COP 26: Hoe hanteer jy die slegte nuus oor klimaatsverandering?

’n Suid-Afrikaanse afvaardiging tel onder die lande wat verteenwoordig sal word by die 26ste Conference of the Parties wat vanaf 31 Oktober in Glasgow, Skotland vergader om oor klimaatsake te praat. Wat is op die spel? vra David P Botha.


Dit is moeilik om aanmekaar slegte nuus aan te dra. Vra maar vir Jeremia. Vra ook maar vir die wetenskaplikes wat die klimaat bestudeer en wat jaar na jaar vir die mensdom moet vertel hoe hulle voorspellings besig is om waar te word – ontstellend vinnig waar te word!

Een van die onderwerpe wat die afgelope paar maande prominent in die sosiale media was, was die sielkundige effek wat dit op wetenskaplikes het om so voortdurend met slegte nuus gekonfronteer te word en om dan ook as draers van dié nuus te ervaar dat die groot besluitnemers op die wêreldverhoog hulle nie eintlik aan die nuus steur nie.

Joernaliste wat oor ekologiese kwessies skryf en as die samelewing se ekologiese gewete optree, word dikwels aan heftige en soms uiters onbeskofte reaksies blootgestel van diegene op wie se tone hulle trap. Lees maar net die omgewingsverslaggewer Elise Tempelhoff se plasings op Facebook om te sien hoe lelik van die reaksies is wat sy en ander wat haar ondersteun moet verduur.

Hoekom reageer mense so as-af en selfs vyandig teenoor die slegte nuus van klimaatsverandering?

Die metereoloog, dr J Marshall Shepherd, dosent aan Georgia Universiteit in die VSA, is oortuig daarvan dat mense se weerstand en verwerping van inligting oor klimaatsverandering baie te doen het met hulle vooroordele. Die vooroordeel wat hy veral beklemtoon, is die bevestigingsvooroordeel (confirmation bias). Ons het ’n voorkeur vir inligting wat dit bevestig wat ons reeds glo en ’n afkeer van inligting wat daarmee strydig is. Hierdie voorkeur werk soos ’n filter. Dit laat net inligting deur wat dít bevestig waarvan ons reeds oortuig is en as die waarheid glo. Hoe nader ons ’n oortuiging of geloof aan ons hart dra, hoe sterker werk hierdie bevestigingsvooroordeel en hoe heftiger kan ons reaksie teen die nuus en die nuusdraer(s) wees. Hierdie vooroordeel veroorsaak ook dat ons geneig is om net artikels en bydraes te lees wat dit bevestig waarvan ons reeds oortuig is. Enigiets wat dan ons oortuigings uitdaag, ignoreer ons of verwerp dit as onbetroubaar en vals.

Dit gaan sekerlik ook nou weer met die jongste Intergovernmental Panel on Climate Change (IPCC)-verslag ook gebeur. Diegene wat glo dat die wetenskaplikes wat agter die verslag sit almal kop in een mus is en op geldmaak uit is en die wêreld om een of ander sinistêre rede doelbewus wil mislei, gaan nie die verslag lees nie en hulle ook nie daaraan steur nie. Hopelik gaan die politieke en ekonomiese leiers van die wêreld, wat vanaf 31 Oktober tot 12 November 2021 in Glasgow vir die 26ste Conference of the Parties (COP) bymekaar is, slimmer wees as dit.

Mag hulle hulle tog wel deeglik aan die inhoud van dié verslag steur en doen wat nodig is om die mens van sy dwaasheid te red – dat ons eiehandig sorg dat lewe soos ons dit vandag ken (ons eie inkluis) uiteindelik nie meer op aarde moontlik sal wees nie.

IPCC staan vir Intergovernmental Panel on Climate Change en is ’n paneel wat deur die Verenigde Nasies in die lewe geroep is. Die paneel maak seker dat die regerings van die wêreld betroubare wetenskaplike feite het wat hulle kan gebruik om beleid te bepaal wat in diens staan van die welsyn van Planeet Aarde en al haar inwoners – en wat ook ’n leefbare toekoms help skep vir toekomstige menslike geslagte. Die paneel se werk en ook hierdie verslag word deur 195 lande van die wêreld ondersteun.

LEES OOK: Ekologie: Hou op belê in goed wat skade maak, maan Tutu

Ons eie regering is een van die 195 lande wat deel is van die IPCC-proses en wat in Glasgow gaan wees. Ter wille van ons eie land en die impak wat klimaatsverandering reeds op ons land het en in die toekoms gaan hê, is dit dringend nodig dat ons regering hulle wel ook deeglik aan die verslag sal steur.

As Christene, wat saam met Christus vir hierdie aarde omgee, behoort ons vir ons hele regering en spesiaal vir ons minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Barbara Creecy, en haar departement te bid. En dan ook vir COP 26, met die hoop en verwagting dat COVID-19 en die vlaag brande en oorstromings dwarsoor die hele wêreld die afgelope tyd ’n opregte erns en toewyding sal bring wat inderdaad sal lei tot die drastiese maatreëls wat nodig is om die verwarming van die aarde se atmosfeer onder 2°C te hou.

Maar bid is nie genoeg nie, veral nie as ons net aan bid dink as ’n gesprek met die Here terwyl ons oë toe is nie. Ons moet werkend bid. Ons moet, terwyl ons vir die regerings van die wêreld bid, self elkeen sorg dat ons ons eie bydrae tot die vrystelling van kweekhuisgasse drasties inkort. Van die dinge wat ons kan doen, is byvoorbeeld die volgende:

  • Onthou dat elke keer as ons die motor aanskakel of in ’n vliegtuig klim ons direk bydra tot die verwarming van die aarde se atmosfeer. Daarom, ry en vlieg so min as moontlik.
  • Onthou dat ons met die gebruik van Eskomkrag of die aanskakel van ’n kragopwekker wat op petrol of diesel loop elkeen ook direk bydra tot die verbranding van fossielbrandstof en daarom tot aardverwarming. Daarom, gebruik so min as moontlik krag en indien jy dit kan bekostig, installeer volhoubare bronne van krag vir julle huishouding.
  • Onthou dat die plantegroei van die aarde ’n reuse-bydrae maak tot die absorbering van koolstofdioksied. Deur bome en struike te plant en die grond rondom ons huis gesond te hou, kan ons elkeen die natuur help om dit te doen. Moenie julle erf toe plafei nie, maak eerder tuin!
  • Onthou dat al die kos, klere en verbruikersgoedere wat ons van die winkel af aanry of -dra ook ’n koolstofvoetspoor laat. Dit word dikwels van vér af vervoer of gevlieg (selfs van oorsee!). Deur dit te koop, dra ons persoonlik by tot die koolstofvoetspoor van dié produkte. Daarom, koop (indien enigsins moontlik) plaaslik. Die heel beste is: Kweek julle eie groente en vrugte en maak alles reg wat julle kan en hergebruik alles wat julle kan. Maak julle motto oor die verbruikersgoedere in julle lewe die volgende: Sê nee – maak minder – hergebruik – herwin.

Ons is heel waarskynlik die laaste geslag wat nog iets daaraan kan doen om die verwarming van die aarde se atmosfeer tot ’n leefbare vlak in te kort. Kom ons doen alles wat ons kan – met blydskap.

Vrede vir die aarde en al haar inwoners.

Word 'n vriend van Kerkbode

2 thoughts on “COP 26: Hoe hanteer jy die slegte nuus oor klimaatsverandering?

  1. Muller Oosthuizen says:

    Hierdie is so belangrik soos enige ander opdrag van die Here – dat so min Christene ons daaraan steur, is getuienis van ons Goddelose ingesteldheid. Tog vreemd dat ons hierdie een opdrag so min ag – wat juis twv die mens is?!?

  2. James says:

    Kan Muller dalk net aan ons uitwys watter opdrag(te) van die Here ons ons nie aan steur nie asb.

Comments are closed.