Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Pa staan op die preekstoel in sy toga, met sy arms in die lug, sy handpalms oop, besig om die seën oor die gemeente uit te spreek. Foto: Verskaf

Om met meer genadige oë na die wêreld te probeer kyk


Nou die dag kom ek weer af op die foto wat ek een Sondagoggend met my Kodak Instamatic-kameratjie van Pa in die kerk op Naboomspruit geneem het. Dit lê hier by my op my skryftafel.

Daar staan Pa op die preekstoel in sy toga, met sy arms in die lug, sy handpalms oop, besig om die seën oor die gemeente uit te spreek.

Dit was nie ’n gewone oggenddiens nie, agter Pa op die gallery is ’n tamaai blommerangskikking, wat met linte verbind is met twee kleiner rangskikkings weerskante van hom op die preekstoel. Dahlias. Krisante. Angeliere.

Wat dié Sondag in die gemeente gedenk of gevier is, weet ek nie meer nie. Dit is meer as veertig jaar gelede, ek was op laerskool, twaalf jaar oud, dalk dertien.

LEES OOK: Oor skinder, swyg en stilte

Ma het die blomme gedoen, dít kan ek met sekerheid sê. Ma was ’n kunssinnige vrou, daardie drie mooi rangskikkings was haar werk.

Ek was tóé al lief vir foto’s neem en Ma wou hê ek moet die rangskikkings ná die diens afneem, maar toe Pa die seën uitspreek, die klein Instamatic in my baadjiesak, toe vat ek die kans en neem Pa ook sommer uit die pastoriebank heel voor in die kerk af – só vinnig dat die foto heeltemal uit fokus is.

Die ander mense in die kerk se oë is nou mos toe terwyl Pa bid en die seën uitspreek, hulle sal nie sien hoe neem ek die foto nie, het ek geredeneer. (Nooit ooit sou Pa vir my vir só ’n foto geposeer het nie.)

Hoekom ek ’n foto van Pa wou neem wat die seën oor die gemeente uitspreek, kan ek nie presies sê nie. Miskien was ek net ’n vreemde kind. Ek het dikwels aan die einde van ’n diens op ’n Sondag my oë oopgemaak en gekyk hoe Pa bid en die seën uitspreek. Dit het gevoel of Pa dit namens die Here doen – en ek wou dit sien.

Maar nou is ek middeljarig en glo nie meer alles oor God, die kerk en godsdiens wat ek as ’n kind geglo het nie. Sedert ek daardie foto van Pa geneem het, het die lewe en die volheid daarvan met my gebeur. Jy beleef hartseer, ontugtering, trauma. Diep depressie. Jy begin ernstige skrywers se boeke lees, jy neem kennis van wat wetenskaplikes oor die aarde, die ontstaan van die mens en ander belangrike dinge sê. Jy begin vrae vra. Ook oor God. Jou wêreld word oper en wyer, en ook meer vol onsekerheid en twyfel.

“If you believe at fifty what you believed at fifteen,” skryf Christian Wiman, die Amerikaanse digter en essayis, “then you have not lived – or have denied the reality of your life.”

Eintlik het Paulus dit lankal gesê: “Toe ek ’n kind was, het ek gepraat soos ’n kind, gedink soos ’n kind, geredeneer soos ’n kind. Maar noudat ek ’n man is, is ek klaar met die dinge van ’n kind” (1 Kor 13:11).

LEES OOK: Oor onthou en vergewe … Dana gesels met Reggie Boesak

Ek het toenemend die begeerte om duidelik te skryf en te praat oor wat dit is wat ek glo, maar ek kan nie meer met die sekerheid van ’n vyftienjarige allerhande selfvoldane uitsprake oor God maak nie. Ek kan nie, sê maar, in hierdie tyd iets sê soos: Ek gaan my nie laat inent teen die Covid-19-virus nie, God is my entstof. Ek is skepties oor iemand wat sê God het dit of dat vir hom of haar gesê of hierdie of daardie profesie gegee.

Dit is nogal gepas vir my dat hierdie foto van Pa op die preekstoel só uit fokus is dat ’n mens skaars kan sien op die kanselkleedjie voor hom staan: “Luister, en julle siel sal lewe” (Jesaja 55:3).

Dikwels raak God heeltemal uit fokus in my lewe. Soms voel dit vir lang rukke of Hy heeltemal weg is.

Soms luister ek en al wat ek hoor is die stemme van die bedelaars en die armes en dié wat vermoeid en belas is rondom my.

Christian Wiman, ’n gelowige man, skryf ook: “… for faith in God is, in the deepest sense, faith in life …”

Soms voel dit vir my asof al manier waarop ek my siel kan laat lewe is om met meer genadige oë na die wêreld te probeer kyk, om nie knaend te wil oordeel, vergelyk en ander se menslikheid te verskraal nie, om vriende te probeer sien in hulle wat soos vyande lyk, en om my eie gebrokenheid in ander s’n te herken. Maklik is dit nie.

Oor al sulke dinge dink ek terwyl ek na hierdie foto van Pa sit en kyk.

Ek is bly ek het dit weer ontdek. Daar is iets gerusstellend om Pa so te sien staan met sy arms in die lug en my te verbeel ek hoor hom sê: “Ek groet jou in die naam van Jesus. Mag daar vir jou genade wees van die Here en mag die liefde van God en die Heilige Gees met jou wees en bly. Amen.”

Vriende van Kerkbode

Ons benodig jou ondersteuning om ons digitale reikwydte te vergroot deur woord, video en die Kerkbode-podsending…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.