’n Lewegewende verskil

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Maak ’n lewegewende verskil. Dit was die tema van die Algemene Sinode 2019. Ons  het immers reeds vroeër besluit dat ons fokus op die wêreld is en dat ons God in sy lewegewende beweging in die wêreld wil volg. ’n Mens sou die tema ook anders kon verwoord. Jy sou kon sê, wees ’n lewegewende verskil. Of jy sou kon sê, Christus die lewegewende verskil. Die moderamen se keuse vir die woorde “lewegewende verskil” het egter alles te doen met die diep verbintenis binne die NG Kerk om op so ’n wyse oor die evangelie te getuig en dit te beliggaam dat dit vir mense nuwe lewensmoontlikhede oopmaak.

Ek het nog min ervaar dat ’n tema so meesleurend inslag vind in ’n instansie se denke en kultuur. Dalk is dit omdat dit ’n baie kragtige verwoording is van die sterk inslag wat die missionale denke reeds in die NG Kerk gevind het. Dalk is dit omdat ons ’n gereformeerde kerk is wat diep in ons DNS geprogrammeer is met die oortuiging dat die hele lewe en wêreld aan God behoort. Verlossing en bevryding van sonde en die dood is lewegewend. Maar ook die dien van die Here met alles wat ons het, is lewegewend- vir onsself en vir ander. Die heerskappy van Christus oor alles ίs  lewegewend.  

Tydens die sinode het dit in verslag op verslag geblyk dat die sinode se taakspanne lewegewend werksaam is. Die gesprek oor die toekomscenarios van die kerk was lewegewend. Ons kon byvoorbeeld verder dink as die negatiewe statistiek wat dikwels selektief uitgepak word om te verduidelik waarom ons nie eintlik ‘n toekoms het nie. Ons kon oor nuwe lewegewende gestaltes van kerkwees dink. Ons kon op grond van goeie navorsing nuwe moontlikhede sien. Die denke oor gendergeregtigheid en geweld het net so die gee van lewe vir almal ten doel gehad. So ook het die uitbreiding van die teologiese opleiding na vier bane ‘n lewegewende effek. Meer mense word nou bemagtig om die evangelie beter te verstaan en met ander te deel. Verby is die dae dat teologiese opleiding net toeganklik is vir ’n paar bevoorregtes. Die ekumeniese blootstelling aan soveel ander kerke was lewegewend. Hoe inspirerend is dit nie om te weet dat ons deel is van ’n groter wolk van getuies wat met net soveel energiedraers van die evangelie is nie. Hierdie kerke het respek vir ons en wil graag saam met ons lewegewend werk. Daar is ook oor selfdegeslagverhoudinge besluit om nie die lewe uit mekaar se oortuigings te probeer wurg nie, maar vir mekaar ruimte te maak- lewegewend.

Ons kon diep dink oor die eenheid van die kerk en opnuut begryp dat ons eenheid in Christus gegrondves is. Reg van die begin af was daar eintlik nog nooit  eenstemmigheid in die kerk oor alle kwessies nie. Die eenheid van die kerk was nog altyd net te vind in die gesamentlike verbondenheid aan Christus, die Here. Hierdie eenheid is van nature ruimte- en lewegewend. Mense met verskillende agtergronde, tale, stande en perspektiewe kan in diep verbondenheid met Christus mekaar se laste dra en mekaar verdra, vermaan, vergeef, bemoedig, ondersteun en vashou. Die eenheid in Christus is groter en sterker as al die onderskeidende en selfs die verdelende kenmerke van die deelhebbers aan Hom.

Ons kon praat oor die stryd in ons lande teen armoede en die lewegewende rol waartoe ons geroep is. Ons kon voor elke sessie ook kyk na kort video’s van werk wat reeds deur die kerk gedoen word om lewe aan mense te gee. Dit was baie inspirerend.

In die gesprek oor die kommunikasiefunksies van die kerk is daar teruggedink na die tyd toe die beeld van die NG Kerk op sy sterkste was. Die aanvoeling was dat dit in die tyd aan die begin van die 20ste eeu was toe die land in ’n reuse ekonomiese krisis was. Dit was na die vryheidsoorloë, die Groot Griep, die opstande op die myne. In daardie tyd het die kerk onder meer bygedra tot die totstandkoming van nuwe gemeenskappe, die opleiding van studente en die versorging van die armes. Die NG Kerk het bekend geword as draers van ’n lewegewende boodskap en lewenswyse.

Tydens die algemene sinode van 2019 het daar ’n besonderse welwillendheid, geheers, ook onderlinge verbondenheid en toegeneëntheid, selfs tussen mense wat baie van mekaar verskil oor allerlei kwessies. Ons eenheid in Christus was  deurslaggewend. Daar was ’n bruisende entoesiasme oor ons roeping as gelowiges in ons mooi lande. Die kerk wil ’n lewegewende verskil maak. Hoewel nie altyd eenstemmig nie, is ons hierin so eensgesind dat ek wonderlike hoop het vir die NG Kerk van die toekoms.

  •  Ds Nelis Janse van Rensburg is voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen.