Neil Büchner, tussen die branders, onder die sterre …

Neil Büchner is ’n musikant, maar ook ’n surfer. Hy raak passievol as hy praat oor branders en die see. Daar is soveel metafore oor die Christenwees en die kuns van die lewe in branderplankry, skryf Jaco Strydom in dié profiel.

“Wat doen Neil Büchner nou eintlik?” Hierdie vraag het ek mense al meer as een keer hoor vra. Gewoonlik wonder en bespiegel almal teenwoordig dan bloot hardop. Niemand is heeltemal seker nie.

Die probleem is Neil is ’n vrye wese, met buitengewoon baie talente en passies, van musiek en kerk en wyn, tot koffie en media en kosmaak en surf – en ’n hele paar ander.

Hy en sy vrou Lettie en hulle drie kinders woon op ’n wynplaas buite Wellington waar Lettie ’n dominee is by die Moedergemeente.

Een van die dinge wat Neil tans besig hou, en waaroor hy erg opgewonde is, is die re-launch van die album In verwondering saam met Helmut Meijer, Louis Brittz en Retief Burger op 19 Mei in Pretoria. Hulle beplan ’n lewendige opname wat daarna op alle digitale platforms beskikbaar sal wees.

LEES OOK: Dissipelskap – 5 dinge wat jy moet ophou doen

En In verwondering is ’n gepaste naam! Die oorsprong van die projek was tien jaar gelede op Sutherland onder die sterre. Die vier van hulle het hulleself destyds vir ’n week lank daar afgesonder om die grootsheid in te asem, saam liedjies te skryf en op te neem.

Ek vra hom oor sy passie vir musiek. Waar het alles begin?

“Ek kon van kleins af, as ek musiek hoor, dit self op klavier uitfigure. As ’n seuntjie het my ma my eenkeer vir ’n skoolkonsert aangetrek soos David Kramer en laat sing, en daarna by ’n klomp ouetehuise in die omgewing laat optree. Later wou ek net rugby speel en surf. Maar toe maak ek my rug seer met rugby en toe het ek weer begin kitaar speel. Op universiteit het ek my eerste liedjie geskryf na ’n vriend my gevra het om hom te help. Sou dit nooit raai nie! Maar daarna het ek geglo in myself en al meer liedjies begin skryf,” vertel Neil.

LEES OOK: Studentwees op amper 60

Tydens sy studentejare op Stellenbosch het Neil vir ’n tyd lank in pubs gesing vir sakgeld en later ook om ’n groter klankstelsel te koop vir sy nuwe band, Merchant Seal.

As hy vandag daaraan terugdink besef hy dat van sy grootste geloofsvorming gebeur het in die sewe jaar wat hy saam met Merchant Seal bedien het.

Neil is ’n musikant, maar ook ’n surfer. Hy raak passievol as hy praat oor branders en die see. Daar is soveel metafore oor die Christenwees en die kuns van die lewe in branderplankry.

“Ek is baie lief vir die see. Dit is net soos hierdie ding wat nooit nié daar was nie. My pa het baie visgevang, en ek onthou as ’n kind het ek dikwels gestaar na surfers en gedink, dit lyk net só amazing. My ma het ’n paddleski en ’n strandsambreel gehad. Ek het eenkeer uitgeroei tot diep in die see, opgestaan op die paddleski, die sambreel oopgemaak en toe ry ek daai ding soos ’n windsurfer al die pad terug! Die wind was gelukkig van die see se kant af! Maar ek dink my pa het daar gesien dat ek ernstig was oor surf of so iets. So toe ek in graad ses was verras hy my met ’n bord op vakansie by Jeffreysbaai. Ek het gesê hulle moet my net los, en binne ’n uur het ek dit reggekry. Ek het gesurf van twaalfuur af tot sesuur en daai aand amper ’n bees opgeëet van die honger, maar van toe af was ek gehook.”

LEES OOK:  ‘Die natuur is ons moeder’ | Jaco Strydom gesels met Fay van Eeden

Daar was ’n paar groot draaipunte in Neil se lewe. Die dag toe hy in sy koshuiskamer gevoel het die Here roep hom om sy talente tot God se eer te gebruik; die dag toe hy en Lettie getrou het, en die dag toe hy besluit het om die korporatiewe bemarkingswêreld te los vir ’n vryskut loopbaan in bemarking en bediening.

Neil het wyd geswot en ’n klomp interessante werke gedoen. Behalwe vir ’n BCom-graad op Stellenbosch, studeer hy digitale bemarking by die Universiteit van Kaapstad en werk onder andere vir ’n tyd lank as ’n bemarker in die wynbedryf.

“Ek onthou dit was op ’n corporate jet van ’n groot besigheidsman, waar ek net gedink het as dít die leer is wat ek moet klim is ek nie seker die leer is teen die regte muur nie! Ek was bly dat ek as ’n jongman kon sien wat ’n mens kan bereik en dat jy baie geld kan maak, maar ek het geweet dis nie vir my nie. Dit het vir my gevoel dis net nie so appealing nie. Selfs toe ek BCom geswot het was dit vir my vreemd dat die mense net die hele tyd praat oor hoe hulle kan geld maak. En dit was eintlik die laaste ding op my radar,” lag hy. “Maar in dieselfde asem is ek ook maar partykeer hierdie worry-pot as daar nie geld is nie! Die Here moes my eintlik soos ’n wilde perd kom inbreek om op te hou worry oor geld.”

Gesels jy met Neil, vertel hy elke nou en dan iets oor sy gesin, hoe belangrik dit vir hom is om ’n goeie man en ’n goeie pa te probeer wees en oral in die gesprek pop sy passie en fassinasie vir Jesus op.

“Die ou Engelse woord vir worship is worthshape (WORTH + SHAPE) wat basies iets sê van ‘being shaped by something of ultimate worth’,” sê Neil. “Jesus help my sien wat alles ultimate worth in my lewe het en bly my shape tot ek word wie die Here my gemaak het om te wees: een met Hom.”

  • Ds Jaco Strydom is verbonde aan die NG Gemeente Villieria en die Echo-Jeuggemeenskappe.
Word 'n vriend van Kerkbode