Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

“Met ’n gesindheid van moet ons nie ons goed vat en loop nie, gaan ons nêrens kom nie,” het ds Pieter Badenhorst van NG gemeente Moreletapark op die eerste dag van hulle spesiale beraad gesê. Foto: Kerkbode

Moreleta nooi ontevredenes: Huil saam met ons

Dit is ’n woord wat “treur” beteken – “huil” selfs – en dit het herhaaldelik opgeklink in die ouditorium van NG gemeente Moreletapark in Pretoria waaruit ’n on­der­­­steu­nings­net­werk gegroei het vir lid­mate en gemeen­te­­leiers wat ongemaklik is met Skrifgebruik in die NG Kerk.

“Is dit sinvol om alleen te doleer?” wou sommige gemeenteverteenwoordigers uit die gehoor weet by ’n paneel van kundiges wat deur Moreleta byeengeroep is? “Ons dink dis altyd sinvol,” het ds Norma Rossouw, ’n voormalige voorsitter van Sinode Goudland en le­raar by NG gemeente Vaalrivier en paneellid by die twee-dagberaad vanaf die verhoog aan meer as 450 mense gesê. “Ons dink tog as dit ’n groot groep is, hoor hierdie ouens … het jy al gehoor hoe klink twee vrouens wat huil versus 52 vroue wat huil … so dis die effek. As twee gemeentes huil hoor jy dit nie so hard soos as 52 gemeentes huil nie. So ons dink dis net meer effektief hoe meer mense doleer.”

Ds Norma Rossouw

Om kerklik te “huil” was een van nege opsies wat op 25 en 26 Februarie verken is vir “die pad vorentoe” wat deur orga­niseerders as “nie-formele kerk­verga­de­ring” beskryf is.

Die beweegrede is dat “die Algemene Sinode oor tyd in ’n rigting beweeg het waar die gesag van die Skrif be­vraag­teken word en waar daar groot verskille oor Skrif­in­ter­pretasie ontstaan het,” lui­dens ’n uitdeelstuk by die saamtrek.

Die opsies is tydens groepsessies bespreek en ook later verfyn en as toereteller (“rev counter”) uitgebeeld en op die grootskerms voorgehou. Dr Johann Ernst, ’n voormalige aktuarius van die Algemene Sinode en ook een van die paneellede, het hierdie visualisering toegelig en “kerkherstel” (die opsie in groen gemerk in die grafika) uitgesonder as die “heilsaamste”.

“Ek sal tot my dood bly pleit dat ons altyd … kerkherstel hoër sal stel as afskeiding en die verdeling van die kerk,” het hy gesê. Oor die opsies in rooi gemerk (hof en nuwe kerk) het Ernst vroeër gesê dit is stappe “wat ons ten alle koste sal vermy, maar nooit sal uitsny nie.”

Nog een van die vrae uit die groep­sessies wat deur Rossouw bespreek is, was: “Is ons seker dat die meerderheid van die NG Kerk behoudend is? Is daar sta­tis­tieke?” Haar antwoord was: “Daar is nie statistieke nie. Ons dink net dat ons die afleiding kan maak uit ’n reaksie wat ons nog nooit in die kerkgeskiede­nis gesien het nie. Daar was nooit in ons kerkge­skiedenis ’n saak wat soveel appèl­le en gravamina (beswaarskrifte) ver­oor­saak het soos hierdie saak (die 2019-besluit oor self­de­geslagverbinte­nis­se) nie, wat tog mos nou vir ons sê dat daar in die kerk eintlik ’n groot ge­skil in hierdie stadium is en dat ’n groot groep ouens in die NG Kerk nie tevrede is nie.”

Oor die groter kerkverband het Rossouw gesê: “Ons gesindheid is nie dat ons teen iets of teen iemand is nie, ons gesindheid is dat ons vir die Skrif en die gesag van die Skrif (is).”

Dr Gustav Claassen, die algemene sekretaris van die NG Kerk, het by navraag oor die beraad gesê: “Groter begrip vir teenoorstaande posisies en die aanspreek van voor­oordele kan net be­vor­der word deur gesprek binne die ruimte waar die bona fides van die ‘ander’ aanvaar word. ’n Posisie waar ons onsself sonder meer teen­oor mekaar opstel is een wat die getuie­nis van die kerk nie eer aandoen nie.”

Die doel van die beraad, volgens Rossouw, was toerusting. “Ons wil eintlik tools vir julle gee wat sê daar is opsies. En die opsies hoef nie “alleen te gebeur nie”.

“Ons kan nie net huil nie,” het die le­raar gesê.

Haar versoek aan beraadgangers op die oggend van die laaste dag was: “Gaan terug na jou kerkraad, sê hier is die nege opsies en gee vir ons terugvoer. Ons weet dat baie van julle kerkrade baie wysheid het. Ons wil in kommunikasie met mekaar bly.”

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

1 thought on “Moreleta nooi ontevredenes: Huil saam met ons”

  1. I have left NG loong ago but is following the drama with interest.Note that almal is beswaard. When I was elder in NG almal was beswaard about all kinds of trivialities except our souls. Like having a service in English was one I recall.Note that the level of debate is filled with politically correct and wordly words and concepts these days.What happened to God’s Word in this respect.. Fail to see the problem.If the Bible in Old and New Testament specifically states that homosexuality is a sin,how can Die Sinode declare otherwise.??? Anything else is smoke and mirrors.

Comments are closed.

Scroll to Top