Foto: Denshir de Koker

Erin is net na haar eerste verjaarsdag met ʼn rare genetiese afwyking gediagnoseer. Daarom kon sy nie op die ouderdom van een jaar soos ander kinders haar eerste treë gee nie, vertel Derek. In kort het Erin vertraagde verstandelike en fisiese ontwikkeling. Haar intellektuele vermoë word met dié van ʼn 10 maande oue baba vergelyk.

“Toe Erin so twee en ʼn half was het ek gesien sy het ʼn behoefte om mobiel te wees. Ek is baie lief vir bergklim, draf, surf en ek gun dit vir haar om ook te kan beweeg. Ek het begin navorsing doen en besef daar is nie so iets in Suid-Afrika beskikbaar nie. Na baie navorsing het ek uiteindelik die ideale ‘walker’ in Ierland gevind. Maar dit sou ons R69 000 kos! En daar is nie eens ʼn rekenaar in die loopraam nie,” skerts Derek.

Hy vertel verder: “Dit was omtrent slegs metaal. As jy vir jou kind sy eerste fiets koop moet dit darem mooi wees! En kyk, ek is boonop baie prakties. Dis vir my dieselfde met tekkies. Ek gaan nie vir ʼn groeiende kind Nike-tekkies koop nie. Die prys moet sin maak.”

“Toe Erin so twee en ʼn half was het ek gesien sy het ʼn behoefte om mobiel te wees. Ek is baie lief vir bergklim, draf, surf en ek gun dit vir haar om ook te kan beweeg. Ek het begin navorsing doen en besef daar is nie so iets in Suid-Afrika beskikbaar nie,” vertel pa Derek. Foto: Denshir de Koker

Sy vrou, Tracy, wys toe vir hom ʼn basiese PVC-raam op pinterest wat iemand gemaak het vir ʼn gestremde om op die strand te kan staan.

En so besluit Derek hy gaan ook probeer om iets te maak wat Erin kan help om te stap.

“Ek het aanvanklik dun, goedkoop PVC-pyp gebruik. Maar dit is te bros.”

Vandag gebruik hy pyp wat hoë druk kan weerstaan en wat vir besproeiingdoeleindes gebruik word.

Derek het na baie ure in die garage daarin geslaag om ʼn geskikte loopraam vir Erin te maak. Hy rits die vereistes van so ʼn loopraam een vir een af. Dit moet gemaklik, duursaam én ekonomies wees. Dit moet maklik deur ʼn deuropening kan gaan en dit moet boonop uitmekaar kan haal vir vervoerdoeleindes. Dit moet ook 100% veilig vir die gebruiker wees.

Derek het ʼn video van ʼn gelukkige Erin wat self stap op sosiale media gelaai. En skielik begin versoeke vir ʼn “Freedom Walker”, soos hy sy handewerk gedoop het, instroom.

Die tweede Freedom Walker was vir ʼn kollega se gestremde kleinseun.

Die aanvraag na dié bekostigbare looprame is so groot dat Derek vandag al sy tyd na-ure hieraan spandeer. Hy werk steeds bedags by ʼn elektriese ingenieursmaatskappy om die pot aan die kook te hou.

Só lyk die patent in aksie. Skermgreep: Verskaf.

Maar om al my vrye tyd aan Freedom Walkers te spandeer is ook nie regverdig nie, sê Derek. “Na-ure werk ek aan walkers terwyl ek eintlik by my kinders moet wees.

“Oor die jare het mense as vrywilligers probeer om my te help om die walkers te maak. Maar ek moet elke stap oorsien en op die ou end neem dit net so baie van my tyd,” verduidelik Derek.

Dan is daar die feit dat hy sonder twyfel wil hê Freedom Walkers moet bekostigbaar wees. Freedom Walkers word ook spesifiek vir elke individu volgens sy unieke spesifikasies – wat van sy lengte, gewig en meer afhang – gemaak.

“Ek móét ʼn manier vind om dit voltyds te kan doen. Ek wil nie hê daar moet enige gestremde kind in Suid-Afrika wees wat nie die vryheid van loop kan ervaar nie.”

En boonop, sê Derek, voel dit vir hom asof hy nou sy roeping in die lewe gevind het.

“Ek het vir jare ná Erin se diagnose op ʼn klein skaal ʼn bietjie soos Job gevoel … Nou het ek ʼn doel in die lewe gekry wat werklik ʼn verskil kan maak.”

‘Ons lewe was op sy kop gedraai’

Vir die Boshards was dit baie swaar om te hoor dat hulle dogtertjie gestremd is. Veral ook omdat dit ʼn rare sindroom is en daar nie baie inligting daaroor in Suid-Afrika beskikbaar is nie.

“Ons lewe was op sy kop gedraai. Maar as gelowiges het ons vasgeklou aan die dun draadjie wat steeds met God verbind was. Dit was swaar en ons was baie depressief omdat ons bekommerd was oor ons dogtertjie.”

Erin was aanvanklik op die oog af ʼn normale baba.

“Op die ouderdom van ses maande het haar pediater voorgestel sy moet vir verdere toetse gaan omdat haar spiertonus baie laag was. Ons het elke liewe toets onder die son laat doen. Eers na sewe maande het ons toevallig uitgevind wat fout is. Ons neuro-pediater was na ʼn simposium oor genetiese afwykings en het daar van Dup15q-sindroom gehoor.

“Hierna het ons vir ʼn rukkie verlig gevoel want ons het gedink nou wéét ons waarmee ons te doen het. Maar toe begin ons ons weer bekommer oor wát dit werklik is waarmee ons te doen het. Dis ʼn baie ingewikkelde sindroom,” sê Derek.

En, sê Erin se pa, hulle weet nie tot hoe ʼn mate sy ooit sal ontwikkel nie. Of sy ooit sal praat of op haar eie sal loop nie.

Op 7-jarige ouderdom dra Erin steeds doek en word alles vir haar gedoen, verduidelik Sibongile Chimangeni, wat haar reeds die afgelope vier jaar voltyds tuis versorg terwyl haar ouers werk. “Maar sy is nie moeilik om te versorg nie. Sy is regtig so sweet,” sê Sibongile.

“Dis nog ʼn ding – die regering doen baie min vir erg gestremde kinders. Daar is ook nie baie skole vir hulle nie. Hulle is dikwels vasgekluister by die huis,” sê Derek.

En daarom wil hy vir sulke kinders ʼn bietjie vryheid gee, verduidelik Derek.

Derek vertel dinge het effens beter begin gaan nadat hulle ʼn simposium oor Dup15q oorsee kon bywoon. “Dit was wonderlik om met ouers van nog sulke kinders te gesels en meer kennis daaroor te kry.”

Kort hierna het hulle ook uitgevind dat die Boshard-gesin nog ʼn lid ryker gaan word. Hulle was aanvanklik bang om nog kinders te hê, maar na vele toetse het hulle bevind dat dit nie hulle gene was wat Erin se sindroom veroorsaak het nie. Dit was bloot ʼn genetiese vloekskoot, vertel hy.

Vandag het Erin ʼn vyfjarige sussie. “Raine was en is vir ons soos druppels vreugde reguit uit die hemel,” sê Derek.

Derek sê behalwe hulle dogters se geluk is dit vir hom en Tracy baie belangrik om mense wat nie Freedom Walkers kan bekostig nie, te help. “Ek het báie dinge die afgelope paar jaar geleer. Een daarvan is dat mense in ʼn minderbevoorregte omgewing byvoorbeeld nooit R3 800 vir ʼn loopraam sal kan betaal nie. Ook dat daar báie enkelma’s is wat self hulle gestremde kinders grootmaak.”

Daarom het hy en sy vrou, ʼn paar vriende en ʼn paar besighede elkeen onlangs ʼn Freedom walker gefinansier vir ʼn sentrum vir kinders met spesiale behoeftes in die Emfuleni-nedersetting buite Kaapstad.

“Tracy word binnekort 40 en sy het besluit sy gaan R40 000 insamel vir die Freedom Trust, binnekort ʼn Artikel 18A-organisasie. Dié geld is spesifiek vir behoeftige gestremde kinders.”

“Die behoefte is regtig gróót,” sê Derek. Volgens Derek is mense veral opgewonde omdat dit ʼn bekostigbare oplossing is.

“Ek sal graag binnekort wil uitgaan en gestremde kinders met ʼn behoefte aan ʼn Freedom Walker, maar wat minderbevoorreg is, wil identifiseer. Die doel is om dié kinders dan te ‘pas’ by groot organisasies wat bereid is om geld hiervoor te skenk.”

Die behoefte blyk ook verder as die grense van Suid-Afrika te wees. Hy het selfs ʼn vrou van Amerika presiese instruksies gegee om self ʼn PVC-loopraam vir hulle kind te bou want dit sou te duur gewees het om een van sy Freedom Walkers soontoe te stuur.

In die agtergrond hoor jy skielik vir Erin vrolik lag. “Dis heerlik om daardie geluid te hoor,” sê Derek. Sibongile het klaar vir Erin haar middagete gevoer en nou speel hulle op ʼn bank op die stoep.

Derek sê: “Erin is ons CEO. Soos ek die looprame verbeter plaas ek haar daarin en ons loop om die blok. Sy keur die produkte, want jy kan baie vinnig sien of sy tevrede is.”

“Dit voel op ʼn vreemde manier of ons wêreld weer regop gedraai is …”

  •         Tans wissel die pryse van Freedom Walkers tussen R3 800 en R4 500 afhangende van die grootte van die kind.

Raak betrokke: Besoek www.freedomwalkers.co.za of stuur na derek@freedomwalkers.co.za ’n e-pos.

One thought on “VIDEO: ‘As jy dié tipe motivering het …’

  1. Magriet Frey says:

    Tracy en Derek ek verstom my aan jul uithou vermoë. Ek is die Here dankbaar vir mense Soos julle. Mag julle drome in 2019 almal waar word deur jul organisasies goed en sterk op die been te kry.

Comments are closed.