Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
As Suid-Afrikaners bevind ons onsself in ’n land wat steier onder geweld, korrupsie, sosiale verval en ekonomiese agteruitgang. Mense verloor hulle werk, sien hoe hulle pensioene krimp, hulle kinders emigreer en hulle stede en dorpe verval.
Almal reageer nie dieselfde hierop nie. Sommige van ons dra by tot of doen mee aan byvoorbeeld korrupsie, geweld of sosiale verval. Ander neem aktief deel aan burgerlike organisasies of gemeenskapsprojekte om die agteruitgang te probeer teëwerk. Daar is ook diegene wat volstruistaktiek toepas of agter hoë mure ’n veilige, probleemvrye wêreld probeer skep.
In die jaar 597 vC gee Jojagin, koning van Juda, oor aan die Babiloniese koning Nebukadnesar. Die tempel en die stad word geplunder en Jojagin, die koninginmoeder, hooggeplaaste amptenare en ambagsmanne word saam met al die goud, silwer en van die waardevolste tempeltoerusting in ballingskap na Babel geneem. Die Babiloniese koning plaas Sedekia op die troon in Jerusalem. Sedekia het egter weinig grond en mense om oor te regeer, terwyl hy jaarliks swaar belasting aan die Babiloniese koning moes betaal. Die verhaal in Jeremia 32 word geplaas teen die agtergrond van die Babiloniese beleg van Jerusalem wat vir ’n kort rukkie in 588/587 vC opgehef is, voordat alles in 586 vernietig is.
- Lees ander bydraes van hierdie rubriek hier
Daar is verskeie redes waarom Jeremia se neef ’n versoek om lossing sou kon rig (vers 7). Óf hy is in die skuld en staan op die punt om die familiegrond te verloor. Óf hy kan nie verder ’n bestaan op die grond maak na die Babiloniërs se plundering van die platteland nie en vlug nou ter wille van oorlewing na Jerusalem. Óf sy kinders is in die Babiloniese inval dood, of in ballingskap weggevoer en hy self is nie meer in staat om die familiegrond te bewerk of te behou nie.
Wat die werklike rede was, maak nie soveel saak nie. Wat baie belangrik is, is dit wat die verteller wil hê ons moet raaksien, naamlik dat Jeremia te midde van die Babiloniese leër se inval van Juda se grondgebied, hulle doodmaak van die plattelandse mense en plundering van hulle opbrengste én hulle inval van Jerusalem, die hoofstad van Juda, die plundering van die tempel en die wegvoer van die koning en die mees vername mense, steeds ’n familielid in nood help.
LEES OOK: 10 Lesse ná ’n jaar van Covid-19
In ’n oorlogsituasie, gestroop van alles wat vir die volk van die Here lief en dierbaar was en ’n uitsiglose toekoms, doen Jeremia steeds dit wat voorhande is. Ten aansien van geweld teen vroue en kinders, plundering van die grond, wegvoer van die land se leiers en die stroop van die simbool van die Here se teenwoordigheid, kom Jeremia dag vir dag steeds sy verantwoordelikheid na. Jeremia ontken nie die hopelose situasie nie. In haglike omstandighede leef hy steeds diep bewus van die Here se teenwoordigheid en kom sy verantwoordelikheid as lid van die gemeenskap na.
Jeremia gee opdrag dat die koopkontrak as getuienis van die Here se teenwoordigheid onder alle omstandighede bewaar word (vers 10-15). Terwyl alles rondom ongunstig is, leef Jeremia soos gelowiges geroep is om dag vir dag te lewe. Hy kyk nie te ver vooruit nie. Hy weet hy moet vandag sy verantwoordelikheid teenoor sy familie nakom, omstandighede ten spyt.
Hierdie boodskap moet as inspirasie vir die nageslag in kleipotte bewaar word. Hierin lê ’n stuk ironie. Die belangrike getuienis van die Here se teenwoordigheid onder slegte omstandighede moet op skrif gestel word, maar in breekbare houers bewaar word.
Die punt van vergelyking is die broosheid van kleipotte. In die antieke wêreld is kleipotte onder meer gebruik om waardevolle dinge en lewensmiddele in te bewaar. Dit het ingesluit graanprodukte, olywe, olie, boekrolle en ander gebruiksartikels. Tog kon kleipotte maklik breek. Gelowiges is soos brose kleipotte, wat bewaarders is van iets waardevols. In ons weerloosheid, in ons broosheid word die kragtige teenwoordigheid van God onder alle omstandighede sigbaar. Dit inspireer mense en gee mense moed, want die uitspeel van ons lewe elke dag is geborge in die krag van die teenwoordige God.
- Dr Fanie Cronjé is predikant van die NG gemeente Riviera-Jakaranda in Pretoria.