Covid het kerk geleer: Moenie hiérdie werk alleen doen nie

As daar een ding is wat die Covid-pandemie die NG Kerk geleer het dan is dit dat vennootskappe in jou gemeenskap ’n moet is en jou eerste vennoot behoort die maatskaplike werker te wees.

Só sê dr Lourens Bosman, kantoorhoof van die Algemene Sinode. Bosman was die eerste spreker by ’n werkswinkel wat die Kerklike Maatskaplike Diensteraad (KMDR) op 26 Augustus by die ruim Emseni-konferensiesentrum in Benoni gehou het.

“’n Besondere mylpaal” en ’n “unieke belewenis” … hier is iets van ’n bymekaarkom waarvoor ek al baie jare gebid en gehoop het,” begin KMDR-bestuurslid dr Willie van der Merwe die eerste van drie werksessies wat hy lei ná Bosman se aanbieding. Voor hom sit 40 verteenwoordigers van die Algemene Sinode en streeksinodes sowel as die KMDR en hulle lidorganisasies, meeste met gesigmaskers aan.

Ter inleiding skets Van der Merwe hoekom hierdie gesprek so belangrik is. Die KMDR en sy lidorganisasies, soos Badisa (Wes-Kaap), Engo (Vrystaat) en CMR (verskeie streke), het almal baie jare terug uit die NG Kerk ontstaan, maar mettertyd het die kerk se betrokkenheid by hierdie organisasies verskraal tot finansiële bydraes en ondersteuning terwyl kerke op hulle eie met korttermyn ‘liefdadigheidsprojekte’ soos sopkombuise, kospakkies uitdeel ensovoorts begin het.

“Mettertyd het die vraag begin ontstaan wat ons kan doen om die kloof tussen professionele maatskaplike werkdienste in die kerk en diakonale dienste wat in die kerk aan ’t vorm aanneem is, te laat saampraat … dit is wat nou hier gebeur,” verduidelik Van der Merwe. Die brug wat hy voorstel noem hy ’n “geïntegreerde missionale diakonale bediening”.

Bosman het in sy aanbieding vertel onlangse kerklike opnames toon die meeste lidmate en gemeentes koop in by die visie van ’n “missionale kerk, ’n kerk wat in vennootskap staan met ander organisasies om ’n verskil te maak in die breër samelewing”.

Verlede jaar se koskrisis weens die Covid-pandemie het grootliks bygedra om kerke uit die blokke te kry om in hulle breër gemeenskappe betrokke te raak. “Dit het ’n nuwe energie losgemaak,” soos Henda van der Merwe, CMR Gauteng-Oos dit stel.

Met ’n peiling in die tiende week van die pandemie laasjaar was 79% van NG kerke toe in vennootskappe om kospakkies te voorsien, die meeste van dié netwerke het maande later met ’n tweede peiling steeds bestaan, het Bosman vertel.

“Wat ons geleer het in die afgelope tyd met Covid is … moenie dit alleen doen nie. Ons moet vennootskappe hê in die gemeenskap … en ons wil dit nie doen sonder ons professionele dienste nie, dit is die maatskaplike dienste … ons eerste vennoot in die gemeenskap,” sê hy.

LEES OOK: In pas met God in ’n voortslepende krisis

Uit terugvoer op sy aanbieding blyk egter daar is baie gemeentes waar sulke vennootskappe nog nie bestaan nie. ’n Onlangse peiling onder meer as 100 gemeentes in die Vrystaat het getoon 95% deel kospakkies uit maar hulle doen dit op hulle eie sonder gesprek met ander kerke, selfs van dieselfde kerkfamilie … “gemeentes of dominees het hierdie ding van ons gaan dit self doen, wat hartseer is,” is gesê.

Die regeringsverandering van 1994 het ook ’n einde gebring aan die noue verhouding wat vir jare tussen die NG Kerk en die staat bestaan het in die formulering van beleid en wetgewing rondom maatskaplike dienslewering. Die gevolg was dat kerklike maatskaplike diensorganisasies hulle al meer in ’n gespanne posisie vind tussen die eise vanaf die staat wat dié organisasies as “hulle masjinerie beskou” en verwagtinge vanaf hulle “moederliggaam”, die kerk.

“Nou sit ’n mens op die ou end met botsende belange. Die staat het verwagtings en die kerk het verwagtings. Nou begin ’n taal ontwikkel van ons en die kerk”, sê Van der Merwe.

Ander kwelpunte sluit in dat dominees dikwels nie behoorlik kennis dra wat die werk van ’n maatskaplike werker behels nie, dat maatskaplike werkers nie teologies opgelei is om geestelike gesprekke te voer nie en dat dominees by tye vakkundige terme gebruik wat vreemd op die oor val.

“Ek dink ’n eerlike gesprek moet gevoer word. Ek wil graag sien wat sien die kerk as barmhartigheidswerk en missionale diakonaat en wat sien ons as barmhartigheidswerk. Dit is twee definisies wat met mekaar moet praat,” sê De Wet Claassens, uitvoerende hoof van Engo, die NG Kerk se maatskaplike werkdiensorganisasie in die Vrystaat.

LEES OOK: MES: Dit gaan oor menswaardigheid, nie ‘handouts’

Die tema van die werkswinkel was lig. Een ligpunt volgens Van der Merwe is die paradigmaskuif in die NG Kerk oor die laaste paar dekades na missionale kerkwees wat die basis voorsien vir ’n nuwe besinning oor die roeping van ’n gemeente. Dit toon ooreenstemming met kerklike gesprekke wat tans in Europa gevoer word oor diakonia en ’n behoefte plaaslik aan ’n nuwe besinning oor die teologie van diakonaat.

Die KMDR se pleidooi is dat gemeentes hulle kerklike maatskaplike diensorganisasies betrek by hierdie gesprekke omrede die waardevolle professionele bydrae wat maatskaplike werkers tot die kerk se gesprek oor hulle rol in hulle omgewing kan maak.

“Die NG Kerk sit met ’n skat, ’n wonderlike gawe wat die Here vir ons gegee het,” sê Van der Merwe met verwysing na die vakkundige kennis beskikbaar in kerklike maatskaplike diensorganisasies. Hy was voor sy aftrede as predikant betrokke beide by kerklike maatskaplike diensorganisasies en die Hugenote Kollege op Wellington.

Die Algemene Sinode het in 2019 ’n Verklaring van Voorneme vanaf die KMDR aanvaar waarin die KMDR sê hulle glo kerklike maatskaplike werk is ’n integrale deel van die missionale roeping van die kerk.

“Kerklike maatskaplike werk moet absoluut geïntegreer word in gemeentewerk. Barmhartigheidswerk in ’n gemeente is onvervreembaar. Die antwoord is integrasie. Om saam te dink … dink net aan die derduisende rande in droogtehulp wat vanuit gemeentes gekom het,” beaam ds Nelis Janse van Rensburg, moderator van die Algemene Sinode.

Dié integrasie kan begin deur doodgewoon net met mekaar in gesprek te begin tree. “Kom ons sê ons gaan nie nou almal op dieselfde bladsy kry nie, maar kom ons kry iets wat ons na die gemeentes kan vat … Ek glo wanneer mense die resultate sien van hierdie omgee-village wat ons wil skep … gaan dit mense oortuig,” sê Trinie Drotschie van Tutela, Sinode Hoëveld se kerklike maatskaplike dienswerkorganisasie.

LEES OOK: MES se verhaal van hoop en genade

Daar is selfs al gemeentes wat maatskaplike werkers in diens neem soos die Toringkerk in die Paarl wat ’n jeug-maatskaplike werker aangestel het om te help met die bou van netwerke tussen ryk en arm in die gemeenskap. Die Hugenote Kollege op Wellington kan weer ’n belangrike rol speel in die toepaslike teologiese opleiding vir sulke maatskaplike werkers.

Daar is Christelike welsynsorganisasies soos PEN en MES wat ook in hierdie gesprek tuishoort. Daar is nie nou duidelikheid oor presies hoe al die gesprekke en die integrasie gaan lyk nie, maar dit is belangrik dat gesprekke op streekvlak voortgaan … soos een dit gestel het “ons gaan ’n vliegtuig bou terwyl ons vlieg”, is Van der Merwe se pleidooi.

Verder sal die Taakspan Missionale Diakonaat ’n werkgroep vorm in samewerking met die KMDR en die Hugenote Kollege om gesamentlike ruimte te skep waar alles op die tafel gesit kan word, nie net teologie nie, het ds Nioma Venter, as PSD aan die hoof van dié taakspan en ondervoorsitter van die Algemene Sinode, ter afsluiting gesê.

In reaksie op Kerkbode se navraag hoe sy voel oor die dag se gesprekke antwoord Venter, self voorheen ’n maatskaplike werker, as volg: “Die nood daarbuite is geweldig groot en … die sosiale uitdagings van ons land is kompleks en ons kan nie as kerk meer geïsoleerd hierop reageer nie. Ek dink die intensie om goed te doen en die hele geskiedenis van barmhartigheidswerk in ons land is fenomenaal, maar ons is in ander tye. Die kerk is kleiner. Die uitdagings is meer kompleks en ons het hierdie geweldige geskenk in die kerk van ’n groot aantal maatskaplike werkdiensorganisasies en dit het tyd geword dat ons mekaar net beter leer ken as vennote.”

Word 'n vriend van Kerkbode