Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Marcel Vosloo van Strand skryf: Fanie Cronjé het dit in sy artikel oor die nodigheid van voortgaande herinterpretasie. Dit lyk egter vir my of daar huidig ‘n gees in die teologie is om onsekerheid te omhels.
Vir my is dit goed as die evangelie vars en nuut bekend gemaak kan word. Daar kan egter nie die indruk geskep word dat die evangelie en God se wil vloeibaar geword het nie.
Dit is juis goed dat Fanie na Jesus se “herinterpretasie” van die wet in die Bergrede verwys. Jesus het juis hier God se diepste bedoeling met sy heerlike wil aan ons kom uitspel. In die proses vind Jesus dit ook nodig om aan ons te sê: “Moenie dink Ek het gekom om die Wet of die Profete af te skaf nie. Ek het nie gekom om af te skaf nie, maar om te vervul.” Mattheus 5:17
Dit sluit net so aan by Jesus se woorde in Mattheus 23:2&3 “Die skrifkenners en die Fariseërs sit op die stoel van Moses. Alles wat hulle dan vir julle sê, moet julle doen en onderhou…”
Voortdurende herinterpretasie moet steeds by die geopenbaarde wil van ons hemelse Vader bly. Die mense van Jesus se tyd was verbaas oor die gesag waarmee Hy gepraat het. Ons vind ons sekerheid en oortuiging wanneer ons sy leiding volg.
Die skelet van die evangelie – en God se geopenbaarde liefdeswil – staan vas. Hoe ons die vleis hier bysit, is ons grootse voorreg en verantwoordelikeid.
