Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
Die grendeltydperk het gesorg vir ’n verskeidenheid meme op sosiale media. Een van die gewilde meme wat tydens die grendeltydperk sy verskyning gemaak het, lees: “Indien jou man enige van hierdie doen is jy ’n geseënde vrou”. Die meem wys dan foto’s van vier jong manne wat onderskeidelik klere was, kosmaak, stofsuig en skottelgoed was. Ek het hierdie meem op ’n predikant se Facebookblad raakgeloop. Maak jy die kommentaar onder die meem oop, beaam verskeie vroue hoe waar dit is en hoe geseënd hulle is met mans wat help in die huis – veral tydens die grendeltydperk.
In die Nederlandse praktiese teoloog Gerben Heitink se boek Biografie van de dominee word die predikantsamp met al sy dienste gedekonstrueer en gereduseer tot ’n ‘overbodige amp’. Daar is darem by Heitink ’n “ás” te bespeur. Ás predikante, sê hy, daarin slaag om vaardige hermeneute te wees wat die teks van die Bybel op so ’n wyse interpreteer en aanwend dat dit vir mense in vandag se konteks help, dan het predikante ’n ‘vitale amp’. My vraag hierop sou wees moet ons as hermeneute onsself slegs by die vernuftige lees van die Bybel hou? “Nee, vir seker nie!”, sou Heitink sê. Daar word ook vertel dat Johan Heyns vir sy studente geleer het: “Jy moet elke dag jou Bybel en jou koerant lees. Die Bybel om te weet wat om te sê en die koerant om te verstaan vir wie jy dit sê.’” Om ’n ‘vitale amp’ in vandag se tyd te wees sou dan beteken dat predikante ook tekste soos die bogenoemde meem moet lees en interpreteer.
Lees ook | PROFIEL: Die prof in die ongemakstoel
’n Vernuftige hermeneut sal begin deur te vra na die skrywer van hierdie teks en wat die persoon met die teks wou sê. Verder sal ’n mens vra vir wie die teks geskryf is en in hierdie geval wat die bedoeling was van die persoon wat dit op hulle Facebookblad gedeel het. En as ons aanvaar dat ons nie net tekste lees nie, maar dat tekste ons lees, sou ek as goeie hermeneut ook eerlik moet nadink oor my eie reaksie op hierdie teks en wat dit ook van my sê. Met dit alles in gedagte wonder ek watter konstrukte en diskoerse agter hierdie meem lê en wat dit vir ons as gelowiges en kerk te sê het.
Etlike vrae aan die teks kom dadelik by my op. Ek wonder of dit vir mans ongewoon is om huistake te doen. Help geen mans in ons konteks in die huis nie? En, indien wel, hoe lyk mans wat “help” in die huis – slegs jonk en aantreklik? Is huistake aan ’n bepaalde geslag gekoppel? Die meem bevestig die stereotipe dat take soos kosmaak en skoonmaak ’n vrou se werk is en dat mans nie sulke dinge doen nie. Wat natuurlik ’n mens dan laat wonder watter take aan watter geslag gekoppel word. En hoe en deur wie dit bepaal is. Hierdie soort teks versterk die stereotipering van rolle binne die huwelik. Vir die skrywer van die teks sou ek graag wou vra óf mans wat huistake doen regtig besig is om hulle lewensmaats te “help”. Óf is huistake nie deel van almal wat in ’n huis woon se verantwoordelikheid nie?
Lees ook | 30 jaar later: Vrou se pad na kansel steeds nie gelyk, wys data
Die meem gaan verder om te sê, sou jou man huistake verrig is jy as vrou geseënd. Ek sou wou vra wat hier met geseënd bedoel word. Wanneer is ’n mens werklik geseënd? Is geseënd-wees nie soveel meer as wat ons besit en die goeie wat met ons gebeur nie? En as jou man nie in die huis help nie – is jy dan steeds ’n geseënde vrou? Ek wonder hoe die meem sal lyk wat lees ‘Indien jou vrou enige van hierdie doen is jy ’n geseënde man’? Ons leef in ’n hutsmerk-blessed samelewing wat dié ryk begrip so uitgehol het dat dit skaars herkenbaar is. Hutsmerk-blessed word aan byna alles toegeskryf. Hierdie teks wil die begrip van geseënd-wees nog verder reduseer tot huistake wat deur ’n bepaalde geslag gedoen word.
’n Goeie hermeneut eindig altyd met die wat-vraag: Wat beteken hierdie teks vir ons nou? Ek wil in hierdie geval eerder vra: Wat verkondig ons wanneer ons ’n teks, wat die stereotipering van geslagte en rolle binne die huwelik bevorder, op sosiale media deel? ’n Mens sou ook kon vra wat hierdie teks aan jong mans en vroue kommunikeer rondom rolle en take binne die huwelik. Versterk hierdie teks nie uitgedateerde verwagtings rondom vroue, en mans, nie? En speel hierdie tipe tekste ’n rol in die instandhouding van patriargale strukture in ons samelewing?
Miskien is die antwoord op my wat-vraag dat ons ons hermeneutiese hoede opsit en ’n paar vrae aan tekste vra voordat ons die share-knoppie druk.
- Ds Fay van Eeden is predikant van die NG gemeente Stellastraat, Suidoos-Pretoria.