Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Koronavirus: Eredienste, nagmaal, begrafnisse, troues

Die amptelike persverklaring wat hieronder ingesluit word, is nie 'n nuusberig deur Kerkbode nie. Die persverklaring word in sy geheel hier gepubliseer vir die rekord en ter wille van lidmate se vrye toegang tot amptelike inligting in die kerk.


Verklaring uitgereik deur die interimkomitee: NG Kerk Vrystaat 16 Maart 2020

Liewe Vriende

Die Interimkomitee het vanmiddag vergader. Ons wil graag vir u verseker dat ons ernstig oor die aankondiging van die Staatspresident gepraat het. Ons doen ’n beroep op gemeentes en lidmate om nie paniekerig te raak in hierdie tyd nie, maar om met moed en geloof die Here te bly dien, deur uit te reik na die gemeenskap en om te gee vir lede van die gemeenskap.

Hiermee gee die Interimkomitee die volgende reëlings aan u deur na aanleiding van die aankondiging wat die Staatspresident gemaak het op 15 Maart 2020.

1. Teologiese Begronding
Die Interimkomitee ondersteun die reëlings soos deur die Staatspresident gemaak is, in geheel. Romeine 13:1-7 roep ons op om gehoorsaam aan die staat te wees, want die hierdie leiers is deur God oor ons aangestel. Romeine 13:10 herinner ons ook dat die liefde die naaste geen kwaad aandoen nie, daarom is die liefde die volle uitvoering van die wet. Hierdie liefde vra dat ons mense se blootstelling aan die virus so goed as moontlik sal probeer beperk, veral diegene wat minder weerbaar is. In die lig hiervan gee die Interimkomitee die volgende riglyne aan u deur doen ’n beroep op u om dit ten sterkste te oorweeg:

2. Eredienste
Ons versoek u om dit ernstig te oorweeg om alle eredienste tot en met na Paasnaweek af te stel. U kan van sosiale media soos Facebook life streaming, Whatsapp (u kan u hele gemeente in Whatsapp groepe indeel per wyk/blok so kan u ook kontak hou met almal en dadelik weet was daar iewers ’n krisis is waaraan aandag gegee moet word), Potgooie (Anchor) en Youtube gebruik maak om elke Sondag die boodskap na lidmate uit te stuur.
Indien u verkies om voort te gaan met die eredienste gee ons aan u die volgende riglyne deur om te volg wanneer u eredienste hou:
• Op geen oomblik mag daar meer as 100 mense in ’n gebou teenwoordig wees nie, dit is ’n verbreking van die beperking wat die Staatspresident aangekondig het.
• Sorg dat daar by die deur seep en water beskikbaar is vir die erediens bywoners om hande te was voor hulle in die gebou ingaan.
• Laat lidmate en/of families ten minste ’n 2 m radius van mekaar sit om die oordrag van die virus via hoes en speeksel te vermy.
• Ons rig ’n versoek dat lidmate wat ouer as 60 is afgeraai word om eredienste by te woon en dat die predikant en die kerkraad verantwoordelikheid neem vir die geestelike versorging van hierdie lidmate.
• Wanneer kollekte opgeneem word, plaas die kollekteborde voor in die liturgiese ruimte en laat mense stelselmatig vorentoe kom om die kollekte in die borde te plaas. Sorg vir handskoene vir diegene wat na die tyd die geld hanteer. Alternatiewelik kan u oorweeg om geen kollekte op te neem nie en lidmate te versoek om kollekte na die gemeente oor te betaal via elektroniese metodes soos zapper ens.

3. Nagmaal
Die Interimkomitee versoek u om dit ten sterkste te oorweeg om vir ten minste die volgende maand nie voort te gaan met die bediening van Nagmaal nie. Paasnaweek vieringe kan uitgestel word tot ’n latere geleentheid wanneer dit weer veilig is vir groepe mense om saam te kom vir eredienste.

4. Ander gemeentelike byeenkomste
Die president het ook versoek dat ander byeenkomste van minder as 100 mense tot die minimum beperk moet word, u word dus versoek om dit ernstig te oorweeg om nie in hierdie tyd wyksbyeenkomste, kleingroep byeenkomste of Bybelstudie groepe te hou nie.
U word ook ernstig versoek om nie openbare byeenkomste soos ’n basaar of makietie of gemeente konserte en gemeente feeste te hou nie, want dit is nie moontlik om te beheer wie dit bywoon nie en almal teenwoordig word blootgestel in sulke situasies. Stel hierdie byeenkomste eerder uit na ’n latere datum.

5. Begrafnisse
Wanneer daar ’n begrafnis is, word u versoek om dit as ’n familie aangeleentheid te hanteer en word die breër geloofsgemeenskap versoek om eerder nie ’n begrafnis by te woon nie. U word ook versoek om weer na te dink oor verversings na die begrafnis aangesien dit ook ’n verdere vergaderplek van groepe mense is wat vermy moet word.

5. Troues
U word versoek om aan bruidspare deur te gee dat byeenkomste van mees as ’n 100 mense verbied word. Dit sal dalk ook goed wees om aan bruidspare die versoek te rig om eerder die voorgenome troues uit te stel of om dit te oorweeg om ’n troue ook ’n familie aangeleentheid te maak waar net die naby familie teenwoordig is vir die bevestiging van die huwelik.

6. Werkers
Ons versoek lidmate om in gedagte te hou dat hulle werkers, veral tuiniers en huisbediendes van die weerlose van weerlose mense is en dat hulle direk geraak word deur die aankondiging dat vervoer deur busse, taxi’s en treine tot die minimum beperk word. Ons versoek lidmate om in hierdie tyd veral ook te let op die welstand van hulle werknemers en om voort e gaan met die betaling van lone, selfs al kan die werkers nie kom werk nie. Ons versoek ook lidmate om toe te sien dat werkers genoegsaam ingelig is oor die virus en dat daar vir hulle voorsiening gemaak word om ten minste aan die basiese higiëne vereistes te voldoen.

7. Bejaardes
Die Interimkomitee is tans besig om met ENGO in gesprek te tree oor die welstand van bejaardes in ouetehuise en sal sodra die gesprek afgehandel is, verder inligting aan u deurgee.

  • Verklaring uitgereik deur die interimkomitee: NG Kerk Vrystaat 16 Maart 2020
No data was found

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.