Weerstand om te verander: Wat kerk by Kodak kan leer

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Sonder enige twyfel het kerklike leierskap baie moeiliker geword as ’n dekade terug.  Neem net in ag die moeilike gesprekke waarmee die kerk die afgelope tyd besig was en steeds is.  Die term ‘om relevant te wees’ word dikwels in gesprekke gebruik waar die leiers van die kerk vergader.  Maar hoe relevant is die kerk regtig vir die mense wat sy wil bedien?

Met die meederheid van gemeentes wat vandag besig is om kleiner te word wonder ek of die kerk genoeg nadink oor sy toekoms.  In die afgelope sinode het dit bekend geword dat die NGK ongeveer 45% kleiner geword het oor die afgelope 20 jaar. Hierby het die kerk se dooplidmate in die afgelope 20 jaar met 81% verminder (Let wel, hierdie persentasie (81%) is deur verkeerd bereken deur die NG Kerk se taakspan en is intussen deur dr Gustav Claassen bespreek in ’n amptelike verklaring aan RapportRed).  Dit is hierdie getal wat my laat regop sit.  Dit beteken dat die NGK nie meer ’n aantrekkingskrag is vir lidmate in die ouderdom van 30-45 nie.  Onlangs in ’n gesprek met leiers van ’n baie bekende kerkgroep in ons omgewing groei hul gemeentes juis met lidmate in die ouderdomsgroep van 20-45.  Dit was vir my duidelik dat die gereformeerde kerk sy greep op die gemeenskap wat ons wil bedien verloor het.

Kodak het 7 jaar terug bankrot gespeel en Forbes het Kodak daarop gewys dat hulle indirek self daarvoor verantwoordelik was. Hulle het eintlik hul eie toekoms gesaboteer deur nie betyds aan te pas by die massiewe kultuur verskuiwing wat in fotografie plaasgevind het nie. Hulle het nie betyds gereageer op die ontploffing van die digitale fotografie nie.  Kodak het te veel gesteun op die sukses wat hy met film fotografie bereik het, m.a.w. die verlede.

Ek lees ’n artikel  van Carey Nieuwhof oor die die Kodak debakel en hoe belangrik dit is dat die kerk se leiers hieruit moet leer.  Kodak het verward geraak tussen sy missie en sy metodes.  Te veel leiers in die kerk is vandag ook  verward tussen die metode en die missie van die kerk.  Dit is nie moeilik om hieroor verward te word nie. Die kerk bestaan uit mense en mense raak baie geheg aan hulle bekende metodes.  Dit word later deur repetisie van hierdie metodes hul kultuur en kort voor lank verloor hulle perspektief oor die werklike missie of die rede hoekom hulle in die eerste plek enigsins bestaan.

Jy mag dalk redeneer dat hierdie ’n onsinnige opmerking is want natuurlik weet die kerk mos wat sy missie is.  As die kerk geweet het was sy missie is waarom word die kerk dan bestuur vanuit sy metodes en nie sy missie nie?

As die metode belangriker word as die missie, kan die organisasie (selfs ook die missie) uiteindelik sterf, vra maar vir Kodak.

Die kerk het soms ’n ingeboude weerstand om te verander.  As ons die programme en strukture van die kerk uitdaag, ervaar ons teenkanting van alle kante af.  As ons die musiek in die kerk verander – moet ons onsself gereed maak om ongewild te wees. As ons die ‘metodes’ van kerk verander, word ons oorval met aanvallende e-poste.  Jy word gou beskuldig van liefdeloosheid terwyl die eintlike liefdeloosheid eerder lê in die traagheid om te verander.

Die metode mag nooit heilig wees nie, net die missie en die missie alleen mag heilig wees.

Die wêreld om ons verander vinniger as ooit.  Die kerk se reaksie hierop word krities en die noodsaaklikheid vir verandering dringend.  Op Ted Talk het Rick Warren die volgende stelling gemaak: “when the speed of change around an organization is faster than the speed of change within the organization, the organization becomes irrelevent”.

Die mees effektiewe gemeentes vandag is gemeentes wat konstant besig is om te verander. Effektiewe gemeentes verander nooit hulle missie of boodskap nie maar wel hulle metodes.

Verandering behoort in die hart van elke kerkleier vandag te wees.  Te veel predikante is vandag besig om te beplan vir hul aftrede.  ’n Predikant in ons buur-ring maak nou die dag die opmerking: ‘Ek het nog net 3 jaar oor tot aftrede, daarna kan julle maak met die kerk net wat julle wil’.

Verandering behoort in die hart van elke kerkleier te wees…

  • Ds Rinus Wassermann, NGK Kerk-In-Suid, Centurion

One thought on “Weerstand om te verander: Wat kerk by Kodak kan leer

  1. Kirstein Combrink says:

    Alle mense kry voortdurend te doen met verandering en ons het ‘n keuse hoe om met nuwe uitdagings te deel.

    Drastiese verandering by die afgelope algemene sinode het die NG Kerk nou in ‘n ‘vasgelooptheid’ met die Skrif laat beland wat talle lidmate ontnugter het en groot verwarring veroorsaak. Verandering bloot om mense se behoeftes te bevredig sal fataal wees.

    ‘Back to basics’ het ons kinders se oud-skoolhoof altyd gesê! Die herder moét sy skape ken, weet van hulle behoeftes, seker maak van hulle persoonlike verhouding met Jesus Christus as hulle Saligmaker, Hom ken en navolg tot seën van ander. Evangelisasie, sending, dankbaarheidslewe volg altyd as vrug van die Gees. As die predikant en kerkraad nie ‘n hart het vir bogenoemde nie, dan is dit ‘n verlore saak.

    Gemeentes waar die ampte van ouderling & diaken afgeskaf is; gebrekkige of selfs geen kategese aanbied nie (te veel druk op kinders by die skole); geen skoling of toerustingsgeleentheid; gebrekkige of beperkte Woordverkondiging – loop die gevaar dat hulle kandelaar weggeneem kan word soos die waarskuwing vir Efese.

    My gebed is dat gelowiges selfondersoek sal doen, ons verootmoedig voor die Here in biddende afhanklikheid van Hom alleen om in hierdie onstuimige tyd Sy ware kerk te bewaar en lei om die waarheid te kan onderskei en daarop te vertrou tot eer van Sy Naam alleen.

Comments are closed.