Vraag en antwoord: Chris van Wyk

Ná sy onlangse dispuut met die Menseregtekommissie (MRK) oor ’n klag van haatspraak was niemand meer verbaas as dr Chris van Wyk om as voorsitter van die Oos-Kaapse sinode herkies te word nie. Kerkbode stel ’n paar vrae aan die gesoute dóg omstrede kerkleier wat tot onlangs gedink het hy tree oor twee jaar af.

  1. In ’n tyd waar selfdegeslagverhoudings, dolerende gemeentes én gemeentes in geldnood almal om lugtyd meeding, wat sien jy as die grootste uitdaging vir die NG Kerk?

Ek het dáár (by die Oos-Kaapse streeksinode in Oktober) die vraag geantwoord en ek gaan dieselfde hier sê vir Kerkbode. Ek dink die grootste uitdaging vir die NG Kerk is die heersende kultuur van identiteitspolitiek en alles wat dit inhou. Ek het ’n baie oulike artikel gelees van Carl Trueman, “Failure of evangelical elites”, waarin hy sê daar is twee versoekings vir die kerk in reaksie op hierdie heersende kultuur, onttrekking of omhelsing.

Die probleem van ouens wat onttrek van kultuur is dat hulle eintlik laer trek rondom dogmatiese en morele kwessies en dan baie keer, nie altyd nie, die kultuur aanval. Die gevolg is dat die gelowiges wat hulleself so onttrek, hulleself eintlik isoleer van juis dié mense wat die evangelie moet hoor. Die probleem van die onttrekkers is nie dat hulle die dogma of etiek handhaaf nie, maar hulle strategie is nie die een van sout en lig in die wêreld nie.

Die probleem van die mense wat die kultuur omhels is dat kompromie gemaak word rondom morele kwessies wat die boodskap van die geloof verswak. Trueman skryf baie keer het diegene wat die kultuur omhels dan probleme met diegene wat daarvan onttrek. Hulle gaan staan aan die kant van die kultuur en raak vyande van die onttrekkers. Hulle val nie die kultuur aan nie, hulle val baie keer ander Christene aan. Dit gebeur nie oral nie maar dit is ’n versoeking. Hulle wil hulleself aanvaarbaar maak vir die heersende kultuur.

Carl Trueman haal ’n ander skrywer, James Hunter, aan oor ’n teologie van “faithful presence”. Ons word geroep tot ’n “faithful presence”. Beide die onttrekkers, wat getrou wil bly aan die boodskap wat ons in die Skrif het, hulle moet “present” of dáár wees waar die gesprekke gevoer word; en dieselfde vir mense wat die kultuur omhels, hulle moenie ontrou raak aan die boodskap wat ons het nie, maar hulle moet ook “present” wees.

Ek hoop dat die kerk sal leer om hierdie versoekings te weerstaan en “faithful present” ook teenoor mekaar te wees. In woord en daad getrou aan die waarheid. Met ’n liefde vir die waarheid maar in die wêreld en by die wêreld, want ek dink dan kan God ons werklik gebruik as ’n “faithful presence” in die wêreld.

LEES OOK: Chris van Wyk terug in leierskap na trekking by streeksinode

  1. Hoe sien jy jou rol as leier van ’n streeksinode? Verduidelik asseblief vir lesers by die huis wat daardie posisie se funksie is.

My rol is dié van voorsitter van vergaderings van die sinode, spanleier van die ander leiers, en verteenwoordiger van die sinode op breër verhoë soos die Algemene Sinode, weereens saam met ander leiers. In terme van die uitdaging van identiteitspolitiek, is my rol om ’n “faithful presence” te fasiliteer.

  1. Jy was in senior leiersposisies in die kerk. Verduidelik vir diegene wat nie daaraan blootgestel is nie, wat dit uitdagend of bevredigend maak.

Dit is uitdagend om uiteenlopende belange en behoeftes te bestuur. Veral agter die skerms. Dit is dan ook juis dít wat bevredigend is as sinergie bewerk word in die sisteem en ons dit reg kry om kragte saam te snoer om ’n verskil te maak.

  1. ’n Mens hoor soms mense sê hulle herken nie die NG Kerk wat hulle ken wanneer hulle daaroor in die media lees nie … Is dit ook jou ervaring en beskryf asseblief die NG Kerk wat jy ken, indien dit wel die geval is dat jy glo daar is goed wat sogenaamd “underreported” is – nie algemene kennis is nie?

Die media fokus vandag amper hoofsaaklik op konflikte en krisisse in die kerk. Veral die verskille in die verstaan van Skrifgesag en Skrifinterpretasie. Die regsinnige en vrysinnige strome in die NG Kerk. Die verskille kom egter al twee eeue lank voor in die NG Kerk. Dit is nou net meer in die kollig. En dit skrik mense af.

Die NG Kerk in terme van sy gemeentes is egter anders. By ons onlangse sinodesitting het ons genoeg tyd gegee vir stories op grondvlak. Wat daar uitstaan, is innovasie en betrokkenheid, deernis en omgee. Die hoeveelheid barmhartigheid van ons gemeentes in die gemeenskap is eenvoudig verstommend. Die evangeliese uitreik van ons gemeentes het egter verstadig. Dit is nie net weens Covid-19 nie. Dit is asof ons kerk ’n bietjie geïnhibeerd geraak het om die evangelie van Jesus Christus aan alle mense te verkondig. Dié dinge moet meer in die kollig kom.

  1. Jy was self verras oor jou verkiesing, het jy vroeër aan my genoem. Hoe voel jy nou daaroor? Wat het verander sedert ons gesels het?

Ek was verras. Is steeds verras. Die Here het geroep. Ek vertrou dat Hy voor sal stap.

Meer algemeen

  1. Verduidelik asseblief wat Skrifbeskouing is … Wat beteken die konsep en sou jy jou eie Skrifbeskouing op ’n manier wou/kon opsom?

Skrifbeskouing is jou idee van wat die Skrif is en watter gesag dit dra. In die breë is daar twee strome. Dié wat die Bybel as die Woord van God beskou. Vir hulle het die Hele Skrif Alleen gesag – Tota et Sola Scriptura. En dié wat die Bybel as woorde van mense oor God beskou. Vir hulle het die Skrif net gesag as die uitsprake van die Skrif steeds as relevant vir vandag beskou word.

Ek beskou die hele Skrif as die Woord van God. Ek lees dit grammaties-histories. Ek verklaar Skrif met Skrif. Byvoorbeeld oor vroue lees ek die Skrif self in sy konteks om by my standpunt uit te kom oor vroue in die amp. Dieselfde geld my standpunt oor slawerny en enige ander saak in die Skrif. Want die Skrif is die norm van die norme, soos ons belydenisskrifte dit uitlê.

  1. Hoe sien jy die rol van Kairos Netwerk ten opsigte van strukture soos die AS en gemeentes?

Ek dink die Kairos Netwerk probeer die Algemene Sinode verantwoordelik hou vir sy besluite. Hulle probeer die Algemene Sinode terugbring by die Gereformeerde Skrifbeskouing sodat die NG Kerk weer met Sola et Tota Scriptura kan werk. En hulle help gemeentes om in die NG Kerk te bly as ’n “faithful presence”.

LEES OOK: ‘Ons wankel nie in belydenis’ – Nelis

  1. Wat dink jy van die verskynsel van dolering? Is dit ’n sinvolle “meganisme” of roete van aksie na jou mening?

Dolering is eintlik die enigste opsie op die oomblik as jy verskil van die rigting wat die NG Kerk inslaan. Van die honderde gravamina en beswaarskrifte die afgelope paar jaar is net enkeles ter tafel geneem, bespreek en tot besluitneming gebring. Die ervaring is dus dat dié wat verskil nie gehoor word nie. Die dolerendes handhaaf ’n “faithful presence” in die NG Kerk. Hulle kan nie geïgnoreer word nie.

Hoe staan sake nou met die Menseregtekommissie?

  1. Daar is destyds ’n klag van haatspraak teen jou gelê by die MRK; later is dit teruggetrek, soos jy in jou verklaring uitgewys het. Kan jy bevestig dat daardie hele saak nou iets van die verlede is?

Ek het nie verdere kommentaar daarop nie.

  1. Jy het nie van jou hart ’n moordkuil gemaak met die verklaring deur jou regspan nie en Nelis het na dese jammer gesê. Het julle ooit verder oor die saak gesels en kan jy dalk iets sê oor jou eie reaksie op Nelis se apologie?

LEES OOK: ‘Ek is jammer vir pyn’ – Bartlett aan Van Wyk

Ek het Nelis lank voor die openbare verskoning al vergewe. Die saak is wat my betref afgehandel.

  1. Hoe sou jy die verhouding tussen jou en Nelis Janse van Rensburg beskryf?

Ek en hy is klasmaats en het nog altyd ’n goeie verhouding gehandhaaf.

Die gay-debat en die pad vorentoe vir die kerk

  1. Die sogenaamde gay-debat is steeds aan die gang in die NG Kerk. By die Algemene Sinode van 2019 is daar besluit dat daar wel kerkrade en predikante is wat hulle weg oop sien om burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag te bevestig. Die Algemene Sinode het ook ruimte bevestig vir dié wat nie ten gunste van sulke verbintenisse is nie. Kan jy verduidelik hoekom hierdie besluit soveel spanning in die kerk veroorsaak en wat jou eie benadering tot die onderwerp is – beide teologies en gewoon pastoraal?

Die spanning lê in ons verstaan van Skrifgesag en Skrifgebruik. Die regsinniges in die kerk beskou die afwysende uitsprake in die Skrif en die belydenisskrifte as steeds bindend. Die vrysinniges in die kerk beskou dit as tydsgebonde en nie meer van toepassing nie.

Ek kan dit verduidelik aan die hand van ’n tapisserie wat uit verskillende drade bestaan. Die regsinniges sê, elke draad in die tapisserie is van waarde en moet in die interpretasie van die Skrif gebruik word sonder om enigiets weg te laat of te vervang. Die vrysinniges sê, alle drade in die tapisserie waarmee ons verskil, moet uitgerafel en vervang word met ons eie idees sodat ons ’n nuwe tapisserie het.

My teologiese benadering is in die regsinnige stroom. Dat ons die Skrif moet interpreteer soos dit aan ons oorgelewer is. Dat ons nie ’n enkele deel van die Skrif deur historiese of ideologiese kritiek moet verander of verwerp nie. Hierdie benadering moet ons etiek vorm. Ons moet die lewe deur die bril van die Skrif lees. Nie die Skrif deur die bril van die lewe nie.

My pastorale benadering is dat ons op reis gaan met mense. Ek doen dit my hele lewe lank. Mense het nodig om God in die Here Jesus as Verlosser te ontmoet. Hulle het nodig om God in die Heilige Gees as Heiligmaker te ontmoet. Sodat hulle al hoe meer na die beeld van God verander kan word (Romeine 8 is die fondasie vir hierdie standpunt van my). Alle gelowiges is reisgenote op die pad van heiligmaking. ’n Gemeenskap van gelowiges op reis met God na ons ewige bestemming.

  1. Jy het genoem aan my dat een van die grootste probleme wat gelowiges het is dat ons doodgewoon nie luister nie – dat ons eintlik luister om te kan antwoord en nie luister om te kan hoor nie. Hoe kan ons dan beter hiermee doen?

Om tyd te spandeer. Om nie te onttrek nie. Om “faithfully present” letterlik vir mekaar daar te wees. Ek het dit baie keer ervaar in die kerk dat daar sulke ruimtes was. Ek was deel van die Seisoen van Menswaardigheid en het ook boeke geskrywe daaroor (met verwysing na Saam op pad wat ook in Engels vertaal is).

Maar nou is dit asof die kerk die ruimte toegemaak het vir alles om op die tafel gesit te word en dan gaan ons mekaar nooit vind nie. Ek glimlag soms ’n bietjie as ek hoor mense praat van die kerk as ’n ruim huis, want ek ervaar dit is net ’n ruim huis vir dié wat ’n spesifieke standpunt het. Ons sit met regsinnig en vrysinnig in die kerk en ’n hele klomp tussenin … hulle moet almal om die tafel kom sit. Hulle moet almal kom sit en gesels. Ek sal graag wil hê dat dit gebeur. Dat daar inderdaad ’n ruim huis is vir almal. Ek dink ons doen mekaar ’n onguns aan deur dit nie te doen nie.

Word 'n vriend van Kerkbode

2 thoughts on “Vraag en antwoord: Chris van Wyk

  1. Stefaan de Jager says:

    Die fyn balans tusse om in die wêreld maar terselfdertyd nie van hierdie wêreld te wees nie, word hier verhelderend deurgegee. Die gevaar vir regsinniges is dat hulle nie genoeg verreken dat hulle in hierdie wêreld teenwoordig moet wees nie. Die gevaar vir die vrysinniges is dat hulle nie genoeg verreken dat hulle nie van hierdie wêreld is nie.

  2. Manfred Johannes says:

    Baie dankie vir die onderhoud. Ek is nie ‘n lid van die NGK nie, maar intens bemoeid met die verstaan van die diversiteit in seksuele gedrag van mense, ook as lidmate van die gemeente.

    Die volgende artikel werp lig op die onderwerp: https://www.ncbi.nlm.nih.gov/pmc/articles/PMC3296090/ en maak wetenskaplike vasstelling, asook inligting oor eksperimente wat gedoen is in die verstaan van die onderwerp.

    In die eerste geloofsartkel van die apsotoliese geloofsbelydenis het ons van kleisaf in die Lutherse Kerk geleer dat (ek haal die engelse weergawe aan):

    I believe in God, the Father Almighty, Maker of heaven and earth.

    What does this mean? I believe that God has made me and all creatures; that He has given me my body and soul, eyes, ears, and all my members, my reason and all my senses, and still takes care of them. He also gives me clothing and shoes, food and drink, house and home, wife and children, land, animals, and all I have. He richly and daily provides me with all that I need to support this body and life. He defends me against all danger and guards and protects me from all evil. All this He does only out of fatherly, divine goodness and mercy, without any merit or worthiness in me. For all this it is my duty to thank and praise, serve and obey Him.

    This is most certainly true.

    God created me and all creatures – Wat beteken dit vir die mense wat tussen die 7 de en 11 de week van swangerskap “probleme” met die ontwikkeling van die endokrinesisteem ondervind het?

    Hoe gaan ons as gemeente en as kerk met die situasie om? Moet ons nie kennis neem van die gegewe dat – net soos Christus waaragtige God en waaragtige mens was – die Bybel ook waaragtige Goswoord en waaragtige mensewoord is?

    Ek soek hier hulp…..

    Wees geseënd…

Comments are closed.