Ons durf Sharpeville nie vergeet nie

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Die gebeure in Sharpeville op 21 Maart 1960 moet vir altyd in die geskiedenis van Suid-Afrika, maar ook in die geskiedenis van die NG Kerk, onthou word as ’n waterskeidingsmoment.

Die rassekonflik wat tot die dood van 69 swart mense gelei het, het die rassebeleid van Suid-Afrika onder die ver­grootglas van die wêreld geplaas. Die NG Kerk, wat die beleid teologies gefundeer het, kon dit ook nie ontkom nie. Een van die belangrikste gevolge van die gebeure by Sharpeville was die Cottesloeberaad wat van 7-14 Desember 1960 onder leiding van die Wêreld­raad van Kerke (WRK) plaasgevind het. Na afloop van die beraad is ’n verkla­ring uitgereik wat die apartheidsbeleid van die regering en die teologiese on­der­steuning daarvan deur onder andere die NG Kerk, veroordeel het. Hoewel die verklaring met groot weerstand ontvang is en deur die onderskeie sinodes van die NG Kerk verwerp is, is die saadjies gesaai wat die kerk sou help om weg te draai van die Bybelse ondersteuning van apartheid.

LEES OOK: Hoe ‘gebruik’ ons die verlede?

Johan Botes is daarom korrek wanneer hy skryf: “Terugskouend was die Cottesloeberaad vir die NG Kerk ’n oomblik van waarheid, waar die kerk kon kies om volgens die wese van die kerk uit te reik, te luister, te reformeer en te bekeer. Na ’n lang worstelings­pro­ses het die keerpunt in 1986 gekom toe die Algemene Sinode ’n nuwe beleidsdokument Kerk en Samelewing aanvaar het. In die dokument is gesê dat:

  • Die Bybel nie rasgemengde huwelike verbied nie.
  • Die NG Kerk se deure oop is vir alle rasse.
  • Die NG Kerk se lidmaatskap oop is vir alle rasse.
  • Apartheid tot groot onreg gelei het en verkeerd was.

Reaksie op Kerk en Samelewing was hewig en het uiteindelik gelei tot die onstaan van die Afrikaanse Protestantse Kerk (APK) in Junie 1987. Dit het egter ook die deure oopgemaak sodat die NG Kerk op pad na die eerste demokratiese verkiesing in 1994, ’n versoenende rol in die samelewing kon speel. Tydens sy toespraak voor die Algemene Sinode van 1994, het president Nelson Mandela daarna verwys toe hy die leierskap van die NG Kerk daarvoor bedank het.

In ’n land waar koue rassisme – dink Senekal en Brackenfell 2020 – dreig om weer kop uit te steek, is dit die roeping van elke lidmaat van die NG Kerk om te keer dat ons nooit weer by ’n tweede Sharpeville aandoen nie. Die onreg in die samelewing wat baie lidmate van die NG Kerk tans beleef mag nooit die vuur­houtjies wees wat die rassekruitvat laat ontplof nie. Nou, meer as ooit tevore, is die NG Kerk geroep om ’n boodskap van vrede in hierdie land uit te dra.

  • Prof Johan van der Merwe doseer kerk­geskiedenis aan die Universiteit van Pretoria.

Word 'n vriend van Kerkbode