Was kerk al ooit só beswaard?

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Daar wag 111 beswaarskrifte (gravamina) betreffende die besluite oor selfdegeslagverhoudinge wat die Algemene Sinode van 2019 moet hanteer. Was die hoogste liggaam van ons kerk al ooit so belas met besware soos tans? Is daar hoop dat hierdie las ligter gaan word?

Volgens ’n amptelike skrywe (gepubliseer in Kerkbode se webwerf op 13 September 2019) het die Algemene Sinode Moderamen (ASM) besluit om ’n taakspan aan te wys om alle beswaarskrifte wat aan die Algemene Sinode sedert die besluit  van 2015 gerig is, te orden en vir die af­gevaardigdes meer hanteerbaar te maak. Uit die 111 dokumente wat die taakspan as ontvanklik beskou het, is 58 ingedeel as besware op grond van kerkregtelike prosedures en 82 as besware op grond van leerstellige gronde. Die beredenerings handel onder andere oor Skrifgesag, eksegese, hermeneutiek, etiek, dogmatiek, ons belydenisskrifte, die ekume­ne, antropologie, die biologiese wetenskappe en uiteraard ook kerkregtelike besware. Daar is ook 2 dokumente wat ten gunste van die 2015-besluit betoog.

Naas bogenoemde beswaarskrifte het die groep van 12 lidmate wat hulle tot die Hooggeregshof gewend het oor die Algemene Sinode se 2016-besluit, ook ’n voorlegging op 15 Julie 2019 aan verteenwoordigers van die moderatuur van die Algemene Sinode voorgelê. Dit bevat vyf punte waarvan die laaste volgens Kerkbode van 23 Julie 2019 lui dat die Algemene Sinode in Oktober “ernstige oorweging” sal moet gee aan die wyse waarop LGBTQI+-persone betrek kan word om die kerklike strukture te hervorm sodat daar nie langer oor hulle gepraat sal word nie, maar mét hulle.

Hoe lank nog gaan hierdie sterk meningsverskille oor selfdegeslagverhoudinge sy lang skaduwee oor die NG Kerk se Algemene Sinode gooi? Moet ons dit as deel van ‘n noodsaaklike groeiproses beskou of behoort ons dalk dieper vrae te begin vra, soos byvoorbeeld:

  • Wanneer sou ons kan sê dat ’n besluit van ’n sinode “goed” is: wanneer dit aan sekere normatiewe voorskrifte (Bybelse tekste, kerklike belydenis, etiek, biologiese wetenskappe of menseregte) sou voldoen of behoort ons ook na die vrugte daarvan in die kerklike praktyk te kyk?
  • Het woordvoerders aan beide kante van die spektrum nie dalk een of ander fundamentele leemte misgekyk in hul ywer om die NG Kerk te probeer oortuig om volgens hul insigte te handel met mense wat nie ‘n heteroseksuele oriëntasie het nie?

Volgens sekere denkskole in die filosofie van die geesteswetenskappe kan ’n teorie in dissiplines soos sosiologie, psigologie, politieke wetenskappe en die regswetenskappe nie as geldig bewys word wanneer dit slegs aan sekere normatiewe voorskrifte sou voldoen nie. Daar moet ook volgens wetenkapsfilosowe soos Charles Taylor en JB Thompson gekyk word na die aard van die praktyk wat ’n bepaalde teorie deur die selfverstaan van die sosiale akteurs tot stand sou bring.

Hierdie toets klop met wat Paulus aan die Galasiërs skryf wat duidelik te behep met sekere wettiese godsdienstige reëls begin raak het. Hy wat ’n Fariseër en ’n wetgeleerde was, kon nie begryp hoe hulle die identiteit van hul geloof – hul dinamiese verhouding met die lewende Christus – so kon versaak nie. Daarom skryf hy soos volg in hoofstuk 4 vers 9: “Maar noudat julle Hom leer ken het, of liewer, noudat Hy julle ken, hoe val julle dan nou weer terug na daardie minderwaardige en armsalige wettiese godsdienstige reëls? Wil julle van voor af weer slawe daarvan wees?” (4:9). Daarna gaan hy voort en wys hulle op die aard van die praktyk wat hulle reëlbehepte godsdiens tot stand bring: “Maar julle byt en verskeur mekaar; pas op dat julle mekaar nie later heeltemal verslind nie” (5:15). Dan kom hy met die beroemde uitspraak dat die vrugte sal aandui of die sort grond waarin die saad geval het, goed is: “Die praktyke van die sondige natuur is algemeen bekend: onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, afgodsdiens, towery, vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring, afguns, dronkenskap, uitspattigheid en al dergelike dinge… Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge het die wet niks nie.”

Lees ook: Ons bly vertrou dat God álmal by die tafel wil hê

Wanneer ’n besluit van die Algemene Sinode tot ’n praktyk aanleiding gee wat gekenmerk word deur onder andere rusies, verdeeldheid en selfs skeuring – selfs al sou die voorstanders daarvan hulle kan beroep op wat hulle beskou as ’n beter interpretasie van ‘n Bybelse teks – behoort ons dieper vrae te begin vra soos byvoorbeeld: “Op watter soort grond is die sinode hier besig om te saai – die akker van ou verbond waar die interpretasie van tekste en haarklowery oor wettiese reëls weer die pas begin aangee soos by die Galasiërs, of op die akker van die nuwe verbond waarin die dinamiese verhouding met Christus deur sy Gees die bepalende faktor moet wees? Was beide die 2015-besluit en die 2016-besluit dalk onbewustelike en selfs goedbedoelde pogings om beheer oor mense se lewens en keuses uit te oefen, terwyl dit eintlik behoort te gaan oor die greep van die Heilige Gees in hul lewens?

Deur die geskiedenis heen het die kerk dikwels voor die versoeking geswig om deur haar bepalings mag oor mense se lewens te probeer kry. “Die kerk het sonde uitgevind om mense te manipuleer”, verwyt die predikant se vrou hom in die treffende Sweedse film “As it is in heaven”. “Iets bly sonde totdat ‘n kommissie van die kerk besluit het dit is nie meer sonde nie”, het ek ’n student hoor sê wat met ‘n Rhodes beurs aan die Universiteit van Oxford studeer het. Opmerkings soos hierdie behoort die kerk tot diepe selfondersoek en selfs verootmoediging te stem.

Behoort ’n kerklike vergadering voorskriftelike bepalings betreffende seksuele etiek te formuleer om daardeur beheer oor mense se keuses en lewens uit te oefen? Volgens die beroemde Switserse teoloog Karl Barth moet die kerk daarteen waak om op so ’n wyse voor te skryf wat lidmate in spesifieke situasies moet doen of sê dat die kerk as’t ware in die plek van God kom staan wanneer hulle morele keuses maak. Barth noem dit eiewaan (Barth C.D. II/2: hoofstuk 8). Volgens my beskeie mening bied sy etiek van persoonlike gehoorsaamheid ’n geloofwaardige alternatief vir ’n voorskriftelike etiese benadering wat kenmerkend van die ou verbond is. Volgens hom kan die somtotaal van alles wat die Here van ons verwag, in drie woorde opgesom word, naamlik: “Bly in My.” Vanuit hierdie verhouding met die lewende Here weet ons nie alles oor die lewe en ons roeping nie, ons ontdek eerder voortdurend wat sy wil alles inhou in ons gesprek met Hom en met ons geloofsvaders en geloofsmoeders uit die verlede (soos verwoord in die Woord, belydenisskrifte, teologiese werke en godsdienstige of geestelike literatuur) en ons broers en susters in die hede. In die plek van statiese en dikwels onbuigsame reëls kom ’n aktiewe worsteling van gebed, luister en onderskeiding om te ontdek wat die Here van ons in ’n bepaalde situasie verwag. Die doel is deurgaans om gehoorsaam aan die lewende Here wees. Volgens Barth beteken “goed” in die morele sin “om gehoorsaam aan God te wees” (Barth C.D. III/4: afdeling 55).

Barth beklemtoon in hierdie verband dat ons nie vir ’n ander mag voorskryf wat die lewende Here in sy Woord vir hom of haar bepaal nie. Ons kan ook nie bo alle twyfel oordeel of ’n bepaalde daad of keuse sonde was of nie. Dit is iets wat slegs God kan doen. Slegs Hy kan bepaal of iemand in ’n bepaalde keuse of optrede in die praktyk aan Hom gehoorsaam was of nie.

Die volgende formulering uit die 2015-besluit van die Algemene Sinode klop volgens my besonder goed met sowel Barth se insigte as die teologiese raamwerk van die nuwe verbond: “Die Algemene Sinode verklaar dat hetero- en homoseksuele persone wat in ’n verhouding van persoonlike geloofsgehoorsaamheid aan die Here leef, ten volle kan deelneem aan al die voorregte van die kerk as verbondsgemeenskap.” Dit kommunikeer onder andere dat dit hier spesifiek gaan oor medegelowiges wat in verhouding met Christus en sy Gees hul keuses uitoefen. Myns insiens moes die Algemene Sinode slegs met hierdie een formulering volstaan het.

Wanneer sou daar ’n einde aan die beswaarskrifte of gravamina kom? Dalk wanneer die Algemene Sinode van die NG Kerk sou ophou om by wyse van voorskriftelike besluite beheer oor mense se keuses en lewens te probeer uitoefen, en weer haar ware identiteit as gemeenskap van die nuwe verbond sou herontdek, naamlik dat ons ‘n familie is wat in verhouding met die lewende Here en in die greep van sy Gees sy wil vir elkeen probeer onderskei. Ons lidmate leef in die eerste plek in verhouding met Hom, en nie in verhouding met ons interpretasie van die tekste, wette of reëls nie. Ons mag nooit in die plek van God kom staan met ons interpretasies nie.

Dr Danie Nel
NG Kerk Wynberg

In die lig van wye belangstelling in die vergadering van die Algmene Sinode (6-11 Oktober) pas ons Kerkbode se gebruiklike woordperk op lesersbydraes tydelik aan om lesers selfs meer plek te gee om aan die gesprek deel te neem. Stuur bydraes wat die 3 000 karakterperk van ons BRIEWEBLAD oorskry, per e-pos na kerkbode@tydskrifte.co.za indien – Red.

3 thoughts on “Was kerk al ooit só beswaard?

  1. Wicus Luwes says:

    In Jesus se eie woorde (Lukas 12:51 en Matteus 10:34-39) het Hy nie gekom om vrede te bring nie, maar keuses – keuses vir of teen God. Selfs familie word nie ontsê nie – ‘tussen ‘n man en sy vader en tussen ‘n dogter en haar moeder’. Indien jou eerste soeke na die etiek van die wêreld steef, sal dit wees wat jy navolg. Ons sal nie meer iemand kan help of bystaan met raad nie. Jy sal nie meer met ‘n alkoholis kan help wat sê dat alkohol in sy gesin en gene ingebou is nie. Jy sal nie meer ‘n paartjie in owerspel kan help nie, want miskien is dit beter dat die owerspelige ‘liefde’ wen ens. Vers 37 lui as volg: ‘hy wat sy seun of dogter liewer het as vir My, is nie werd om aan My te behoort nie.’ Dis die moeilikste keuse wat daar moontlik kan wees, maar Jesus sê dit in sy eie woorde.

  2. Kobus Otto says:

    Dankie vir hierdie mooi boodskap. En ons het waaragtig hierdie boodskap meer nodig as die konstante bek gevegte oor wie “reg” is en wie dan nou “verkeerd” is.

    Ons wat met ‘n GROOT stuk nederigheid moet bely dat ons in die verlede nie “geweet” het dat die aarde nie plat is nie (beeldspraak) en dus moet aanvaar dat dinge nie noodwendig is soos wat ons graag sou wou verstaan nie….dit sou soveel meer eenvoudiger gewees het as die Bybel eenvoudig geskryf was…maar dit is nie.

    Dus kan ek as gelowige en “….’n probeer Jesus volg” lewe leef, met gerustheid glo dat hierdie eindelose debatte en argumente absoluut betekenloos is. En niks doen aan my “saligheid” nie.

    Maar ek kan in my hart glo dat elke mens in sy eie individualiteit hoer geag te wees as myself, dus is gay-wees, vrou-wees, ander-wees as ek totaal ingesluit in hierdie opdrag van Jesus. En is die regte en voorregte wat ek myself toe-eien, eers van toepassing op my naaste..voor myself.

    Dus my “anders wees”-broer en suster…wens ek net ‘n omgewing waarin ek kan se: mens..ek is rerig lief vir jou.

  3. Jannie Botha says:

    Al probeer skrywes soos hierdie by ‘n positiewe saak uitkom, bly dit vir my ‘n seer saak om te sien hoedat teoloe en ja ook lidmate dit moeilik vind om die Woord van God net in eenvoud te lees soos dit is. Nerens in die Bybel lees ek dat God onseker is oor wat reg en verkeerd is nie. Om die waarheid te se, omdat God God is en nie ‘n mens nie, is daar by Hom geen onsekerhede nie.
    Dit is die mens wat die waarheid, die Wet en die ware liefdesgebod met ons slim redenasie wil aanpas, verander en mooi maak om aan te pas by hedendaagse humanisme en valse ideologiee. Wanneer gaan die kerk braaf genoeg wees om op te staan en onomwonde en in liefde spreek: So se die Here, Here!?

Comments are closed.