Johan Cloete en die gemeente sonder ’n dominee

Kerk tussen die Mielielande is ’n gemeente sonder ’n dominee.

Johan Cloete, wat jare lank voltydse dominee daar was, het die oorgang gefasiliteer. Hy vertel hoe hy destyds voor hy die beroep soontoe aanvaar het, eerlik was met die kerkraad, hulle gewaarsku het dat hy vreemde idees het oor kerkwees.

Hy is steeds betrokke by die gemeente, maar nou slegs as kerkraadslid in die agtergrond.

Lees ook: Lig, skadu en die krag van ’n kunswerk

Sy PhD-verhandeling het destyds gegaan oor die algemene priesterskap van die gelowige. Vandag gebeur dit. Gemeentelede in Kerk tussen die Mielielande (voorheen Vereeniging-Oos), neem vandag toenemend self verantwoordelikheid vir die meeste van die take wat ’n voltydse predikant gewoonlik deur die week moes verrig.

Sondae maak hulle gebruik van ’n verskeidenheid van predikers van buite. Johan sê hy het die gemeente belowe dat die kwaliteit van die prediking beter sal word as hy weggaan. Dit is vir hom baie belangrik dat die teologie wat Sondae verkondig word goeddeurdag is, en ’n hele paar dosente van die Fakulteit Teologie in Pretoria preek deesdae Sondae daar.

Kerk tussen die Mielielande is ’n klein gemeente in die noordooste van die Vaaldriehoek. Destyds was dit omring deur landerye, maar nie meer vandag nie. “’n Baie klein, baie teer plantjie,” sê Johan as hy praat oor die pad wat die gemeente gekies het om te stap. Maar daar is ’n paar mooi dinge wat die afgelope tyd gebeur het wat hom hoop gee dat die plan dalk net kan werk.

Verlede Sondag was daar byvoorbeeld ’n man in die erediens wat gelyk het of hy swaar kry en moontlik op straat is. Gemeentelede het hulle spontaan oor hom ontferm, genooi vir die ete na kerk en saam met hom aan tafel gekuier.

Dinge het baie verander, sê Johan.

In 1993 het hy vir die gemeente gesê dat hy ’n naweek weggaan en toe die Sondag voor kerk opgedaag vermom as ’n boemelaar. “Hemel, maar die mense het sirkels om my geloop,” sê hy. “Hulle het my op die ou einde in die kerk in gehad, maar die kollektebord van my weggehou, want hulle was bang ek steel die kollekte! As ek vandag daaraan terugdink en ek dink hoe dieselfde gemeente, al is hulle nou kleiner, vandag optree, maak dit alles die moeite werd.”

Lees ook: Nadia Marais | Die geskenk van vreemdheid

Hy vertel nog ’n verhaal. Net vanaand het hy gehoor van ’n ou in die gemeente wat so moedeloos geword het toe hy siek word, dat hy nie meer kerk toe gekom het nie. Gemeentelede het hom gebel en moeite gedoen. Hy het begin kopkrap oor waarom hulle soveel moeite doen. Sy vrou het gesê: “Die mense is lief vir jou, hulle gee om!” Net daar het hy besluit om van nou af weer eredienste te begin bywoon.

“Dat gewone ouens in ’n gemeente dít kan doen, sommer so in hulle stride, sonder dat daar ’n dominee by hierdie ou gaan huisbesoek doen, en dat hierdie ou die boodskap kry, mense gee vir my om, mense is vir my lief. Wel, dit is die goed wat my laat voel dat hierdie proses die moeite werd is,” sê hy.

Hulle het lank gelede al as gemeente die besluit geneem om te fokus op ’n inklusiewe teologie, wat insluit, met die klem op omgee vir mekaar, vir die wêreld en die ekologie.

Inklusiwiteit in die kerk is iets waaroor Johan persoonlik baie passievol voel. Sy interaksie met twee gay ouens wat vir lank deel was van die gemeente en baie moeite gedoen het met die sang en musiek en ’n klomp ander praktiese goed, het ’n groot indruk op hom gemaak. “Hulle was baie kreatief en het baie opofferings gemaak,” sê Johan. “Een aand nooi hulle ons na ’n Kerssangdiens by ’n gay-gemeente in Pretoria. En daardie aand was een aand in my lewe wat ek nooit sal vergeet nie! Daai gevoel, daai atmosfeer van ‘nie-veroordeling’ is in my gemoed ingebrand. Jy’t veilig gevoel, jy’t tuis gevoel. Ek het gevoel dís hoe kerk moet wees.”

Johan is lankal nie meer ’n dominee by ’n gemeente nie en hy sê hy mis nie een dag daarvan nie. Hy en sy vrou Charlotte, wat ook baie betrokke is by Kerk tussen die Mielielande, woon in Heidelberg vanwaar hy as Sielkunde-praktisyn in privaat praktyk werk. Om een tot een by mense se stories betrokke te wees is iets waaroor hy baie passievol is. Johan is duidelik baie lief vir mense.

Lees ook: Meningsverskil in NG Kerk: ‘Nederige liefde is die sterkste getuienis’

“Die opstanding het vir my geweldige metaforiese betekenis, iets wat ek dink ons baie keer miskyk. Elke keer as iemand uit my kantoor uitstap met ’n stukkie nuwe lig wat hy/sy sien, fan dit iets hier binne my, voel ek dit.”

Dit is iets wat hy ook in sy eie lewe beleef, die wete dat al gebeur wat ook al, dinge weer kan beter word, dat die opstanding weer en weer kan gebeur.

Johan het veral ’n voorliefde vir die Ou Testament. “Ek sukkel maar met Paulus, hy maak my deurmekaar,” sê hy, “maar as ’n kraai vir Elia vleis bring van die Spur se asdrom af, dan verstaan ek God kan partykeer, as jy nie meer kan nie, jou uithelp op maniere waaraan jy nie gedink het nie, én wat ook miskien nie so heeltemal aanvaarbaar is nie.”

Veral Walter Brueggemann se kreatiewe omgaan met die teks het hom al deur die jare baie gehelp.

“In ’n tyd toe die teologiese wêreld maar vir my ’n bietjie dood gelyk het, het hy my baie gehelp, Ferdinant Deist ook. Brueggemann se manier van die Psalms verstaan, dis business as usual, dan val alles plat, en dan is daar ’n opstanding … wel, dis eintlik die Paasnaweek in ’n neutedop,” sê Johan.

Wat energize jou? vra ek.

“Om iets nuuts te leer waarvan ek hou. ’n Ongeskaafde plank! ’n Opset waar ek nuwe moontlikhede kan sien en natuurlik die mense in wie ek my vasloop.”

Johan het ’n werkskamer en ’n spesiale kombuis ingerig waar hy dikwels in sy aftyd werk, mense onthaal of Sondae sommer net saam met Charlotte ’n glas wyn of twee drink. Hy het ’n besonderse passie vir hout- en glaswerk en ons gesels oor hoe goed dit vir ’n mens se siel is om met jou hande te werk, en Carl Jung se observasie: “Often the hands will solve a mystery that the intellect has struggled with in vain.”

Waaraan hou hy vas as dit rof gaan?

“’n Foto van myself toe ek 1 jaar oud was. Elia se kraai. Die moontlikheid van opstanding,” sê Johan.

Teen sy studeerkamer se muur is ’n foto van toe hy een jaar oud was. Daar was trauma met sy geboorte. Johan sê as hy na daai foto kyk en hy sien hoe gelukkig dié weerlose babaseuntjie is, dan dink hy by homself: “Sien, dis altyd weer moontlik om happy te wees”.

Ds Jaco Strydom is verbonde aan die NG gemeente Villieria en die Echo-Jeugbediening.

Word 'n vriend van Kerkbode