‘G’n eenheid in NG Kerk oor wat ons glo’

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Arnold Griesel van Bethulie skryf:

Dr André Bartlett se opiniestuk in Kerkbode (27 November) verwys. Dit is duidelik dat die skrywer nie die nuanse verstaan waaroor gedoleer word nie:

Hy skryf: “Die probleem is nie dát ons van mekaar verskil nie, maar hóé ons ons verskille hanteer: of ons nou doleer of nie doleer nie, ons behoort almal aan die Here.”

Daar is ’n rede waarom daar gedoleer word – getrouheid aan God en sy Woord is op die spel.

Die kort antwoord is dat daar radikaal van Skrifgesag en die nakoming van ons Gereformeerde geloofsbeginsels verskil en afgewyk word. Soos Artikel 5 van die Nederlandse Geloofsbelydenis sê (nog altyd die NG Kerk se amptelike belydenisskrif), “ons glo ook sonder twyfel alles wat daarin (in die kanonieke boeke van die Skrif) vervat is, nie juis omdat die kerk hulle aanvaar en as sodanig beskou nie, maar veral omdat die Heilige Gees in ons hart getuig dat hulle van God is.”

Die doleerders is hartseer dat die Algemene Sinode nie net afwyk van die NG Kerk se leer nie maar ander aanmoedig om deel van die afbreek van Bybelse leer te word. Die doleerders beskou die nuwe rigting waarin die NG Kerk vaar as ’n resultaat van meer gewig gee aan die wêreldse tydsgees as aan die ewigdurende Woord van God. Argumente in die kerk ten gunste van selfdegeslagverhoudings word nie gegrond op die Skrif nie (wat verstaanbaar is, gegewe hoe duidelik die Skrif hieroor spreek), maar word eerder gegrond op ander oorwegings wat teenstrydig is met die Skrif asook en met die beskouing van die algemene Christelike kerk deur die eeue.

Dit is verder duidelik dat ’n wesenlike verskil in Skrifbeskouing direk lei tot ooreenstemmende verskille in teologie, soos ons dit vandag duidelik bevind in die NG Kerk. Die NG Kerk sit met totaal verskillende beelde van wie God is (sy aard), van hoe Hy die mens geskape het (antropologie), van die aard en definisie van sonde (hamartologie), en dus van die aard van verlossing en heiligmaking (soteriologie). Dit kom neer op ’n verskil van Godsbeeld en van die evangelie.

Hier aanskou ’n mens die hart van die probleem: Daar is geen eenheid in die NG Kerk oor wat ons glo nie. Maar kerklike eenheid is juis veronderstel om gegrond te wees op eenheid van geloof. As die geloof wat die kerk nog al die eeue bely deur kerkleiers verwerp word, verbrokkel haar eenheid, soos ons dit vandag sien in die NG Kerk. Uit die oogpunt van die doleerders is die leiers in die Algemene Sinode (wie se amp dit juis is om die geloof te verdedig en te onderhou) besig om aktief dwaalleer te bevorder in die kerk en af te wyk van die “geloof wat vir eens en altyd aan die heiliges toevertrou is” (Judas 3). Dit is die kern van die saak, en waarom daar gedoleer word.

NG Kerklidmate sou dit dan ook kon verwag van die leierskorps van die kerk om die kuratorskap van ons Gereformeerde leer met die erns wat dit verdien te bejeën – sodat die evangelie suiwer verkondig word. Dit gebeur eenvoudig lank nie meer nie. God word onteer.

Ten slotte, dit kan miskien lyk na ’n aanloklike uitkoms om die radikale en wesenlike verskille in die NG Kerk sonder besinning onder die mat van relativisme te vee en sodoende te verklaar dat “almal van ons, doleer of nie, aan die Here behoort”. Maar die waarheid is te kosbaar om dit op die altaar van valse vrede en eenheid te offer.

Word 'n vriend van Kerkbode