Die amptelike persverklaring wat hieronder ingesluit word, is nie 'n nuusberig deur Kerkbode nie. Die persverklaring word in sy geheel hier gepubliseer vir die rekord en ter wille van lidmate se vrye toegang tot amptelike inligting in die kerk.
Geliefdes in die Here Jesus Christus
Paulus moedig die gemeente in Kolosse aan tot volhardende gebed, waaksaamheid, dankbaarheid en oop deure vir die evangelie terwyl hy in gedwonge isolasie in die tronk is (Kol 4:2-6). Hy moedig die gemeente tot wyse optrede teenoor vreemdelinge aan én dat hulle, net soos hy, die beste gebruik van elke geleentheid (kairos-oomblik) sal maak. Ons het die voorreg om oor eeue terug te kyk en van God se trou deur alle geslagte heen te getuig. Dit is juis in ons diepste nood wat ons intens bewus raak van God se genade en sorg! Paulus sê in soveel woorde: “Nou is die tyd om die hoop wat ons in Christus het te verkondig.” Ons kan by die kairos-oomblik waarvan hy praat aansluit. Die Koronavirus bring hierdie geleentheid direk op ons voorstoep en tot in ons huis!
Geen paniek en vrees nie, maar ook geen ontkenning nie. Dit, meen ons, behoort die uitgangspunt nou te wees wanneer ons gelowig praat oor die implikasies van die Koronavirus en die fase waarin ons as land is, naamlik die bekamping van verdere verspreiding.
Die Moderatuur van die Algemene Sinode word deur die media gevra om ’n opinie te gee. Hiermee net die algemene uitgangspunt waarmee ons tans op die versoeke reageer. Moontlik help dit julle as plaaslike leierskap ook in julle denke. Terugvoer is natuurlik welkom!
- Alle aanduidings is dat ons één kans het om die verspreiding van die virus te verlangsaam. Dit vra van ons almal om, so vinnig as moontlik, so beslis as moontlik, maatreëls te tref wat sosiale kontak tussen mense sal verminder. Die aard van die virus is uniek. Dit vra van ons deernis en buitengewone optrede. Deernis beteken nou om sosiale kontak te beperk waar en hoe ons ookal kan.
- Ons missionale roeping sluit in, om op ’n verantwoordelike wyse selfs meer te doen as wat die nasionale maatreëls van ons vra, deur kreatief na geleenthede vir bediening te soek en sonder huiwering ons gemeenskappe in nood te dien. Ons vertrou dat plaaslike gemeentes wysheid en leiding van die Gees hieroor sal ontvang.
- Dit is ’n tyd om met groot verantwoordelikheid en selfbeheersing op te tree. Draers van hoop weerhou hulle van onverskillige uitsprake (byvoorbeeld soos dat die uitbraak van die virus ’n voorbeeld van God se straf is of net sekere persone in die gemeenskap raak). Ons fokus eerder nou op hoe ons ons naaste kan dien en veral weerlose mense kan ondersteun.
- Eredienste is die hart van gemeentewees. Ons doen ’n beroep op gemeentes om nie voort te gaan met hulle tradisionele benadering tot die erediens nie, maar binne hulle konteks, maatreëls te tref dat die evangelie steeds aan mense verkondig kan word, sonder die samekoms van groot groepe mense. Mense het nou veral onderlinge steun en die gemeenskap van gelowiges nodig.
- Sinodes word versoek om ernstig te besin oor reëlings rondom personeel wat moet reis (binneland of buiteland); oor self-isolasie van diegene wat onlangs oorsee was; en oor toegangsmaatreëls by kantoorkomplekse. Alle sinodale en streeksvergaderings behoort tot die minimum beperk te word deur die benutting van telefoonkonferensies of ander digitale platforms.
- Ons wil ook graag ons lidmate inlig oor voorsorgmaatreëls, eerste oppervlakkige onderskeiding van die simptome van die virus, aanmeldingsprosedures, en dies meer. Maak seker dat die bronne wat gebruik word betroubaar en feitelik korrek is.
- Ons verwys sinodes na die Wet op Rampbestuur (Act 57 of 2002, Disaster Management Act) wat landsburgers verplig om by maatreëls te hou wat ten tye van rampgebeure afgekondig word.
Hiermee versoek die Moderatuur alle sinodes vriendelik om besluite/verklarings wat uitgereik word, aan die algemene sekretaris te stuur. So kan ons ingelig bly en wedersyds by mekaar aansluit en leer.
Die situasie is vloeibaar. Ons bly in gesprek met mekaar. Ons bly hoopvol en naby aan mekaar (al word ons versoek om fisies ver van mekaar af te bly).
In verbondenheid met mekaar in Christus
Uitgestuur deur die Moderatuur van die Algemene Sinode