‘Miskien moet ons ook maar strand toe stap’

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

“Miskien moet ons ook maar strand toe stap,” skryf ’n bekende predikant van die NG Kerk in ’n rubriek na aanleiding van die onlangse verligting van die inperkingsregulasies. Daarmee het hy verwys na hoe mense op strande gaan betoog het teen die voortgaande onsinnige sluiting van strande. Is dit regtig sinvol om ’n erediens vir 50 mense te hou? vra hy. Die vraag word nog meer akuut en die beprekings onsinnig as in gedagte hou word dat die meeste NG kerkgeboue sitplek vir honderde lidmate het. In Pretoria word ’n casino wat binne een kilometer van ’n NG Kerk af is, toegelaat om teen 50% van sy kapasiteit te funksioneer. Minder as ’n kilometer verder is filmteaters oop en sit restaurante Sondae gepak om nie van winkelsentrums te praat nie – maar in die kerk mag net 50 mense saamkom.

Tydens die Groot Griep van 1918 het die burgemeester van Kaapstad kerke versoek om hulle deure te sluit. Hierop het ’n kerkleier soos volg gereageer: “U plaas my in ’n moeilike situasie en ek wil graag aan u versoek voldoen, maar ek kan nie sien hoe u leraars van gemeentes kan vra om hulle dienste op te skort nie.” Hy vervolg dan: “Vir my is dit nou die tyd dat mense vertroosting nodig het.”

LEES OOK: Kinderkerskousprojek help leerders toerus vir nuwe skooljaar

Miskien moet ons mekaar opnuut daaraan herinner dat die saamkom van die gemeente te doen het met die wese van die kerk se bestaan – en dalk voortbestaan. Die Handleiding vir die ere­diens verwoord dit soos volg: “Die erediens is die sentrale gebeurtenis in die voortgaande lewe van ’n Christelike gemeente. In die erediens gaan dit immers oor die ontmoeting tussen God en sy gemeente: God nader tot die gemeente en die gemeente nader tot God.”

LEES OOK: Ekologie: Groenvingerdominees maak hande vuil in grendeltyd

’n Verdere belangrike doel van die ere­diens is die feit dat dit uitdrukking gee aan die gemeenskap van gelowiges. Dit is helaas nie net ’n aantal losstaande individue wat saamkom nie, maar ge­lo­wiges wat onderling aan mekaar verbind is en wat onder leiding van die Heilige Gees omvorm word vir hulle taak en roeping teenoor mekaar en teenoor die wêreld. In ’n tyd waarin mense mekaar regtig nodig het kan ons die huidige re­gulasies nie goedskiks aanvaar nie.

Maarten Luther het tydens die reformasie gesê dat die kerk op haar pad deur die wêreld ’n strydende kerk is sodat dit aan die einde van die tyd die triomferende kerk kan wees. Miskien het die stryd nou vir die NG Kerk ’n werklikheid geword en moet ons maar gewoon die deure oopmaak – spreekwoor­delik strand toe stap!

  • Prof Johan van der Merwe doseer kerk­geskiedenis aan die Universiteit van Pretoria.