Die NG Kerk se sewentiende Algemene Sinode het Sondagaand in Benoni begin met ’n pleidooi dat God sy lewende water deur die NG Kerk sal laat vloei.
Dit sluit aan by die tema van die sinode: “Maak ’n lewegewende verskil.”
Die erediens waarmee die sinode geopen is, het op ’n neerdrukkende noot begin toe afgevaardigdes herinner is aan ’n klomp dinge wat in die samelewing verkeerd loop. Dit wissel van geweld teen vroue en kinders tot by droogte; van korrupsie tot by seelewe wat deur plastiek verstrengel word; van geld wat minder werd word sodat mense nie langer van hulle pensioene kan leef nie, tot by afbrekende konflik.
Hieroor het die sinode hom in gebed en sang tot God gewend met die pleidooi: “Hoor ons bid, o Heer, en gee ons vrede.”
Dr Pieter van Jaarsveld, Vrystaatse moderator, het daarna ’n boodskap gebring aan die hand van Johannes 7. Hy het verduidelik dat die gebeure daar tydens die Jode se huttefees afspeel.
Dit was ’n fees wat onder meer hulle tog deur die woestyn gedenk het. In die woestyn het die Israeliete in ’n stadium sonder water gesit, maar God het vir hulle water uit ’n rots laat vloei.

Dis teen dié agtergrond dat Jesus opstaan en die uitnodiging rig: “As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink! Hy wat in My glo, soos wat die Skrif sê, ‘Strome lewende water sal uit sy binneste vloei.’ “
Van Jaarsveld het verduidelik hoe dit waar geword het met die uitstoring van die Heilige Gees.
Hy het gesê in die NG Kerk word daar soms so gefokus op randsake en daaroor gestry, dat mense dink dis al waarmee die kerk hom besig hou. Dit maak lidmate moedeloos.
Hy het afgevaardigdes aangemoedig om op Jesus te fokus. Die kerk se boodskap is dat Jesus die Here is. Mense wat dit glo, kan nie dieselfde bly nie, en as hulle dit met ander mense deel, kan hulle ook nie dieselfde bly nie, het Van Jaarsveld gesê.
Hy het sy boodskap afgesluit met die pleidooi dat God die sinode moet help om iets te verstaan van die lewegewende verskil wat God die NG Kerk roep om te gaan maak.
Die sinode het dit in sang beaam met die bede tot God: “Wees die lig wat deur ons skyn.”

Dankbaar vir Pieter van Jaarsveld se boodskap en fokus op Jesus. Stem heelhartig saam dat ons een roeping as Kerk is om op Jesus te fokus as die Gekruisigde, die Opgestane, die Verheerlikte, die “Doper” met die Heilige Gees, die Here vd Kerk, die Een wat Weer kom en in Hom te bly en op te groei en Hom te verkondig en uit te lewe??
Ons bede is dat dit waar sal wees ook van hierdie Sinode en ons hele Kerk ??
Al die eer aan ons lewegewende God. Sonder oorgawe aan Hom kan daar geen lewegewende verskil gemaak word nie. Dankbaar waar dié LEWE sigbaar word. Hoopvol vir die sitting van die Algemene Sinode