Lojale kritiek

Die idee van “lojale kritiek” klink soms na ’n weerspreking. ’n Logiese onmoontlikheid. ’n Mens moet tog die een of die ander wees, sou sommige sê. Miskien het diegene wat so voel ook in die algemeen ’n vir-of-teen-wêreldbeskouing. Dinge is wit of swart.

En tog is daar volop geleentheid vir kritiek wat juis van “binne” ’n bepaalde struktuur, groep of organisasie kom. In teenstelling met aanslae van “buite” waar die inhoud van die kritiek nie noodwendig ongeldig is nie, maar waar die doelwit met die kritiek afbrekend of devil may care is oor wat van die gekritiseerde word met die aanhoor daarvan.

LEES OOK: Hoe gemaak met twyfel?

Ons redaksionele span het vandeesmaand ’n veldtog genaamd “Vriende van Kerkbode” van stapel gestuur. As deel van daardie proses het ons veral met lesers gesels wat ons joernalistieke projek breedweg goedgesind is. Nie ’n soort juigkommando nie, net mense wat ’n realistiese maar ook related standpunt inneem oor die rol wat Kerkbode probeer speel. En natuurlik is deel van Kerkbode se taak om ’n platform vir lojale kritiek binne die NG Kerk te skep.

Dit was daarom vir my interessant om elders in die skryfwerk van een van die Vriende van Kerkbode af te kom op ’n staaltjie wat ek nogal dink lojale kritiek versinnebeeld. Teen die einde van sy boek Kom sit aan, skryf ds Rudi Swa­ne­poel: “Die naaste wat ek as kind kon kom aan ’n moontlike integrasie van fees­vier en godsdiens was by ’n kerkbasaar.” Swanepoel, ’n soort mindful smulpaap, bieg: “Nee, die kerk van my kin­dertyd was nie goeie vriende met fees­telikheid en vreugde nie.” Harde woor­de. En tog word dit vergesel van hierdie 235 blad­sye-boek wat juis getuig van hoe hierdie dominee weldra ’n etens­tafel in die middel van sy lewe en be­diening leer dek. Hy skryf: “Moet nooit jou vermoë om iets te geniet ge­ring ag nie. Moenie vergeet om dit te koester nie. Wanneer jy dit koester, word dit meer, raak jou reseptore vir suiwer plesier meer en jou dankbaarheid (teenoor God, jou mense, selfs jouself) dieper en groter. Jy raak meer mens. Op die lewe!”


Word 'n vriend van Kerkbode