Eredienste: Soet en suur van nuwe manier

Einde Mei het gemeentes die groenlig vir klein eredienste by die regering gekry. Ons hoor meer by gemeentes wat kerkdeure oop­gemaak het.

In Port Elizabeth sê dr Willem Wiid, predikant by NG gemeente Parkheuwel, dat die gemeente uitgehonger was vir die saamwees van gelowiges. Hy vertel dat die virtuele kerkdienste nié die gevoel van saamwees vir hulle kon skep nie. Wiid sê dat die eerste kerk­diens gevoel het of hulle terug na hulle Pa se huis toe gekom het. Hy brei uit: “Die gemeentelede wat by die eerste diens was, was baie emosioneel toe die klok die eerste maal gelui het. Die bekende geluide. Dit het ons diep ge­roer,” vertel Wiid.

Ds Pieter Grobler, predikant by NG gemeente Scottburgh in KwaZulu-Natal, vertel: “Ons het besluit om die eredienste te hervat omdat die aantal gevalle in ons provinsie nog laag was en nie almal in die gemeente digitale toegang het nie.” Hy meen dit is amper moeiliker om vir maskers te preek as wat dit is om vir leë kerkbanke te preek. Grobler verduidelik: “Dit voel koud om mense nie fisies te kan groet en blad te skud nie. Ek kan nie hulle ge­sigs­uitdrukkings deur die maskers ty­dens die preek sien nie. Dit is vreemd as almal so ’n ent uitmekaar sit en deur die maskers, wat onduidelik is, voor die diens praat. Verder is die uitvoer van die maatreëls soos al die skryf­werk, die neem van almal se tempera­tuur en die hande was ’n uitdaging. Dit voel baie onnatuurlik,” vertel Grobler.

In Namibië vertel ds Leon Fourie van NG gemeente Outjo dat hulle dit makliker as in Suid-Afrika gehad het omdat die koronavirus-syfers laag was. Hy verduidelik: “Teen die tyd wat ons weer 50 by ’n byeenkoms mag gewees het, was die syfers in Namibië nog onder tien. In ’n boerderygemeenskap is die eredienste baie keer die enigste plek waar mense mekaar sien en daarom is eredienste vir ons gemeenskap broodnodig. Om ons eredienste te hervat was ook vir ons ’n sin van verantwoordelikheid. Dit is ons kerk en ons moet kyk na die finansies en na die geloofslewe van die gemeenskap,” sê Fourie.

Máár die hervat van eredienste was nie vir almal net maanskyn en rose nie. Ds Derick Claassens van NG gemeente Rensburg in Heidelberg in Gauteng vertel dat daar met die eerste erediens slegs dertig lidmate opgedaag het. Hy sê alhoewel dit vir hom beter is om voor mense in die kerk as vir ’n kamera te preek, is die mense maar skrikkerig.

One thought on “Eredienste: Soet en suur van nuwe manier

  1. Muller Oosthuizen says:

    Eredienssyfers stats op platteland wissel tussen 10-30% – genadiglik begin “die kerk” stadig maar seker die digitale era betree, ligjare agter die res van die wêreld.

Comments are closed.