Teologiese opleiding in die NG Kerk in die spervuur: Dit is niks nuuts nie

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Teologiese opleiding in die NG Kerk is opnuut in die spervuur.

Aan die een kant word beskuldigings teenoor dosente gemaak dat wat hulle verkondig in stryd is met die leer en die belydenisskrifte van die kerk. Selfs die kuratoria van die verskillende fakulteite word beskuldig dat hulle nie voldoende toesig oor die dosente hou nie. Op sosiale platforms, in vergaderings en in die media word woorde soos dwaalleer en selfs ongeloof kwistig gebruik.

Aan die ander kant is daar ’n onsensitiwiteit en dalk selfs ’n stuk moedswilligheid onder sommige dosente as temas vir konferensies en seminare geformuleer word.

Lees ook | Cas Wepener: Paasviering as passiewe protes

Hierdie gebeure is egter niks nuuts nie. By verskeie geleenthede in die verlede was teologiese opleiding in die NG Kerk in die brandpunt. Een van die bekendste sake wat die kerk geskud het, was die sogenaamde Du Plessis-saak van 1932. Prof Johannes du Plessis was die eerste hoogleraar van die NG Kerk wat van onregsinnigheid aangekla is. Die kuratorium het hom aangekla omdat hy die gesag van die Bybel ondermyn het en omdat hy onderskeid gemaak het tussen die saligmakende en historiese gedeeltes van die Bybel. Hy is in 1932 uit sy amp ontslaan.

Meer onlangs was dit die Hervormingsdaggetuienis wat op 5 November 1980 in Die Kerkbode gepubliseer is, wat groot beroering veroorsaak het. Die akademici wat dit onderteken het was CFA Borchardt, HJB Combrinck, BA Müller, WP Esterhuyse, JA Heyns, WD Jonker, HW Rossouw en AB du Toit. Die Getuienis het onder meer gepleit vir die uitskakeling van liefdelose en rassistiese gesindhede, solidariteit met almal wat deur sosiale praktyke (apartheid) in verhelpbare nood en lyding gedompel is en sigbare kerkeenheid. Terwyl die Getuienis vir sommige ’n ligpunt was, was dit vir ander ’n steen des aanstoots en het dit vinnig tot grootskaalse polarisasie in die kerk gelei.

Lees ook: Daspoort op 100 jaar: ‘Ons bestaan om die Here te aanbid’

Op 4 Februarie is ’n dringende oproep uit die kantoor van die Algemene Sinode in Die Kerkbode gepubliseer waarin gemeentes gevra is om hulle nie aan die verklaring te steur nie. Die storm het egter veral in die destydse Transvaal in so ’n mate toegeneem dat ’n geheime byeenkoms van alle predikante in Transvaal op 23 Maart 1981 op ’n kampterrein by die Hartebeespoortdam naby Brits gehou is. Terwyl talle sprekers die agt teoloë broederlik tereggewys het, het die byeenkoms in ’n triomf vir die Getuienis geëindig toe die 540 predikante wat teenwoordig was, prof Johan Heyns staande toegejuig het.

Hierdie twee voorbeelde – daar is ander ook – maak dit nodig dat persoonlike gesprekke aan die een kant en groter sensitiwiteit vir lidmate aan die ander kant dringend deel van die NG Kerk se reis met teologiese opleiding word. Dit is die Christelike manier om die vlamme van hierdie vuur te blus.

Word 'n vriend van Kerkbode