Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

‘Ek hou nie van mense nie, maar …’

Geborg

Hierdie is 'n rubriek. Die opinies van skrywer weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

’n Prof se kwinkslag by die Algemene Sinode stuur Nico Simpson op ’n kopreis na sy kinderdae.

Hy hou van mense. Hulle kies eenheid eerder as eendersheid, sê prof Marius Nel byna terloops. En ek is weer verlief.

Sy woorde vat my terug na ’n Sondagskoolklaskamer in Robertson. Ek is weer standerd ses. Meneer Jonk is besig om vir ons te verduidelik van Jesus, geloof en bekering. Ek verstaan net genoeg om ná my fietsrit terug huis toe die datum agter in my Bybel te skryf. Verlief vir die eerste keer. Vir my het dit gevoel of ek Jesus so pas ontmoet het, maar Hy ken my toe al lankal.

Hy het my al geken toe ek saam met my ma Pinksterdienste in ’n skoolsaal gaan bywoon het. Dit was lank voordat Helderberg-gemeente hulle “nuwe” kerkgebou gekry het. Ek het styf langs haar gesit in die diens. Al wat ek onthou is die motbol-reuk van die regte pelsjas. Ek en my ma en Jesus.

Hy het my al geken toe ek voor skool langs my ouma en oupa se bed gekniel het voor slaaptyd. Dit is hoe hulle met Jesus gepraat het; ek het dit maar so leer ken. Hulle was verlief op Hom lank voordat ek was. Oupa het nog in Nederlands gebid aan tafel. Hy het Jesus ontmoet uit die Statenvertaling. Nederlands was sy liefdestaal.

En prof Bernard Combrink vertel hoe die jongste Afrikaanse Bybelvertaling pas voltooi is. Hoe dit volgende jaar bekendgestel gaan word. Nuwe woorde vir ’n ou liefdeslied.

Die lied vertel van omarming en deernis. Van liefde lank voordat die ander daarvan geweet het. Van eenheid wat groter is as eendersheid. Van opoffering en ruimte maak. Van onvoorwaardelike aanvaarding en genade uitdeel.

Prof Nel verduidelik dat die kerk nie gekyk het hoeveel hulle in gemeen het voordat hulle hulle aan mekaar verbind het nie. Hulle het nie gesoek na soveel as moontlik goed waaroor hulle moes saamstem nie. Nee, hulle het almal verlief geraak op Jesus en daarom mekaar broers en susters genoem.

Ek kyk rond in die sinodesaal. Geliefdes? Ons is ’n vreemde spul. Op die oppervlak dalk ontstellend eenders. Maar gesprekke om die tafels en tydens tee maak die verskille duidelik. As ons nie verskil oor wat om met mense te maak wat anders liefhet as ons nie, baklei ons oor hoe om ons geld te verdeel. Die een voel sterk oor aftree-ouderdom en die ander oor dubbele ‘nie’ in Afrikaans. Vir een is inklusiewe taal onontbeerlik en vir ’n ander liefde vir die grond. Maar tog is daar ’n gevoel dat ons saam in die ding is.

Lees ook: Kerkbode se regstreekse blog 

Geborg

Ek loop prof Nel raak ná die openingsgeleentheid wat hy op een van die oggende by die sitting van die Algemene Sinode moes lei. Selfspottend sê hy: “Jy weet, ek hou nie eintlik van mense nie, maar Jesus hou van mense, en ek hou van Jesus.”

Een liewer as eenders.

Ek is weer verlief op die helende beauty van Jesusmense wat verstaan wat genade is. Wat bely ons is almal gelyk voor Jesus. Dat Hy ons van die strate af innooi na ’n feesmaal. Dat niemand tweederangs is in die community nie. Dat ook ek soos, Oupa, Ma en mnr Jonk ’n lewegewende verskil kan maak in my wêreld.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Versprei God se Woord
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top