Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

“Ek lees verskeie getuienisse deur slagoffers wat die atoombom oorleef het,” skryf Erns Grundling ná sy besoek aan een van Japan se mees berugte besoekpunte. “Kazuko Miyamoto, wat daardie oggend sestien jaar oud was en sy ma en broer verloor het, skryf: ‘Wretched bodies lying scattered all over a broad streetcar street … I saw hell. I was feeling numb.’” Die foto hierbo is hoe die Atomic Bomb Dome-gebou waarna die skrywer in die uittreksel hieronder verwys, deesdae lyk. Foto: Erns Grundling

75 jaar later: Hiroshima en Nagasaki

‘Ek het die hel gesien,’ skryf seun wat aanval oorleef

Toe die bom met die kodenaam Little Boy, wat drie meter lank was en vier ton geweeg het, daardie tragiese oggend skuins bokant die Atomic Bomb Dome ontplof het, was die temperatuur op grondvlak ’n ondenkbare 6 000 grade Celsius, skryf ERNS GRUNDLING in hierdie uittreksel uit sy boek Sushi en Shosholoza – Rugbyreise en pelgrimstogte in Japan, wat verlede jaar by Queillerie verskyn het.


Vanoggend op die trein het ek gelees van die sogenaamde “double survivors”. Tot tweehonderd oorlewendes van Hiroshima se atoombom het kort daarna gevlug na Nagasaki, waar ’n tweede kernbom, ’n plutoniumbom met die kodenaam Fat Man, drie dae later ontplof het …

Daar was verskeie oorlewendes ná die twee kernbomme.

Hoe herstel enige mens egter van so ’n dubbele trauma? Byna twee-en-negentig persent van Hiroshima se ses-en-sewentig-duisend geboue is vernietig of erg beskadig. Die park is gebou in die stad se voormalige kommersiële hartklop.

Soos al die ander Japannese stede wat in puin gelê is ná die Tweede Wêreldoorlog, is Hiroshima daarna met fanatieke ywer herbou. Agter die Atomic Bomb Dome se skelet troon die moderne middestad se hoë geboue. Net soos die gang van die seisoene, met die herfs vanoggend sigbaar in elke blaar in hierdie boomryke park, het die lewe voortgegaan in Hiroshima.

Die woord “peace” is sterk aanwesig by al die monumente. Hier is ’n Peace Pond met ’n Flame of Peace langsaan, wat eers uitgedoof sal word wanneer alle kernwapens wêreldwyd vernietig is.

Die Bell of Peace is ’n groot klok wat hang onder ’n koepel, omring deur ’n dammetjie vol lotusblomme. Langs die klok is ’n gedig op ’n bordjie deur ene Hiroshima Higan-No-Kai.

Die eerste paar versreëls lui: “We dedicate this bell / As a symbol of Hiroshima Aspiration / Let all nuclear arms and wars be gone, and the nations live in true peace!”

Kenmerkend Japannees is hier ook ’n minder poëtiese vermaning deur die City of Hiroshima dat jy die klok nie onbehoorlik hard moet lui nie: “Do not strike the Bell with great force. After the sound reverberations fade away, you may gently strike the Bell again.”

Ons besoek ook die Peace Memorial Museum, wat in 1955 geopen is. Hier is ’n aangrypende visuele uitstalling wat die bomontploffing en gepaardgaande skade uitbeeld, inligtingsborde wat die geskiedkundige konteks in detail beskryf, en ’n groot versameling artefakte, wat slagoffers se besittings insluit. Die boodskap is eenvoudig en treffend: “No more Hiroshimas.”

Teen een van die mure is reusagtige foto’s wat Hiroshima vóór en kort ná die atoombom toon. Die omvang van die vernietiging en tienduisende onskuldige mense se pyn en lyding is te veel om op een slag in te neem.

Ons skiet helaas nie binne die museum nie. Dit is onderbelig en hier is honderde mense, veral skoolkinders, wat tussen die uitstallings saamdrom.

Die foto’s van “nuclear shadows” is baie ontstellend. Die ontploffing se ultraviolet-bestraling het letterlik die kleure van sekere oppervlakke, soos trappe, verander. As iemand dus op die trap gesit het en tydens die ontploffing in die pad van die bestraling was, het ’n “afdruk” van die persoon se skaduwee op die plek gevorm. Van hierdie spookagtige skaduwees is vandag nog sigbaar in die stad.

Ek lees verskeie getuienisse deur slagoffers wat die atoombom oorleef het. Kazuko Miyamoto, wat daardie oggend sestien jaar oud was en sy ma en broer verloor het, skryf: “Wretched bodies lying scattered all over a broad streetcar street. A baby’s body half burned and swollen. A horse staring off in space with its eyes popping out. A great number of people, who would have been walking briskly along the street until a little while ago, were lying dead differently from each other. I saw hell. I was feeling numb.”

Hier is ook ’n foto van ’n nuwe plant wat ’n paar maande later uit die puin ontspring het, nadat daar aanvanklik verwag is daar gaan vir tot vyf-en-sewentig jaar niks groei nie. Ek dink terug aan die bonsai van Hiroshima-sade in Stellenbosch se Botaniese Tuin, wat Willem Pretorius ’n paar weke gelede aan my gewys het. Nie eens ’n kernwapen kon die natuur finaal troef nie.

Twee artefakte gaan my nog lank bybly: Die een is ’n verskroeide driewielfietsie wat behoort het aan die driejarige Shinichi Tetsutani wat daardie oggend gesterf het; die ander is ’n nederige polshorlosie, met die wysertjies gestol om kwart oor agt, toe die tyd daardie oggend in Hiroshima tot stilstand gekom het …

  • Erns Grundling se boek Sushi en Shosholoza – Rugbyreise en pelgrimstogte in Japan is deur Queillerie gepubliseer en is beskikbaar in alle goeie boekwinkels asook AANLYN.  
  • Meer werk deur die skrywer kan HIER gelees word.  

 

 

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

1 thought on “75 jaar later: Hiroshima en Nagasaki”

Comments are closed.

Scroll to Top