Annus horribilis én mooiste maand

In ons skryfkompetisie nooi ons lesers uit om oor enige van drie onderwerpe te skryf. Een van die kategorieë heet: 2020: Insigte uit ’n annus horribilis. “Annus watse ding?” vra ’n oorblufte kollega toe ons dit breinstorm. “’n Merkwaardig slegte jaar, kan ’n mens seker eerder sê … maar kom ons kyk of dit help om ten minste daardie effens voor­spelbare plakker op 2020 se voorkop te plak. Vatso!

’n Onverwagse goue draad span deur ’n paar onlangse Kerkbode-bydraes: Hondeliefde. Dit het begin by ’n rubriek van Dana Snyman wat die leser so inlei: “En nou is Kleintjie ook weg. Nou het ek net twee honde oor. Vlooi en Blackie.”

Kleintjie was, so vertel Dana, onseker van haarself en “het knaend na jou toe gekom en haar neus teen jou kom druk. Dan moes jy haar eers oor die kop vryf dat sy veilig op aarde voel.” Wat ’n mooi beeld!

Dan deel Fanie Cronjé ’n fassine­rende brokkie uit die verre verlede: Hon­de se instinktiewe lek van eie wonde as deel van die genesingsproses, is in talle antieke kulture oënskynlik in verband met genesingskrag verstaan, verduidelik die Dinkstof-skrywer in sy rubriek: “By Askelon is daar byvoorbeeld ’n hondebegraafplaas met die gedeeltelike tot volledige oorblyfsels van 1 500 honde gevind (5de eeu vC). Dié honde is nie daar ingegooi nie, maar een vir een in vlak grafte geplaas. Die huidige konsensus is dat dit met die een of ander Fenisiese genesingskultus verband hou.”

Ook Nadia Marais skryf oor honde. Die “vriendskap en genade van ’n skaap­hond met die naam Filos”. In haar Ge­dagtes oor Kerkwees-rubriek vertel sy hoe eredienste soms ingerig word rondom troeteldiere op die Son­dag van Sint Franciskus van Assissi, wat vanjaar op 4 Oktober val; net om die draai: die mooiste maand, as ons C Louis Leipoldt kan glo. Hy kry dit tog reg om jaar na jaar reg te wees. En so het selfs die slegste jare hulle mooiste maande.

Daardie teenstrydigheid laat my dink aan die teatrale term wat ’n mens dikwels vir aanneemhonde hoor: “rescues”. Ek het self so ene, genaamd Gracie. Maar hondeliefhebbers sal dalk verstaan as ek sê dis soms moeilik om te weet wie red nou juis vir wie.