Is dit regtig nog weer nodig?

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Prof Hoffie Hofmeyr, emeritus UP en emeritus, Evangelische Theologische Faculteit, Leuven, België, skryf:

Die artikel van ds Mias van Jaarsveld naamlik “Gay mense word nog steeds gebrandmerk” in die elektroniese Kerkbode van 21 Junie verwys.

Ek wil my doelbewus nie hier uitspreek oor die SGV-kwessie nie, maar omdat ons almal van gays in familie- of vriendekringe weet, staan ’n mens nie onsimpatiek teenoor hulle nie. Want natuurlik het die kerk, gelowiges en ook NG lidmate die roeping om alle gemarginaliseerdes raak te sien.

Ek het egter twee basiese maar ook belangrike vrae, sonder om dus hier in ’n akademiese debat oor SGV-verhoudinge te tree.

  • My eerste vraag is of dit “regtig nog weer nodig” is om weereens aan die gay-kwessie in hierdie artikel relatief soveel prominensie te gee, veral ook vanweë die lengte daarvan. In die media oor die algemeen maar eweneens in die NG mondstuk Kerkbode het hierdie saak in die laaste dekade of twee tot oorlopens toe sterk in fokus gestaan. En sedert veral 2007 is kerkvergaderinge van die NG Kerk byna onophoudelik hiermee besig, met baie verdelende effekte in die NG Kerk. Ek respekteer wel die betrokke jong predikant, ds Mias van Jaarsveld, met sy emosionele weerspieëling van baie gevoelens, en hoe sy blootstelling aan ’n samelewing soos die Nederlandse wat ek redelik goed ken, hierdie gevoelens miskien nog verder gestimuleer het. Maar of hierdie tipe emosionele worsteling weereens en nogmaals en ook so uitgebreid aan die groot klok gehang moet word, is werklik ’n ope vraag. Die debat oor SGV-verhoudinge word in baie opsigte tans byna tot ’n finale spits en tot ’n ekstreme gedryf. Moet die kerkleiding en ook ons kerklike media nie miskien sê dat die huidige gesprek of korrespondensie oor hierdie saak nie meer ’n verdere opbouende doel dien nie, en daarom word dit vir die huidige op die ys geplaas? ’n Mens kan regtig niemand kwalik neem dat soos ’n vinger in die keel, hy of sy op die duur siels-naar en siek word daarvan nie. En dit is ongelukkig dikwels die belewenis wat baie gebalanseerde gelowiges, en ook NG lidmate en predikante oor hierdie saak begin kry. Het die oormaat van aandag aan hierdie saak nie juis die teendeel bewerkstellig van wat dit ten doel het nie, naamlik dat mense begin keelvol raak vir die oormatige aandag hieraan en iets wat gays as groep dalk eerder benadeel as bevoordeel? Ek het ’n aanvoeling dat sommige gay mense reeds ook so geëtiketteer voel, dat ook selfs hulle dalk sielsmoeg is hiervoor. Beleef ons nie miskien tekens dat die wal van hierdie dam begin breek nie?
  • My tweede vraag is of die gay-saak die enigste of hoofsaak is wat die aandag van die kerk en gelowiges behoort op te eis. My antwoord daarop is ’n besliste nee. Die kerk het ’n verantwoordelikheid om die lig van die Woord oor alle terreine te laat skyn. Daar heers wat my aanbetref ’n skokkende stilte oor veral die volgende kwessies rondom gemarginaliseerdes en daar word hoogstens baie sag daaroor gepraat en min daaraan gedoen: Dit is kwessies soos versoening, geregtigheid, rassisme, armes en hulle uitbuiting, werkloosheid, toestande in plakkerskampe, gebrek aan eenheid in die NG Kerkfamilie, magsmisbruik deur die elite, wanbestuur, dienslewering, korrupsie, ensomeer. Moet ’n mens miskien tot die gevolgtrekking kom dat die huidige seksuele en gender-rewolusie so die agenda van sekere kerke, ook van die NG Kerk en die samelewing geskaak het, dat dit die huidige omvattende onvergenoegdheid tot gevolg het? En is die skerp fokus op die gay-kwessie nie miskien tekenend ook van die verwarring rondom die sterk aktualistiese Skrifinterpretasie in die NG Kerk nie?

In wese pleit ek maar net daarvoor dat ook die NG Kerk weer waarlik kerk sal wees, dat prioriteite duidelik deur die leierskap uitgespel sal word, dat daar indien nodig tot korreksies gekom sal word, en dat ook die NG Kerk bemoeienis met alle gemarginaliseerde mense en al hulle node sal maak ter wille van die koninkryk.

Word 'n vriend van Kerkbode

One thought on “Is dit regtig nog weer nodig?

  1. Gerhard Koen. says:

    Soos Prof Hoffie is ek een van die ouer leraars. Ons, die kerk, het gay mense oor baie jare erg te na gekom. Daarom sal ons nog lank hieroor moet praat, skuld bely, vergifnis vra. Dit is nie n afgehandelde saak nie en daar is nog n lang pad om te stap om gay mense te verseker dat hulle, soos alle ander gelowiges, in die kerk welkom is en geborge moet voel. Ek het Mias se skrywe eg en stimulerend gevind.

Comments are closed.