Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Algemene Sinode: Sal vergadering vergroot?

Die NG Kerk se Algemene Sinode kan in die toekoms anders lyk en anders funksioneer as tot op hede. Voorstelle hiervoor is Maandagoggend op die kerk se Algemene Sinode in Benoni bespreek. 

Dr Barry Tolmay, voorsitter van die taakspan wat met die voorstelle vorendag gekom het, het aan die sinode gesê dat die rigiede strukture van vroeër ‘n weerspieëling was van hoe die samelewing gelyk het.

Intussen het die wêreld so verander dat alles baie meer vloeibaar en veranderlik is. Daarvoor het die kerk meer aanpasbare strukture nodig.

Die taakspan het die brief aan die Efesiërs gebruik as teologiese begronding vir hulle voorstelle.

Tolmay het gesê die kern daarvan is die kruis van Jesus Christus. Die NG Kerk is ‘n kruiskerk wat diep geanker moet wees in die waardes van die gekruisigde en opgestane Jesus Christus wie se Gees op sy kerk uitgestort is en wat sy kerk missionaal stuur.

Die kerk is God se antwoord op die nood van ‘n verskeurde en verwarde wêreld.

Teen dié agtergrond word voorgestel dat die Algemene Sinode vergroot word van 200 afgevaardigdes tot 370. Daarvan word 200 gelykop verdeel tussen sinodes – elkeen kan 10 dominees en 10 ouderlinge stuur. Die helfte van hulle moet verkieslik jonger as 40 wees.

Verder word daar 160 afgevaardigdes proporsioneel verdeel tussen sinodes, sodat groter sinodes meer mense kan afvaardig as kleiner sinodes. Daarbenewens kan 10 mense uit die kerk se teologiedosente afgevaardig word.

Die Algemene Sinode sal dan elke vier jaar vergader.

Die Algemene Sinodale Moderamen (ASM) behartig die Algemene Sinode se werk tussen sittings. Dit word saamgestel uit vyf verteenwoordigers van elke deelnemende sinode die algemene sekretaris en algemene bestuurder, en die voorsitters van direksies van kerklike maatskappye. Voorsitters van taakspanne kan gekoopteer word.

Die ASM kies by sy konstituering sy eie voorsitter en ander leiers. Hulle dien tot aan die einde van die volgende Algemene Sinode. Dit beteken dat die Algemene Sinode volgens dié voorstel nie sy eie leiers sal kies nie.

Die gedagte is dat die Algemene Sinode die minimum besluite moet neem.

Die voorstel is ook dat enige kontensieuse etiese sake wat potensieel verdelend kan wees, in oorlegepleging met die streeksinodes gehanteer moet word.

Die Algemene Sinode se taak moet wees om roepingsprioriteite vir die kerk te bepaal. Die Algemene Sinodale Moderamen moet dan die fokusareas vir die volgende termyn bepaal en taakspanne van die sinode moet daaraan uitvoering gee.

  • Die voorstelle sal verder bespreek word en die sinode sal later daaroor besluit.

 

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

1 thought on “Algemene Sinode: Sal vergadering vergroot?”

  1. Ek was altyd van mening dat die Heilige Gees die Sinodes, ook die Algemene Sinode in hulle besluite lei. Nou besef ek: ek was al die jare verkeerd. Die Algemene Sinode werk op ‘n demokratiese manier. Hulle beweer dat Sinodes lidmate afvaardig na die Algemene Sinode. Elke Sinode moet dan mos ewe veel lidmate afvaardig, (“sodat een Sinode nie oor die ander Sinode heers nie”) Een Sinode is mos nie belangriker as die ander nie) ongeag die hoeveelheid lidmate. Dit lyk vir my of sommige Sinodes nie “hulle lidmate” as Moderator ens gekies kon kry as hulle nie geregtig is op meer afgevaardigdes nie. [Sias Vogel]

Comments are closed.

Scroll to Top