Hierdie skrywe is deel van Kerkbode se nuwe gespreksforum vir teologiese studente. Hierdie afdeling is in ’n toetsfase. Bydraes word nie voor publikasie deur Kerkbode se proefleser versorg nie.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
“Ons gaan moet praat oor die tieners”, sê iemand vir my. Wat het die tieners nou weer gedoen? Die keer gaan dit oor die tieners wat in die NG Kerk is wat Sondae liewers na ‘n ander kerk se “teenager worship” toe gaan. “Hoekom gaan hulle” vra ek. “Hulle love dit, die musiek!” Dit is goed en wel, “worship” is goed, maar ek het ‘n paar bekommernisse oor dit ook. Ek deel dit hieronder.
Kerkbode: Lees meer oor hierdie nuwe afdeling
As tiener was ek ook getrek na “worship” aande. Ek was mal oor die orkes, die liedere, die ritme was net reg, dit het my so goed laat voel. Ek onthou ‘n aand toe Hillsong in Suid-Afrika was, toe neem my ouers ons om te gaan kyk, dit was wonderlik, dit voel wonderlik. Hier is waar die storie vir my vashaak. Dit voel wonderlik, maar is geloof, ‘n ware geestelike verdieping en lewende verhouding, gevoelens? Dit verbaas my nie dat ons tieners “worship” toe gaan, hulself opsweep, hulself kry om ‘n dieper geestelike gevoel op te wek, en dan sodra hulle uit skool uit gaan en die wêreld hul beetkry, totaal hul Christenskap laat platval nie. Hoekom gebeur dit? Ek weet wat met my gebeur het, jy kry iets wat jou net so goed laat voel of selfs beter laat voel as “worship” (die wêreld is ‘n kundige in die veld).
Geloof wat gebou is op “baie voel” en min dink is baie gevaarlik. Ek is die jeug diensleraar by ons kerk, maar ek is ook ‘n onderwyser. Ek sien baie kinders wat net geen of so ‘n skadu idee het van die Bybel, van kardinale doktrines en dan moet hul nog die post-teïstise wêreld ook trotseer. Wat is die antwoord op hierdie?
Lees ook: Boekbespreking: Jaco Strydom oor God en die grense van mense
Dit is so belangrik om nie ware, diep, dinkende, breinskrum-lesse, klasgee oomblike met ons tieners te verruil vir “worship” nie. Die fondasie moet eers gelê word waarop die kind deur die lewe bou. Ons moet kinders uit die kerk stuur wat die slae van die lewe kan neem met goeie gereformeerde teologie sodat hul vas kan staan in hul geloof in die Drie-enige God wat hul as kind leer ken het. “Worship” het sy plek in die lewe van ‘n Christen, maar “worship” moet nie vloei uit die soeke na ‘n “geestelike oomblik” nie. “Worship” moet liewers vloei uit die ontdek en verstomming van wie God is. Wanneer mens werklik die God van die Bybel ontmoet los dit jou verstom en tree dit so natuurlik oor in “worship”, maar iemand moet die moeite doen en die werk om die “klas” aan te bied.
Ek tik hierdie want dit is vir my ‘n pyn in my sy om te sien hoe ons tieners uitstuur universiteite toe met geen vaste en diep grondslag, en dan kla ons wanneer die eerste slag van die wêreld hul geloof breek of as hul agter kerke aan hardloop met baie ligte, harde musiek en min goeie teologie. Hierdie is my opinie, maar ek dink ons moet minder bekommer om ons kerke “worship centres” te maak wat tieners trek, en baie meer tyd en krag insit om tieners te leer, om tieners te laat verstaan hoekom ons hulle leer (dit is kardinaal) van God en om ‘n sterk fondasie te bou wat hul heel hou in die wêreld.
Tiaan baie dankie vir jou eerlike duidelike en waar skrywe oor tiener en dan ook veral senior kategese toerusting in ons kerk. Hierdie brief was broodnodig – Hillsong, Bethal en Elevation ministries se “worship” songs is maar soms erg verdag in hul skrif getrouheid en teologie en van die ministries is blatant “heretical” in hul dogma.
Ek sal graag wil kontak maak – en n paar gedagtes uitruil – epos my asb by : flyboycapetown@gmail.com – dan gesels ons. Seën vir jou bediening. Coenie