Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

“Verlore leraar”-brief “kreet vir hulp”

“Hierdie leraar se brief is ’n kreet vir hulp,” sê ds Theunis Botha, PSD: Predikantebegeleiding vir die Wes-Kaapse Sinode, op die “ontstellende brief” van ’n “verlore leraar” wat Kerkbode onlangs ontvang het.

“Dominees word rondgeslinger tussen die uiterstes van emosies … Maar wanneer hulle hulle pastorie verlaat, bêre hulle dit diep binne en bedien hulle hulle gemeente. Êrens moet hulle dit na die oppervlak kan bring om lug te gee,” sê Botha oor die dikwels uitdagende taak van ’n dominee.

Die leraar se brief begin so: “Ek kan nie meer nie. Ek is moeg tot in my siel toe. Geen nuwe môres. Die einde het vir my aangebreek. Die agteraf, die foutvindery, die onvergewensgesindheid, liefdeloosheid het my gedryf na waar ek nou sit. Ek het die einde van die pad bereik. Die kerk het my gebreek, emosioneel en geestelik.” Maar hy skryf ook verder dat niemand vra hoe dit regtig met hom gaan nie. Ook dat hy “maar net ’n werknemer is” en selfs by die opening van die kerkraadsvergadering beperk word.

Kerkbode wou by Botha weet hoe ’n moedelose predikant dan kan maak? Volgens Botha is die predikant se gemeente en kerkraad áltyd die “eerste plek van versorging”. Die gemeente en kerkraad moet byvoorbeeld sorg dat die leraar sy/haar nodige verlof ontvang sodat hy/sy nie uitgebrand raak nie, sê Botha.

Verder, verduidelik Botha, is dit ’n ringsverantwoordelikheid en moet die leraars in die ringsgebied na mekaar omsien.

Volgens Botha is die Wes-Kaapse Sinode gelukkig om ’n predikantebegeleidingpos soos syne te hê omdat dit nie vir alle sinodes moontlik is nie. Daarom kan predikante van die Wes-Kaapse Sinode in ’n derde stap met hom kontak maak indien daar probleme is. “Gedeeltelike subsidie word verskaf sodat dominees nodige terapeute kan sien,” aldus Botha.

Die vierde stap, verduidelik Botha, is die Communitas-begeleidingsentrum. Leraars kan vir drie dae hiereen gestuur word waar twee begeleiers aan die einde van die tydperk ’n spieël sal ophou vir die leraar. “Die leraar sal dan saam met sy/haar twee begeleiers ’n area van groei identifiseer en ontvang dan ’n mentor wat hom/haar vir ’n jaar in die spesifieke area sal begelei,” sê Botha.

“Ons glo ook dat leraars op hulle geloofsreis bygestaan moet word. Daarom word hulle ook gesubsidieer om Gys van Schoor se Sentrum vir Geloofsvorming by te woon,” volgens Botha.

Laastens wil Botha álle dominees, maak nie saak in watter streek nie, uitnooi vir ’n retraite by die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit as hulle tans deur diep waters gaan.

“Dominees wys dikwels moeilik hulle brose kant vir ander dominees. Maar daar is altyd hoop,” sê Botha.

HULP:

Ds Theunis Botha is die predikant in sinodale diens getaak met predikantebegeleiding vir die Wes-Kaapse Sinode. Hy kan gekontak word by pastor@sun.ac.za of skakel 021 808 9098. Ander aanlyn-ondersteuningsgroepe sluit in http://www.sadag.org/, wat ’n netwerk van noodnommers bevat. – Red.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

4 thoughts on ““Verlore leraar”-brief “kreet vir hulp””

  1. Hennie Prins

    So is psrty van ons maar uit die bediening, om daar weer gesond te kom word. Maar die Here maak weer wonderlike nuwe deure oop.

  2. @Kerkbode. So n nodige respons. Dit is net onaanvaarbaar dat na predikante net in die manlike voornaamwoord verwys word.Alle predikante word hierdeur geraak. Ons verwag meer inklusiewe taal van Kerkbode asb!

    1. Conette le Roux

      @Juanita, in dié geval is die briefskrywer wel manlik. Daarom die manlike voornaamwoord. Hy het met Kerkbode voor die plasing van die brief gekommunikeer.

  3. Kerkrade is ons predikante se grootste seer. Hoor en sien hoe hulle optree. Hulle dink hulle besit die kerk. Voel so jammer vir die
    verkramptes. My hart gaan uit vir ieder en elke predikant. Hulle altyd bo aan my gebeds lys vernaam op n Saterdag aand. Staan sterk manne en vroue van God. Julle is ook mense net soos die wat agter die deur staan. My ondervinding nie n opinie!!!

Comments are closed.

Scroll to Top