Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Wie is die Persoon in die kern van ons geloofsoortuiging?

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Chris Smith van Westonaria skryf: Hierdie opskrif klink na ’n retoriese vraag, omrede ons almal weet dit is Jesus Christus. Tog is dit nie so eenvoudig nie, want hoe ken ons Hom? Dit is tog deur die Skrif, as Woord van God.

Ek reageer op die skrywe van Christo Benadé van 5 Junie waar hy voorstel dat, “met Christus in die kern van ons geloof, … ander sake op die periferie kom … ons aan mekaar verbind word ten spyte van sekere dogmatiese en etiese sake.”

Dat Christus die diepste band is wat ons saambind, kan tog nie betwyfel word nie. Die vraag is egter: Hoe ken ons die Christus? Dit is tog deur die Woord, soos ons dit verstaan deur die belydenisskrifte. Waarom die belydenisskrifte bybring? Want alle ander denominasies, vanaf Katolieke tot ekstreme Pinksterbewegings, noem ook dat hulle op die Woord staan.

LEES OOK: Kom ons praat oor ‘hartgrondige reformasie’

Indien Christo se benadering konsekwent toegepas word, moet die “ruim huis” ook plek maak vir persone met dogmatiese verskille soortgelyk aan die Katolieke kerk, Lede in Christus, asook sienings vanuit die Afrika Onafhanklike kerke, ens. Hulle glo tog ook in die persoon van Jesus Christus. Dit kan tog nie, want dan verwerp ons die gereformeerde belydenisskrifte.

Dit is interessant dat wanneer die Kerkorde praat oor verhoudings met ander kerke, word die “Woord van God” as die primêre maatstaf en basis gebruik en dan ook “soos uitgedruk in die kerk se belydenisskrifte”, waaronder die gereformeerde belydenisskrifte. Selfs wanneer iemand vanuit ’n ander kerk wil oorkom na die NG Kerk, word dit gebruik as riglyn. Hierdie benadering van Christo wil egter voorstel dat met selfs leraars in die kerk, ’n “ruimer huis” benadering gevolg moet word, maar wanneer lidmate van ander kerke wil oorkom, moet die gereformeerde belydenisskrifte geld. Dit is tog onhoudbaar en inkonsekwent.

Ek wil ’n ander voorstel maak: Tot die kern van ons geloofsoortuiging is die Persoon van Jesus Christus alleen, die Woord alleen, genade alleen, geloof alleen en alles tot Gods eer. Ja, die kenmerk van die Reformasie, naamlik die vyf sola’s. Natuurlik is daar net een liggaam in Christus, en daar moet samewerking met ander kerke wees. Dan geskied dit egter vanuit ons identiteit as NG Kerk. Ons kan tog nie ’n “ruim huis” van alle Christelike kerke binne in die NG Kerk wees nie.

’n “Ruim huis”, wat dogmatiese en etiese verskille insluit, word al meer ’n huis sonder mure of perke.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top