Kerk as kanon

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

’n Sinvolle beeld is ’n iziko, isiXhosa vir vuurherd. Tafel is al voorgestel. In die Suide kan braaikamer werk en in die Noorde lapa. Dit is almal plekke waar mense saamkom. Gewoonlik ’n gesellige plek met mense wat kopstukke gesels.

’n Ander mooi beeld is weer ’n huis, soms aangepas tot ’n ruim huis. Dit is met ander woorde nou nie meer net daardie herd waar mense tydelik aandoen en dan weer vertrek nie, dit gaan nou oor saamwoon, oor familie word. Jy bly dus aan in die huis al is die poeding op. In ’n ruim huis word ’n ruimte langtermyn gedeel en maak mense spasie vir mekaar.

LEES OOK: Wie is dié wat weet?

Vir lank reeds, soos ons in die Nuwe Testament ook sien (familie, liggaam, volk, huishouding en vele meer), word gesoek na goeie metafore om die kerk as ruimte van saam-wees te beskryf en dan te beliggaam. Dit is nodig, want verskillende mense wat almal aan een kerk behoort, is daarom nie noodwendig eendersdenkendes nie.

Soos kerke na metafore soek, soek akademici ook. Ook teoloë en selfs ook teoloë wat saam een dissipline bedryf. Dit is ook nodig. Ek leer baie van my kollegas wanneer ons saam by die vuurherd sit en deel waaroor ons alles saamstem. Ek leer egter meer; word ook meer gevorm en uitgedaag, wanneer ek hoor hoe hulle van my verskil. Saamstem en verskil, beide is nodig. Dit is egter makliker gesê as gedaan, want dinge kan nogal na ’n tydjie warm raak in daardie akademiese braaikamer en dan wil ’n mens gaan asem skep.

Enkele jare gelede moes ek by die Universiteit van Pretoria ’n metafoor soek vir ons departement en ons saam-wees. My gedagtes het terug gegaan na my heimat in die Suid-Kaap en die konsep “oeshuis”. Dit werk so: Daar is ’n huis op die plaas, is die oes sleg, dan bly die huis soos hy is, is die oes goed, dan word ’n ruimte bygevoeg – slaapkamer, badkamer, stoep. In ’n oeshuis is daar reeds ’n langtafel en ’n braai, die broodnodige iziko’s, maar daar is ook baie kamers en ander ruimtes waarheen ek kan gaan wanneer ek nou eers klaar gebraai het. Dalk gaan ek vir ’n ruk na die sitkamer terwyl ’n paar op die stoep kuier en ander in die kombuis. En dan vanaand, dan braai ons weer saam. Ons gun mekaar die asem skep, koester wat ons bind en skep ruimte soos die oeste inkom.

En in die akademie is daar gereeld nog ’n oes. Nuwe insigte vra vir nuwe ruimtes. Ons bly by mekaar, ons gesels saam, maar ons moet gereeld ook uitbreek en aanbou. Dit is nie veel anders as wat in die kerk ook gebeur nie, alhoewel daar in die kerk mure kom en gaan, maar die Hoeksteen bly. Die teologiese oeste sypel dikwels vanaf die akademie deur na die kerk; insgelyks syfer teologiese oeste gereeld vanaf die kerk deur na die akademie. En dit vra ruimte maak, dit vra vir kerklike én akademiese oeshuise. Ja, ruim huise, maar huise waaraan jy ook mag en soms mure moet breek en bou.

LEES OOK: Om met liefde te stik

Daar is heelwat teksgedeeltes wat aspekte van die konsep “oeshuis” ondersteun. Ek staan egter vir perspektief ’n tree terug van die tekste en wil die konsep kanon gebruik. Wanneer ek na my Ou en Nuwe Testament kollegas luister in daardie oeshuis wat ons die Kweekskool noem, is die Bybel dalk self die begronding wat ek soek. Die Bybel ís ’n oeshuis. Die 66 boeke getuig van vele teologiese oeste. Daar was totstandkoming, sifting, kanonisering, maar uiteindelik beteken kanoniese eenheid geensins eendersheid nie. Die Bybelboeke gesels met mekaar. Jy wonder soms hoe hou hulle met mekaar uit tussen die voor- en agterblad. Selfs die ryke verskeidenheid metafore vir die kerk wat mekaar eerder aanvul as uitsluit, getuig hiervan.

Minder kanon en meer kanon, minder skiet en meer aanbou; saam-wees én ruimte gee. Dit is wie ons is – die kerk ’n kanon en die NG Kerk ’n oeshuis, soos die Bybel self.

  • Prof Cas Wepener doseer Praktiese Teologie aan die Universiteit Stellenbosch.
Word 'n vriend van Kerkbode