Wie is dié wat weet?

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Jy sien dit in hulle gebaretaal, ook hoe hulle praat. Eintlik in die hele liggaamshouding, skryf die praktiese teoloog Bonnie Miller-McLemore. Sy verwys na nagraadse studente aan haar universiteit. Die studente wat spesialiseer in teoretiese vakke, soos Dogmatiek en Dogmageskiedenis, se houding kommunikeer ’n selfversekerdheid wat studente in die prakties-georiënteerde vakke nie het nie. En sy wonder waarom die studente wat nader aan die praktyk is, soos in prediking en pastoraat, hulle kennis bevraagteken?

LEES OOK: Om met liefde te stik

Praktyk teenoor teorie is ’n onnodige teenstelling, dit moenie óf-óf wees nie, maar veel eerder ’n diepgaande én-én. Teorie en praktyk hoort bymekaar op die wyse waarop Frank Sinatra oor liefde en die huwelik sing: “This I tell ya, brother,/ you can’t have one without the other.” Veral ook wanneer dit by godsdiens kom, want godsdiens is by uitstek ook iets wat mense doen. Toegegee, ’n praktiese teoloog is hier aan die woord. En, bygesê, een wat dink dat predikante, musiekleiers, kosters, skribas, moderators, en elke lidmaat en nie-lidmaat, Christen of nie, wat al oor kerk en teologie gedoen en gedink het, praktiese teoloë is wat oor belangrike kennis beskik.

Wat is daardie kennis? Dit is kennis wat jy bekom wanneer jy aan praktyke deelneem. Soms besef jy dit nie, maar as jy byvoorbeeld al dikwels geëet het, beskik jy oor belangrike kennis. Jy weet van sluk en van verstik; ook wanneer ander dink jy eet ongeskik. En waar kry jy heelwat van daardie kennis? Wel, deur te eet. Dit is van groot waarde om te lees oor eet; oor die fisiologie van kou en sluk; oor diëte en oor cholesterol en om so kosbare kennis te bekom. Maar as jy nog nie jou tande in ’n ryp peer ingeslaan het nie, is daar ’n sekere soort weet wat jy gewoon nog nie weet nie. Of, as jy nog nie self kos voorberei het nie. Of, as jy nog nie iemand wat self nie kan kou en sluk gevoer het nie. Of, as jy nog nie geborsvoed het nie.

Uiteindelik gaan sit praktiese kennis in jou lyf en word jou lyf, soos wat jy dinge doen, ’n bron van kennis. Volgens die teoloog Ted Jennings jr is die mens se liggaam ’n belangrike domein van en vir kennis. Hy bespreek rituele, soos eredienste, om sy punt te maak en wys daarop dat jy kennis opdoen deur aan die praktyk deel te neem. Jy kry kennis van die praktyk deur aktief in die praktyk te wees en so vind jy ook uit hoe om prakties op te tree. Dit is deur in te spring en deel te word van die praktyk, met ander woorde gewoon net om dinge te doen, dat jy uitvind wat (moontlik) gaan gebeur en wat die beste manier is om op te tree. Vra maar vir die gemiddelde dominee waar en hoe sy uitgevind het om op die sinvolste manier as liturg by ’n oop graf op te tree? Die antwoord? Deur as liturg by ’n oop graf op te tree.

LEES OOK: COP 26: Hoe hanteer jy slegte nuus oor klimaatsverandering?

Lank gelede het die Nederlandse teoloog Gerhardus van der Leeuw opgemerk dat diegene wat nie aan ’n dans deelneem nie, wat nie saam dans nie, nie weet wat gaan gebeur nie. Jy moet dus deelneem en doen om te kan weet. Vir my is dit sommer ook ’n definisie van my vakgebied – Praktiese Teologie. Praktiese Teologie beteken reflekterende deelname aan die dans van geleefde godsdiens. En geleefde godsdiens behels praktyke soos bid, preek, lees, sit, eet, huil, sorg, dien, loop, liefhê, fietsry, sing, pelgrimstogte stap, jou kat kosgee en vloermoere gooi.

Ek breek hier ’n lansie vir geleefde praktykkennis wat in ons lyf sit as ’n soort kennis wat nie vlak gekyk moet word nie. En die lywe wat die kennis besit se liggaamshouding kan tereg kommunikeer dat dit geensins minderwaardige kennis is nie, inteendeel. Wie is dus dié wat weet? Dié wat denkend dans en dansend dink.

  • Prof Cas Wepener doseer Praktiese Teologie aan die Universiteit Stellenbosch.
Word 'n vriend van Kerkbode