Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Moet ons uit Genesis 4 aflei dat God die aanhitser van geweld is?

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.


Gedurende verlede maand is Suid-Afrikaners oor die algemeen, maar gemeenskappe in KwaZulu-Natal en Gauteng in die besonder, gekonfronteer met die werklikheid van ongelykheid, magsug, vanda­lisme en geweld.

Onder die vernietigende omstandig­hede het talle inwoners getuig van medemenslikheid, van gemeenskappe wat oor grense heen saamstaan en mekaar op verskillende maniere ter wille is.

Ek het nie voldoende inligting of ken­nis om dié gebeure objektief, krities en op ’n oorwoë wyse te beoordeel nie. Soos talle ander waarskynlik, het ek wel genoeg insig om te besef die gebeure het as konteks onder meer ’n komplekse, gefragmenteerde, ongelyke, brose en ge­weld­dadige Suid-Afrikaanse werklikheid.

LEES OOK: Laat jou linkerhand nie weet wat jou regterhand doen nie

Die eerste gewelddadige berig in die Ou Testament vind ons in Genesis 4. Dié hoofstuk veronderstel dat daar reeds heelwat mense op aarde was en is bedoel om iets oor die oorsprong en aard van geweld te verduidelik. Die neo-Assiriese ryk was, so weet ons onder meer op grond van die getuienis van argeologiese vondste, in die ou Nabye Ooste berug om hulle gewelddadigheid. Israel is gedurende dié tyd soos nooit voorheen in hulle geskiedenis nie, met geweld gekonfronteer. Dalk weerspieël Genesis 4 iets van dié konteks. Deur Genesis 4 direk na die skepping- en tuin­verhaal te plaas, wil die samestellers van die Tora vir ons sê dat geweld van die begin af onlosmaaklik met menswees in verband staan.

Die soms byna onvertaalbare dele in Genesis 4 is dalk ’n aanduiding van hoe die skrywer sukkel om ’n greep op die verskynsel van geweld te kry. Die teks laat dit klink of Kain twee pa’s gehad het. Adam is sy aardse vader, maar hy is onlosmaaklik aan God verbind. Genesis 2 getuig ook van die feit dat mense uit die stof kom, maar dat God sy asem of gees in ons ge­blaas het. Wanneer Kain moord pleeg, word hy van God en mens vervreem.

LEES OOK: Kyk: Hoe gemeentes en lidmate KZN en Gauteng weer herbou

Abel se naam hou verband met die Hebreeuse woord vir “damp/mis/asem/nie­tigheid”, ’n woord waarmee Prediker 1:2 ook begin. “Asempie” (Abel) is ’n “broer” (ook dus ’n medemens) vir Kain. Behalwe dat mense aan God en die aarde verbind is, is ons dus ook in ons broosheid aan mekaar verbind. Ons broosheid word in besonder sigbaar in die on­gelykhede in die wêreld – Abel en sy offer word aanvaar, maar Kain en sy offer nie. Genesis 4 sê ons is nie almal gelyk nie. Dit is die werklikheid van menswees.

Moet ons uit Genesis 4 aflei dat God die aanhitser van geweld is? Ek dink nie so nie. Die teks vertel dat God Kain met die werklikheid van die daaglikse menslike ervaring konfronteer, naamlik dat die lewe onregverdig, onvoorspelbaar en vol ongelykheid is. Volgens Genesis 4 spruit geweld uit Kain se onvermoë om met die ongelykheid in die lewe in die reine te kom. Let egter op, God maak hom nie los van Kain, verwerp hom, of laat hom aan sy eie lot oor nie. Meer oor geweld en God wat nie vir Kain los nie, in ’n volgende bydrae.

  • Dr Fanie Cronjé is medeleraar by NG Kerk Lynnwood in Pretoria.

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.