Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Talitha Conradie sien die pandemie as avontuur. Foto: verskaf
Talitha Conradie sien die pandemie as avontuur. Foto: verskaf

‘Die kanse is goed dat God ’n ander plan vir jou het’

Marileen Steyn in gesprek met Talitha Conradie

Talitha het die laaste jaar van haar internskap* by die NG gemeente Goodwood met ’n behoorlike “wedstrydplan” betree.

“En toe flop dit!”

Nuut

In plaas daarvan dat die jaar volgens dié plan verloop het, het dit ’n jaar geword waarin haar oë oopgemaak is.

Dit was ’n jaar waarin die gemeente kon bestek opneem. Waarin sy en haar kollegas daaraan herinner is dat die kerk God se saak is.

Die pandemie het juis alle kerke genoop om te vra of kerkwees deur eie motiewe geskied, of vanuit ’n sensitiwiteit vir God se stem. Talitha reken dat die pandemie gelowiges laat besef het dat die kerk nie bloot “vier mure” is nie. En dit het die hoop laat opvlam dat daar inderdaad nuwe maniere van verhoudingsbou is, en moontlikhede vir ’n nuwe verstaan van die manier waarop Christene leef.

“Ons moes onthou dat dit nie oor die kerk gaan nie, maar oor die hoop wat God bring,” sê sy. “Hoop is om te vra waar die toekoms is, hoe dit lyk en … of dit enigsins daar is.”

Sy glo God gee hoop deur aan die mens die geleentheid te bied om nuut en anders te dink. “Ons moet daardie geleenthede aangryp om hoop te kan sien.”

Agter maskers

As ’n getroude persoon het Talitha haar in die grendeltyd afgevra hoe sy dit sou beleef – en hoe sy sou oorleef – as sy dié tyd alleen sou moes deurmaak. Daarop het sy besluit om dagstukkies uit te stuur en gemeentelede só te motiveer.

Sy vertel sy het dit wel moeilik gevind om mense te bemoedig, aangesien kontak noodgedwonge beperk moes word. Selfs waar mense wel kontak met mekaar gehad het, het hulle met metaforiese maskers rondgeloop en nie altyd hul behoefte aan geestelike motivering of pastorale sorg gewys nie. “Daarom was dit maklik om geïsoleer te leef en soos ’n mislukking te voel.”

Balans

Talitha beskryf haar belewenis van 2020 as ’n “op-en-af-beweging”. Sy vertel hoe sy ná ’n tyd neerslagtig geword het. Om so depressief te voel, was vir haar uitdagend omdat sy toe erkenning moes gee aan die feit dat sy ongemotiveerd geword het. Dat haar energie op is.

Om te kon voortgaan, het Talitha meer tyd daaraan begin bestee om haar energievlakke op te stoot. ’n Belangrike deel van die nuwe energie het sy juis in die bediening gevind.

Saam met die ondersteuning van haar man het dit haar vorentoe geneem. Selfs in die hitte van die stryd teen die pandemie het daar geleenthede opgeduik, juis om ’n sterker verhouding met gemeentelede te bou.

Was daar vir haar ook meer “ek-tyd”?

Ja, wel. Maar dit het haar dikwels skuldig laat voel.

Tog weet sy dat sy nie skuldig hoef te voel oor rus nie. Dat sy dit vir haarself moes gun, veral omdat dit alte dikwels baie dol gegaan het.

Maar, bely sy, om ’n balans tussen werk, gesinstyd en tyd saam met familie en vriende te vind, was ’n uitdaging.

Perfeksionisme

Ons gesels oor die kompetisie-kultuur, ook by gemeentes en predikante.

Dis ’n feit dat almal nie dieselfde gawes of hulpbronne het nie. Dis wel ook so dat sommiges baie sensitief daaroor is. Sy vertel hoe sy die afgelope jaar hierdie mentaliteit in haarself moes afbreek.

Dis steeds nie maklik nie. Inteendeel. Die druk om relevant te wees, om mense na jou en jou bediening aan te trek, word ál hewiger. “Dis problematies, en dit sal ’n uitdaging bly. Ná die grendeltyd en te midde van ander beperkings moet die kerk immers vasstel hoe om lidmate weer betrokke te kry, en hoe om hulle weer by die erediens te kry.”

’n Deel van haar uitdagings in dié tyd, vertel sy, was haar perfeksionistiese streep. Dié eienskap en die vervaardig van digitale preke is nie ’n goeie kombinasie nie. Op die kansel is daar geen redigeermoontlikhede; met die kamera is dit heel anders.

En Talitha sou ’n preek weer en weer opneem, totdat dit so na moontlik aan perfek was …

Sy moes ook nuut en kreatief oor prediking leer dink, en oor die bediening. “Ek wou tog nie deurentyd oor die virus preek nie!”

’n Reis die onbekende in

Te midde van al hierdie uitdagings was daar ook positiewe dinge: Haar kollegas het haar aangevul en balans gebring.

Sy het wel die ondersteuning van groter strukture in die NG Kerk gemis, veral wat leraarversorging betref. Die voortgesette bedieningsopleiding het haar gehelp en sy het dit baie verrykend gevind. Sy het dit beleef as ’n ruimte waar sy idees kon kry, waar sy self weer gemotiveer kon word.

’n Hoogtepunt was die manier waarop sy saam met haar pa, wat ook in die bediening is, kon werk. Sy het dit baie stimulerend gevind.

Talitha beskou die koronaviruspandemie as een groot avontuur, ’n reis die onbekende in. In hierdie vreemde ruimte is gelowiges terdeë bewus van die grondslag van hul geloof terwyl hulle buite hul gemaksone beweeg.

Die gelowige weet goed daar is ook ander wat saam op hierdie reis vertrek het, wat saam na antwoorde soek. Niemand weet of verstaan alles nie, en dié reis vereis dus vertroue in jou mede-avonturiers.

“Dit maak nie saak wat jou wedstrydplan is nie,” sê Talitha, “die kanse is goed dat God ’n ander plan vir jou het.”

Sy het in dié tyd opnuut besef hoe God sorg, te midde van al haar onsekerhede. Sy het trouens gevind dat sy beter voorbereid was vir baie dinge wat oor haar pad gekom het.

Daarom wil sy sê: “Dis juis as gevolg van die pandemie dat ons kan voortgaan!”

 

*’n Internskap volg op ’n ooreenkoms met ’n gemeente waardeur ’n proponent (’n afgestudeerde teologiestudent wat deur die kerk beroepbaar verklaar is) as leraar bevestig word, en vir twee jaar aangestel word. Die sinode help om ’n internskap te befonds.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top