Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
God, hierdie angs, hierdie angs,
dít kan nie u uiterste openbaring wees:
hierdie verwarring van my oë,
hierdie wit-ogige vrees.
Só begin NP van Wyk Louw se gedig “Paniese angs” uit sy 1947-digbundel Die halwe kring.
Wêreldwyd heers ’n ongemaklike, onderliggende angstigheid. Wat eens seker en vas was – reisplanne, vakansieplanne, kuiers by vriende en familie, werke en beroepe, selfs ons oefen- en werksroetines – is dit nie meer nie. Daagliks word ons gekonfronteer met tragiese en traumatiese verhale: van mense wat siek is, desperaat is, wanhopig is, diegene wat sterf.
LEES OOK: Hoe gemaak met twyfel?
Dit is ’n tydsgewrig waarin ons ons angste en angstighede van nader – intiem, selfs – leer ken.
Kollektief sowel as individueel leef ons met ’n enorme hoeveelheid angs saam. Selfs ons eenvoudige, klein vertroostings – ’n bemoedigende gesprek, ’n stywe druk, ’n sagte kyk – is ons in vele opsigte skielik ontneem. Dalk besef ons nou eers hoeveel daardie klein oomblikke ons juis op ’n moeilike dag of binne uitdagende situasies net so ’n klein bietjie kon lig.
Ons menigte elektroniese vergaderings en gesprekke oor Skype en Zoom en Teams kan ons onmoontlik op dieselfde maniere troos as om ons vriende en familie en kollegas in die oë te kyk, en saam te lag; ag, en net te wees. Dalk is dit ook waar van kerkwees in hierdie tyd, waarin ons woorde – ook ons trooswoorde – deur skerms van TV’s en selfone bemiddel word.
Dalk moet ons angs – ons ‘paniese angs’, selfs – daarom allesbehalwe ’n verrassing wees.
Tog is ons nie die enigstes, of selfs die eerstes, om gekonfronteer te word met die dieptes en hoogtes en breedtes van ons eie angstige hart nie. Die Deense teoloog Søren Kierkegaard skryf in 1844 ’n boek juis oor hierdie tema, met die titel Begrebet angest (die begrip van angs).
Daarin beskryf hy angs as ‘ongefokusde vrees’: daardie gevoel van oorweldig word, of oorval word, met onbeperkte moontlikhede en die omvang van ons vryheid. Ons raak angstig wanneer ons gekonfronteer word met keuses, vryheid, moontlikhede – en wanneer ons besef hoe swaar die oomblik van kies op ons lê; dat ons daarin potensieel kan misluk of floreer.
In sy Abraham Kuyper-lesing van 2013 verwys Russel Botman ook na Kierkegaard se uitbeelding van angs. Hy verduidelik dat, vir Kierkegaard, dit nie daaroor gaan om angs en angstigheid te probeer vermy of verduur nie, maar dat Kierkegaard ons eerder aanmoedig om te leer om ons angs tegemoet te stap en te omarm.
Almal beleef immers angs en angstigheid; dit is ’n gegewe van menswees.
LEES OOK: ‘Reik uit na ons en bid’, vra Mosambiekse dominee
Tog is angs nie opsigself sleg of boos – volgens Kierkegaard – nie. Angs is nie sonde nie; hoewel hy meen dat sonde dikwels volg op angs (en die subtitel van sy boek maak dit duidelik dat hy ’n sielkundige perspektief op die dogmatiese kwessie van oersonde wil bied). Vir Kierkegaard is dit veel eerder ’n kuns om op die regte manier angstig te wees. Ons angs kan verwoestend wees, maar dit is ook ’n kweekgrond van moontlikhede. Ons angs sê immers ons is nie ongetraak of onaangeraak nie: Ons het ’n perd in die resies, “we’ve got skin in the game”. Dit maak vir ons saak hoe ons keuses uitspeel: vir onsself, en ook vir ander.
In die Bybel kom ons talle verhale van angs, angstigheid en beangstigdes teë. Trouens, aan die hart van die evangelie lê niks minder nie as Godsangs – in die tuin van Getsemane, en aan die kruis. In Christus se gebed dat hierdie beker by Hom verby moet gaan; in sy bloedsweet, en vrees, en angs, kom ons ’n God teë wat volledig mens is: Christus, wat juis in hierdie oomblik tog só eg menslik, só herkenbaar vir ons raak.
En wanneer Christus gearresteer word, verhoor word, gemartel word, en tereggestel word aan die kruis, word Gods paniese angs nie verbloem of weggesteek agter ’n dapper front nie, maar word dit hartverskeurend luid uitgeroep: My God, my God, waarom het U My verlaat?
LEES OOK: Angs, my meedoënlose metgesel
Dalk lê die verligting van ons individuele, persoonlike angs – daardie angs wat ons diep in die donker nag tegemoet stap met drogbeelde en nagmerries oor die toekoms – asook ons kollektiewe angs – oor entstowwe en werksgeleenthede en siekte en dood – nie by goedkoop troos dat alles goed sal uitwerk vir ons en ons geliefdes nie.
Heel definitief help ons niemand wanneer ons angs as sondig en ongelowig afmaak nie.
Dalk vra ons angs dat ons dit eerder tegemoet stap en omarm, want dalk kaats ons angs in hierdie kritieke tyd juis ons waardes en drome en verbeeldingsmoontlikhede terug. In ons momente van paniese angs weerklink immers Christus se angs. In ons diepste, donkerste oomblikke van Godverlatenheid stap Christus, die Godverlatene, óns tegemoet.
Godsangs onderskep en ondervang ons talle angstighede en oomblikke van beangsdheid. Godsangs lê immers aan die hart van die evangelie.
Geseënd is die angstiges.
- Dr Nadia Marais doseer Sistematiese Teologie aan die Universiteit Stellenbosch.